STIL WEES EN VERTROUE

David Wilkerson (1931-2011)

God se geheim tot geestelike krag word gevind in Jesaja 30:15:  “Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag.”

Die woord vir stil wees in Hebreeus beteken rus – kalm, op jou gemak, vry van alle angs. Nie baie Christene besit hierdie soort stil wees en vertroue wat hier beskryf word nie. Menigtes gelowiges is betrokke in ‘n waansin van aktiwiteite en is in ‘n malle gejaag na rykdom, besittings en plesiere. Selfs in die bediening, jaag God se dienaars rond met bekommernisse, vrese en soek antwoorde in konferensies, seminare en topverkoper boeke. Dit lyk of almal soek na oplossings, leiding en iets om hulle gees te kalmeer, maar hulle soek dit egter by allerhande ander bronne as by die Here. Maar God het reeds ‘n woord deur Jesaja tot hulle gespreek en as hulle hulleself nie tot Hóm wend as hulle bron nie, sal hulle strewes eindig in hartseer en verwarring

Die apostel Petrus praat van “die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God” (1 Petrus 3:4). So ‘n gees het niks te doen met ‘n temperament of persoonlikheid nie; sommige mense is immers natuurlik geneig om kalm en skaam te wees, terwyl ander net die teenoorgestelde is. Nee, die sagmoedige, stille gees waarna Petrus verwys, kan slegs deur die Heilige Gees in ons geplant word. En die goeie nuus is, is dat Hy dit aan almal gee wat die Here ten volle vertrou.

Is jou huis ‘n rustige, vredevolle woning, of is dit ‘n plek van twyfel, angs en rusteloosheid? Wanneer moeilikheid kom, soek jy God eers ywerig voor enige ander bron? Hierdie proses van om op die HERE te vertrou in alle dinge, is nie maklik nie, maar word aangemoedig! Ons Here sê, “Jy het my vertrou met jou saligheid en nou wil ek hê jy moet My vertrou met alles in jou lewe – jou gesondheid, jou familie, jou toekoms. Gee dit alles vir my!” Gaan na jou binnekamer van afsondering en kom alleen by Hom uit en Hy sal al jou behoeftes aanspreek . . . en meer!