TEKENS VAN DIE KOMS VAN CHRISTUS

David Wilkerson (1931-2011)

“Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid — dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie. Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ’n dief sou oorval nie” (1 Thessalonicense 5:3-4).

Tans is die wêreld in soveel onrus gehul, dat mense vra, “Spin die wêreld buite beheer? Sien ons die doodsnikke van die geskiedenis?” Ons verstaan nou wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het: “En daar sal...wees...benoudheid van nasies in hulle radeloosheid...en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Lukas 21:25-26).

Toe Jesus daardie waarskuwing gegee het, het Hy hierdie stelling bygevoeg: “En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (21:27-28). 

Al die verskriklike dinge wat ons sien kom oor die aarde op hierdie huidige tydstip, het te doen met die koms van Christus. Bo die hewige donkerheid wat die aarde bedek, vorm daar ‘n wolk in die hemel, en eendag binnekort, gaan Christus daardie wolk binnegaan en Homself aan die hele wêreld openbaar. “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur” (21:31).

Die Christene in Paulus se tyd, wou hê hy moes skryf oor profetiese tye en Paulus het gereageer “dat die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God” (1 Thessalonicense 4:16). Hy het verder gegaan, die gebeurtenis beskryf en toe het hy gesê, “Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (4:18).

Paulus se vermaning was bedoel om ‘n bemoediging te wees. Net so, vandag, moet ons nie bekommerd of te veel begaan wees oor huidige gebeure nie omdat ons goed weet dat dit alles dui op die koms van die Here Jesus om sy kinders weg te neem.

Toe Jesus gesê het, “Hef op julle hoofde” (Lukas 21:28), het Hy bedoel dat ons ons fokus op Hom en sy spoedige terugkeer moet hou! Voorwaar, dit is ons wonderlike hoop!