Sonder Gebrek Voor die Troon van God!

“Dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. En in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek voor die troon van God” (Openbaring 14:4-5).

My vrou en ek het aandete gehad saam met ‘n vriendin van die familie, ‘n vrou wat ons al ‘n geruime tyd ken. Skielik, in die middel van ons ete, het ons vriendin begin praat oor dinge wat ek ook by Christene dwarsdeur die land gehoor het.

Sy het vir ons gesê:

Soos julle weet, is my man ‘n okulis. Hy maak en pas glas oë. Albei van ons het ons hele lewe lank hard gewerk en ons kon ‘n bietjie geld spaar. Ons het ook ‘n klein aftredingsfonds opgebou.

“Maar nou, terwyl ons begin dink aan ons aftrede, sien ons dinge wat ons bangmaak. Nasies dwarsoor die wêreld beleef ‘n ekonomiese insinking. Kyk na wat met Rusland met sy wankelrige ekonomie en sy politieke onrus.

“Amerika kan nie anders as om deur alles geraak te word nie. En daar is allerhande soorte terroriste aanvalle wat plaasvind, soos daardie V.S. bomaanvalle in Afrika. En nou, hier in Amerika, praat almal van die groot skade wat die Y2K, die jaar-2000 rekenaarramp kan bring.

“My man en ek kan net nie meer sulke nuus verdra nie. Elke keer wanneer ons die koerant optel, is daar nog ‘n verskriklike ding wat êrens gebeur het.

“Ek weet Christene is nie veronderstel om bang te wees nie, maar dit is moeilik om nie bang te wees wanneer ons al hierdie verskriklike dinge sien gebeur nie. Ek sukkel met vrees elke keer as ek dink aan ons verband- en motorpaaiemente. Trouens, wie weet of mense glas oë sal koop wanneer die ekonomie versleg?

“Ek moet sulke vrese daagliks afweer. Ek voel boonop sleg omdat ek sulke gevoelens het, terwyl ek weet dat ek die Here moet vertrou. Maar, om eerlik te wees, dinge word so vreesaanjaend dat dit moeilik is om my vrese in bedwang te hou.”

Ek glo ons vriendin het gepraat oor dit wat vele ander opregte Christene deurgaan: ‘n stryd om vrees uit hulle harte te hou. Net soos sy, voel die meeste gelowiges wat aan ons bediening skryf, dat ons nasie besig is om te disintegreer en dat een of ander onheilspellende ramp op die horison loer. Wanneer hulle nou al hierdie verskriklike berigte hoor oor wat in Amerika en oor die wêreld aangaan, sukkel hulle om net te rus in die belofte van God se bewarende krag.

Talle Christene skryf aan ons dat hulle nie kan help om vasgevang te wees in ‘n baie menslike vrees nie, omdat hulle nie dink hulle is voorbereid vir die moeilike omstandighede wat ‘n ekonomiese ineenstorting sou bring nie. Ander sê hulle doen voorbereidings vir hulle fisiese oorlewing, omdat hulle oortuig is dat ‘n finansiële slagting sosiale chaos ook sal veroorsaak.

Selfs die federale regering berei voor vir ‘n omwenteling. Byvoorbeeld, die V.S. se Sekretaris van Verdediging het aangekondig dat 120 top militêre eenhede, spesiaal opgelei vir oproerbeheer, staan gereed om in ons groot stede in te beweeg in die geval van opstande of massa histerie.

Toe, op 20 Agustus 1998, het die Federale Reserwe aangekondig dat hulle voorberei het om ‘n bykomstige $50 biljoen in omset in te plaas, omdat hulle ‘n groot stormloop na banke verwag net voor die Y2K probleem toeslaan. Die Fed het gereken dat as 70 huishouding ‘n gemiddeld van $450 per dag onttrek om te betaal vir noodsaaklikhede soos kos en brandstof, sal dit alle kontantreserwes uitput. Selfs $150 biljoen in bestaande reserwes sou nie die vraag by OTM’s dek nie.

Dit maak in werklikheid nie saak hoe regverdig ons mag wees en hoe sterk ons geloof is nie, al hierdie verskriklike onsekerhede wat plaasvind, kan nie anders as om ons menslike emosies aan te raak nie. Dit is alles baie vreesaanjaend. En die ergste van alles is dat dinge erger en selfs meer onheilspellend gaan word in die dae wat kom.

