STERKER IN JESUS

David Wilkerson (1931-2011)

Soos God se kinders voortgaan met hulle daaglikse roetines en vorder in hulle wandel met Jesus, kan hulle skielik getref word deur ‘n storm, golwe van moeilikheid wat van alle kante af op hulle neerstort. In Psalm 107:23-26 lees ons van “die wat na die see toe afdaal in skepe” en heen en weer geskud word deur stormagtige winde. Die matrose in hierdie verhaal was so bang dat hulle amper beswyk het (vers 26).

Hierdie manne was eenvoudig besig met hulle take toe die storm losgebars het. Ons behoort op te let dat God self hierdie storm geïnisieer het: “want Hy het gespreek en ‘n stormwind laat opsteek” (vers 25). God het die matrose by hierdie plek gebring waar hulle was en Hy het die die golwe laat opstaan. Dit was alles sý werk!

Christene het ‘n geneigdheid om die duiwel of een of ander spesifieke sonde vir hulle uitdagings te blameer; trouens, dit is vir hulle moeilik om te besef dat God hulle by ‘n plek van worsteling gebring het. Maar ons geloof kan baie versterk word as ons verstaan dat, hoewel alle storms van die lewe deur God verordineer is vir die regverdiges, het Hy ‘n doel met dit alles. “Geliefdes, verlaat julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12-13).

God is nie verbaas oor jou beproewing nie. Trouens, dit gebeur want Hy wil iets in jou hart skep – en Hy wil sy heerlikheid aan jou openbaar.

Wanneer het die storm vir die matrose opgehou in Psalm 107? Wanneer het God hulle na die hawe van hulle begeerte gebring? Volgens die psalmis, was dit toe hulle alle menslike hoop laat vaar het en tot die Here geroep het om hulp.

Hy wil hê jy moet uit jou beproewing kom, sterker in karakter, sterker in geloof, sterker in Jesus. Omdat Hy jou liefhet!