TEN VOLLE OORTUIG VAN GOD SE LIEFDE

David Wilkerson

“Want ek weet in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pant te bewaar tot dié dag toe” (2 Timótheüs 1:12, my kursief). Dit is die woorde van ‘n sterwende man. Die apostel Paulus het sy leerling, die jong leraar-in-opleiding, Timótheüs, aangespreek. Later, in dieselfde brief, het Paulus aan Timótheüs hierdie gewigtige woorde toevertrou: “Want ek word alreeds as ‘n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby. Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Timótheüs 4:6-7).

Hoewel Paulus hierdie woorde aan Timótheüs gerig het, spreek sy boodskap tot elke dienaar van Christus wat groot verdrukking ly. Beskou die konteks: Op die ergste punt van sy eie folterende beproewing – op die randjie van die dood – was Paulus ten volle oortuig van God se liefde vir hom. Verder was hy oortuig van die Here se vermoë om sy “pant [dit wat hy aan Hom toevertrou het] te bewaar” ten spyte van alle bewyse daarteen.

Geliefde, hierdie raad van Paulus is bedoel vir elkeen, wat daagliks deur sataniese magte geteister word in ‘n verwoede geestelike oorlog, waarin hulle groot ontberinge verduur as goeie krygsmanne. Hoe was dit moontlik dat Paulus in staat was om met vrymoedigheid van God se getrouheid in elke beproewing te praat? Presies waarvan was hy so oortuig van die Here, dat dit aanleiding gegee het tot die geboorte van so ‘n groot geloof?

Paulus het nooit uitgespel wat sy “pant” was wat hy aan die Here toevertrou het “tot daardie dag” nie. Ons kan net raai wat dit was. Soos Paulus, moet ons egter ook ten volle oortuig wees van God se getrouheid, om daardie dinge wat ons aan Hom toevertrou het, te bewaar. Om inderdaad ons beproewings in hierdie moeilike dae te trotseer, is moet ons ten volle oortuig wees dat Jesus ons Here en ons Verlosser is.