STAP IN DIE BELOFTES VAN GOD IN

Gary Wilkerson

Toe Josua aangestel is as leier van die Israelitiese nasie, het God hom baie moed ingepraat. “Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” (Josua 1:9).

God sê vir Josua, “Wees vol moed en moenie bang wees nie. Wees sterk want Ek sal jou lei na iets groots.” Noudat Josua gereed was om leierskap op te neem in God se groot plan, sou dinge begin gebeur wat nog nooit voorheen gebeur het nie. Maar Josua moes opstaan en in die beloftes van God betree.

Josua het saam met Moses gewerk, het menigte oorloë gevoer en oorwin want God was met hom. Hy was getrou en gehoorsaam aan God se roeping en Sy rotsvaste geloof het hom in staat gestel om ‘n groot leier te word.

Toe Moses gesterf het, het God gesê, “Josua, dit is tyd!” Hoe opwindend was dit om te hoor dat God sê dit is tyd. Josua het gewag en na veertig jaar van omswerwinge in die woestyn, het hy die vreugde, die voorreg en die geleentheid gehad om vir sy mense te sê, “Ons gaan oorgaan!”

Verbeel jouself om in die Beloofde Land in te loop saam met die kinders van Israel. Wat ‘n vreugde! Dansend en singend voor die Here, “Ons het dit gemaak – uiteindelik. Ons is hier! Halleluja! Na al die jare van wag en wonder, gaan ons uiteindelik die belofte beleef.”

Het jy al gewag vir die vervulling van ‘n belofte van God? Jou stryd was nie net uiterlik nie, maar ook in jou hart. Ek moedig jou aan om te glo dat groot dinge na jou toe sal kom. God sal ingryp in jou omstandighede en jy gaan in jou beloftes instap.

Dieselfde aanmoediging wat God aan Josua gegee het, is ook op jou van toepassing. “Wees sterk, wees vasberade. Die Here jou God is by jou oral waar jy gaan.” Soos jy getrou is aan God, sal Hy getrou wees aan jou.