STIILE RUS EN VERTROUE

David Wilkerson

Moses was oortuig dat sonder God se teenwoordigheid in sy lewe, was dit vir hom nutteloos om enigiets te probeer. Toe hy van aangesig tot aangesig met die Here gepraat het, het hy verklaar, “As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie” (Exodus 33:15). Hy het in wese gesê, “Here, as U nie met ons is nie, sal ons dit nie maak nie. Ons sal nie ‘n enkele tree gee, tensy ons verseker is van U teenwoordigheid nie.”

Moses het geweet dit was God se teenwoordigheid onder hulle wat hulle onderskei het van alle ander nasies en dieselfde is waar van God se mense vandag. God se teenwoordigheid “met ons,” lei en werk Sy wil in en deur ons. Sy teenwoordigheid dryf ook alle vrees en verwarring uit.

Moses se gesindheid was, “Ons tree slegs op een beginsel op: Die enigste manier vir ons om gelei of regeer te word, om te oorlog te voer en te oorwin in hierdie tye, is om God se teenwoordigheid met ons te hê. Wanneer Sy teenwoordigheid in ons midde is, kan niemand ons vernietig nie. Maar sonder Hom is ons hulpeloos en gereduseer tot niks. Laat al die nasies van die wêreld vertrou op hulle magtige leërs, yster strydwaens en bekwame soldate. Ons sal vertrou op die geopenbaarde teenwoordigheid van die Here.”

God het op Moses se dapper verklaring geantwoord: “Ek [sal] self meegaan om jou die rusplek te verskaf” (Exodus 33:14). Die Hebreeuse woord vir rusplek hier beteken “’n gerieflike, vredevolle vertroue.” God het in wese gesê, “Maak nie saak watter stryd of beproewinge jy beleef nie, jy sal altyd in staat wees om ‘n stille rus en vertroue in My te vind.”