STERK KLAARMAAK

Carter Conlon

Sommige van julle wat die Here al vir ‘n lang ruk ken, mag dalk by die punt gekom het waar jy voel asof jy oorgeslaan word. Jy besit ‘n wye Bybelse kennis, jy ken die Hebreeuse betekenisse van woorde, en jy het ‘n geskiedenis met God. Maar langs jou is ‘n opgewonde Christen wat eenvoudig glo dat alle dinge moontlik is by God. Hy het miskien ‘n kwart van jou kennis, maar hy dring in iets in wat jou lank ontwyk het – iets wat God vir jou gesê het, maar jy kon dit moeilik glo.

Wel, jy moet ‘n keuse maak! Ek weet nie van jou nie, maar ek kies om te lewe en te sterwe aan die kant van geloof. Ek kies om te glo dat God ver bo wat ons kan vra of dink kan doen as ons tot Hom bid. En ek kies om te glo dat as ons nederig voor God sal wandel, Hy iets in en deur ons sal doen wat hierdie geslag sal aanraak!

Het God iets binne-in jou geplant? Het die Heilige Gees in jou hart gefluister? Miskien het die Here vir jou iets gesê – iets wat Hy begeer om deur jou lewe te doen. Jy weet dit, God weet dit, en nou is die tyd om daarmee saam te stem. Daar kom immers ‘n tyd in ons wandel met God wanneer daar nie langer enige verskonings vir ongeloof is nie.

Daar kom ‘n punt wanneer ons God moet vertrou, vasbeslote moet wees om nie op die kantlyn in stilte en ongeloof te sit nie. In plaas daarvan, moet ons God toelaat om God in ons te wees – om te doen wat net Hy kan doen, en ons te lei waar net Hy ons kan neem, en eer aan Sy Naam te bring.

Dit is hoe die kerk begin het, en dit is hoe die Kerk sal eindig voor Christus kom om ons huistoe te neem! Ons het gekom by die drumpel van Sy wederkoms en ons wil sterk klaarmaak, wandelend in geloof en verlangend om Hom te sien! Halleluja!

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.