SY GOEDERTIERENHEID IS BETER AS DIE LEWE

David Wilkerson (1931-2011)

Hier is een van die mees aangehaalde en gesingde verse in die hele Woord van God: “Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys” (Psalm 63:3). Jy mag dalk vra, “Wat beteken dat sy goedertierenheid beter is as die lewe?”

Die lewe is in werklikheid kort. Dit vergaan soos gras wat daar is vir een seisoen en teen die volgende is dit weg. God se goedertierenheid duur tot in ewigheid. ‘n Miljoen jaar van nou af, sal Jesus steeds so deernisvol en liefdevol wees soos wat Hy nou is. Ander kan jou lewe van jou af wegneem, maar hulle kan nie God se goedertierenheid wegneem nie.

Dink vir ‘n oomblik hieraan: God is nie vir jou kwaad oor jou mislukking nie. As jy gereed is om jou sonde te laat vaar, kan jy vergewe en herstel word op hierdie oomblik. Die Woord van God sê dat niks tussen ons en ons Here kan kom nie – geen sonde, geen skuld en geen veroordelende gedagte nie. Jy kan sê, “My lewe is ‘n seën vir die Here. En ek is in staat om blydskap te hê en Hom te loof. Ek is rein, vrygespreek, vergewe, geregverdig, geheilig, verlos.”

Dit maak nie saak hoe erg diegene rondom ons gesondig het nie. God het almal steeds lief. Dit is waarom Hy sy Seun gestuur. En ons behoort dit aan die wêreld te verkondig!

Dawid het getuig, “Van u trou en u heil spreek ek. U goedertierenheid en u trou verberg ek nie vir die groot vergadering nie” (Psalm 40:11). Dit is sy begeerte vir ons almal.

Jy het ‘n liefdevolle, deernisvolle Vader wat vir jou omgee. Hy het elke traan wat jy al ooit gestort het, opgevang. Hy sien al jou behoeftes en ken al jou gedagtes. En Hy het jou lief! As jy net kon begryp hoeveel deernis Hy teenoor jou het – hoe geduldig, besorgd, gereed om te vergewe en te seën Hy is – sou jy jouself nie kon inhou nie. Jy sou jubel en juig totdat jy geen stem meer oor het nie: “Sy goedertierenheid is beter as die lewe!”