SOOS GOD JOU VERGEWE HET

David Wilkerson (1931-2011)

As jy daarop aanspraak maak dat jy geen vyande het nie, wil ek graag weet hoe jy dit reggekry het om so ver in die lewe te kom sonder dat ‘n enkele persoon jou teëgestaan het. Op een of ander tyd was iemand sekerlik afgunstig op jou en het probeer om jou doelwitte omver te werp of jou planne in die wiele te ry. Trouens, dit is hierdie dinge wat van iemand jou vyand maak.

Natuurlik het elke Christen ‘n aardsvyand in Satan. Jesus sê vir ons dat hy die vyand is wat onkruid in ons lewens saai (sien Matthéüs 13:39). Net so, waarsku die apostel Petrus ons teen Satan: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8).

Jesus maak dit egter duidelik dat ons glad nie die duiwel hoef te vrees nie. Ons Here het ons al die mag en krag oor Satan en sy demoniese magte gegee: “Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie” (Lukas 10:19). Jesus stel dit baie duidelik dat die stryd teen Satan reeds gewen is en dat ons binne-in ons die mag het om enige poging van die duiwel om ons te verslind, kan weerstaan.

Ons het soms konflik met menslike vyande, mense wat saam met ons leef of werk. Miskien het iemand jou aangeval of jou reputasie beswadder. Die omstredenheid veroorsaak vir jou groot benoudheid en affekteer selfs jou fisieke gesondheid.

Jy mag dalk beswaar maak by die Here, “Ek sal aanhou om U te prys en te aanbid, maar moenie van my verwag om hierdie hartseer neer te lê nie.” Maar die Here het dit baie duidelik gemaak, “Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efésiërs 4:32). En Jesus sê, “Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Matthéüs 5:43-44).

Ons bring eer aan ons hemelse Vader wanneer ons ook al hartseer oorsien en sondes vergewe wat teen ons gedoen is. Wanneer ons vergewe soos God vergewe, bring Hy ons in ‘n openbaring van guns en seën wat ons nie geken het nie.