SONDER JESUS SE LIEFDE

Gary Wilkerson

Godsdienstige mense is geneig om te fokus op die duisternis eerder as die lig. Ek hoor vandag so baie Christene hulle bitter woorde uiter: “Die kultuur is te blameer,” of “Die regering is verkeerd,” of “Daardie spesiale belangegroep is ‘n negatiewe invloed.” As jy wandel soos Jesus, sal jy nie die duisternis vervloek nie, omdat jy gefokus is op die lig wat jy bring. Laat my dit illustreer.

Dink daaraan dat jy in ‘n kerkdiens sit wanneer die ligte skielik afgaan en die hele plek in duisternis gedompel word. As ‘n instandhoudingswerker net een klein liggie in daardie kamer aansit, word dit dadelik gesien deur almal in die gemeente, maak nie saak waar dit geplaas word nie. Vriend, dit is ‘n toonbeeld van jou in ‘n totale donker wêreld. Dit maak nie saak hoe groot die donker ruimte is nie, jou lig kan gesien word deur almal in die omtrek. Dit kan nie weggesteek word nie, so laat dit skyn! Dan hoef jy nie vasgevang te word in angswekkende gesprekke oor ons kultuur nie.

Hierdie soort wandel neem jou nie net uit jou godsdienstige gewoonte nie, maar neem jou in die liefde van Jesus in. Dit gebeur nooit as ‘n gevolg van godsdienstige werk nie. Soos Johannes ons herinner, “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19).

As ons probeer om die werk van God in ons eie krag te doen, sonder sy liefde, sal daar geen krag daaragter wees nie. Paulus wys dit uit, “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword” (1 Korinthiërs 13:1).

In teenstelling daarmee, gee Christus se liefde vir ons orals ‘n kansel, met die ewigdurende krag van die hemel daaragter: “Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë – hulle sal tot niet gaan; of tale – hulle sal ophou; of kennis – dit sal tot niet gaan. Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan” (1 Korinthiërs 13:8-10).