TEKENS VAN DIE EINDTYE

David Wilkerson

In sy eerste brief aan die kerk, het Petrus sonder om doekies om te draai oor die laaste dae gepraat: “En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid. Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek” (1 Petrus 4:7-8).

Petrus noem ook die laaste dae in sy tweede brief, waar hy vir die kerk sê, “Omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is” (2 Petrus 1:14). Hy sê met ander woorde, “God het vir my gewys dat my tyd op aarde kort is.”

PETRUS SE WAARSKUWINGSBOODSKAP

Petrus se boodskap was bedoel vir die Nuwe Testamentiese kerk, beide vir die tyd waarin hy dit geskryf het en vir elke opeenvolgende geslag van gelowiges. Dit is ‘n waarskuwingsboodskap, want Petrus het die volgende geprofeteer:

“Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer” (2 Petrus 2:1).

“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:3-4).

“En veral die wat die vlees in vuile begeerlikhede agternaloop en die heerskappy verag. Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie” (2 Petrus 2:10).

DIE DAG VERHAAS

“Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag” (2 Petrus 3:10).

“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt” (2 Petrus 3:11-12).