SY SOEKLIG

Gary Wilkerson

As jy voel God praat met jou hart oor iets wat Hy vir jou voorberei het – miskien ‘n wandeling wat jy nog nooit tevore geken het nie, of die vervulling van ‘n jarelange belofte – kan ek vir jou met gesag sê, “Maak gereed om jou hart te ondersoek ”

Miskien het jy groot seën beleef en jy het geloof dat ongeag hoe goed dinge gaan, die beste kom nog. Dit is jou geloof wat praat – die soort geloof wat sê God se visie is altyd groter as ons drome. Toe God ons geroep het om die kerk wat ek nou lei te begin, het ons geen idee gehad hoe Hy ons sou gebruik nie. Maar nie ‘n week het verbygegaan sonder dat iemand sy of haar lewe vir Jesus gegee het nie. Wanneer ons kos uitdeel aan die armes, word ons dikwels gevra, “Waarom doen julle dit?” Ons antwoord, “Dit is as gevolg van Jesus,” en baie gee hulle lewens vir Hom.

Dit alles gebeur op wonderbaarlike wyse. Mense vind Hom en ontwikkel dan vinnig tot getroue, volwasse dissipels en groei in hulle kennis van God. Dit is wonderlik om te sien! En ek glo groter dinge moet nog kom. Ek is oortuig dat God Homself selfs nog kragtiger sal openbaar – nie slegs met bekerings nie, maar ook met uitreike, met hulp aan die armes en om ‘n impak op die stad te maak. 

Maar hier is die moeilike deel: Dikwels, net wanneer ons gereed staan op die randjie van God se grootste werk in ons lewens, vra Hy ons om ons harte te ondersoek en te dink aan wat Hy in ons wil doen. Ons word dan selfs meer bewus dat ons geregtigheid soos ‘n besoedelde kleed is en dat ons Sy genade nodig het.

Ek wil hê dat niks in my lewe verhinder wat Hy vir my begeer nie en ek is seker jy voel dieselfde. Ondersoek jou hart vandag en laat Hom Sy soeklig van oortuiging van sonde skyn op enige gebied wat Hom mishaag. Bekeer jou en ontvang Sy genade en juig dan terwyl jy die wonders sien wat Hy in jou en vir jou sal doen!