Sy Bonatuurlike Vuur

David Wilkerson

Jesaja het uitgeroep, “Here, U is ons Vader en ons is almal U kinders! Openbaar Uself en raak ons weereens aan” (sien Jesaja 64:8-9).

Eeue later, is dieselfde roepstem gehoor onder ‘n ander oorblyfsel – die 120 gelowiges wat in ‘n gehuurde kamer in Jerusalem bymekaargekom het. Dit was ‘n tyd baie soos Jesaja s’n – ‘n tydperk van groot godsdienstige waarneming met menigtes wat van oral af na die tempel in Jerusalem gestroom het. Daar was groot vertoon en die sinagoges het met godsdienstige mense gewemel. Die mense het egter belangeloos bloot die rituele nagevolg.

Jy mag wonder, “Hoe kan dit wees? Dit was die geslag wat die vurige prediking van Johannes die Doper gehoor het. Dit was die geslag wat God in die vlees gesien het – Jesus – wat tussen hulle gewandel het en wonderwerke gedoen het.” Tog was hulle leweloos, dor en leeg.

Jesus self het oor hierdie hoogs godsdienstige mense geween. Hy het uitgeroep, “Julle het die gedaante van godsaligheid en julle gaan rond en doen liefdadigheidswerk. Maar van binne is julle dood.” Hulle was nie aangeraak deur die wonders en tekens wat Jesus verrig het nie. Hulle was nie aangeraak toe Hy duiwels uitgedryf het en mense, wat vir jare demoniese bindings gely het, verlos het nie. Op die ou einde, het hulle Hom verwerp en weggedraai van God se aanbod van genade.

Die Here gee egter nooit moed op met sy kinders nie. Jesus het teenoor sy 120 dissipels geprofeteer, “Ek gaan my Gees op alle vlees uitstort.” Om hulle hiervoor voor te berei, het Hy hulle beveel, “Gaan na Jerusalem en wag daar totdat Ek kom.”

Christus se boodskap aan sy volgelinge was in wese die volgende: “Wanneer julle saam is, sal vuur uit die hemel op die hele vergadering neerdaal en julle harte sal sag word. My bonatuurlike vuur sal alle berge verwyder – in julle naaste, julle mede-Jode en in alle nasies. Hardheid en ongeloof sal verdwyn en duisende sal in een uur gered word. Die blote noem van My Naam sal menigtes oortuig en onder sondebesef laat kom.”