STANDVASTIG STAAN

David Wilkerson

Paulus het getuig: “In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee...En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid!” (2 Timótheüs 4:16-18, kursief myne).

Toe Paulus die woord maar in hierdie gedeelte gebruik het, het hy bloot bedoel, “ten spyte van.” Hy vertel vir ons, “Here het my bygestaan en my krag gegee ten spyte van al die moeilike tye wat ek beleef het.” Paulus het geweet dat as hy tot die Here sou nader, sou Christus hom eer deur hom by te staan.

Die apostel Paulus het in werklikheid verklaar: “Oral waarheen ek gegaan het, was daar moeilikheid en benoudheid. Toe ander my egter teleurgestel het – toe ek alleen was en net swaar tye kon sien – het die Here na my gekom en sy krag binne-in my geplaas. Hy het my van my vrese gered. Hy het my die versekering gegee dat Hy my van elke bose werk sal bewaar en dat Hy sal aanhou om my te bewaar totdat ek in die hemel kom.”

Paulus was verheug om te sien dat sy geestelike kinders hierdie idee van “ten spyte van” in hulle lewens begryp het. Jaar vir jaar, het Hy gesien hoe die Here hulle versterk om hulle in staat te stel om standvastig te wees te midde van selfs die moeilikste van tye.

Geliefde, jy kan nie hierdie soort versekering en krag op enige ander plek as in die teenwoordigheid van die Here self kry nie. Ons weet dat Paulus in voortdurende gemeenskap met Christus was deur gebed en dat dit is waarom slegte nuus of beproewinge hom nie kon ontstel nie. Elke keer wat Paulus nog ‘n verskriklike beproewing beleef het, het hy na gebed gevlug en na Jesus gehardloop om ontslae te raak van die las in sy hart.