Maar vir die oorwinnende Christen, wie se sonde deur die bloed van Jesus bedek is, is daar baie goeie nuus. En ek glo as ons ons oë op hierdie goeie nuus gefokus hou en dit dag en nag bedink, sal geen slegte gerug ons ooit ontsenu nie. Hier is die goeie nuus wat God wil hê ons moet weet:

Ons gaan almal sterf! En selfs beter, ons gaan almal voor die oordeelstroon staan.

As dit nou vir jou bisar klink dat ek hierdie stelling “goeie nuus” noem, verstaan ek. Maar as jy in der waarheid ‘n Christen is, behoort hierdie nuus glad nie bisar te klink nie. God se woord stel dit baie duidelik: “...soos die mens bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel” (Hebreërs 9:27).

Ek is oortuig dat na net een oomblik in die ewigheid, sal ons almal besef hoe onbelangrik en verbygaande ons huidige vrese en beproewings was. Ons sal ook sien net hoe die Here met ons was die hele tyd, terwyl Hy oor ons gewaak het met sy reddende en bewarende krag.

Soos die Skrif getuig, is ons lewens op die aarde soos gras: een dag is ons hier, terwyl ons groei en gedy, en die volgende dag verwelk ons met die seisoen. Ons is soos die wasem van ons asem wat ons op ‘n ysige dag sien – een oomblik hier en die volgende oomblik weg.

Op hierdie stadium kan ek my verbeel dat jy mag dink, “Broer Dave, hoe kan jy van my verwag om dit as goeie nuus te aanvaar? Ek probeer my hart reinig van al my vrese oor die komende depressie en al die geweld wat gaan volg. Tog herinner jy my hier dat ek voor die oordeelstroon moet gaan staan en aan die Here rekenskap gee van my lewe.

“Watter soort vertroosting is dit? Die dag as ons voor Christus se troon staan, gaan ‘n afgryslike tyd wees. Ons gaan rekenskap gee van elke gedagte en daad.”

Ek ken baie opregte Christene wat dieselfde gevoel oor die oordeel het. Hulle bewe van binne elke keer wanneer hulle dink aan daardie dag wat kom: “Hoe kan ek ooit rekenskap gee van al die miljoene sondige, onchristelike gedagtes wat ek gehad het? Hoe kan ek van al daardie derduisende ydel woorde wat ek geuiter het rekenskap gee? Hoe kan ek al my goddelose dade, my sondes van versuim, my roekeloosheid, my murmurering, my apatie, my sondes teen die lig en die sondes van my jeug in die oë kyk?

“Hoe sal ek ooit in staat wees om Jesus in die oë te kyk op daardie dag? Hoe kan ek verhoed om van vrees te bewe wanneer daardie tyd kom?”

Ek bring vir jou goeie nuus – heerlike nuus – wat jou sal help om al die slegte nuus wat jy hoor, te beveg. En ek glo hierdie nuus sal jou hart en gees vol vrede en blydskap maak deur alles wat aan die kom is op die aarde.

Hier is die goeie nuus:

As jy berou het en jouself bekeer van alle sondes en jy vertrou op Jesus – deur in sy reinigende bloed te glo en jou daagliks aan sy heerskappy te onderwerp – dan sal jy voor die troon sonder gebrek of vrees staan. Jy sal in werklikheid erken word voor almal teenwoordig – elke mens, elke engel en elke demoon in die hel – as die kosbare bruid van Christus!

Ek hoop om aan jou te bewys dat jy nie een enkele sonde van jou in die gesig hoef te staar nie en geen van jou mislukkings sal geopenbaar word nie – maar jy sal in staat wees om sonder gebrek te staan.

Op die oordeelsdag sal al jou bose werke reeds mee weggedoen wees. Nie een enkele van jou sondes sal genoem word nie. In plaas daarvan, sal net jou goeie werke – insluitend jou geloof in Jesus Christus – sal genoem word voor die menigtes wat daar vergader voor die groot wit troon.

Ek wil nie nou betrokke raak in ‘n bespreking oor presies hoe die oordeel gaan wees nie – of daar nou een of twee oordele sal wees, ‘n onderwerp waaroor Bybelkenners steeds debateer. Sommige sê daar sal een oordeel wees, terwyl ander glo daar sal twee wees – een vir gelowiges en ‘n ander een vir alle ander.

Die Puriteine en ander teoloë dwarsdeur die geskiedenis het geleer dat daar een algemene oordeel sal wees en dat die oordeelstroon van Christus en die Groot Wit Troon oordeel een en dieselfde ding is. Ongeag wat, ons almal moet rekenskap gee van ons dade, of daardie dade nou goed of sleg is. Die Skrif vertel vir ons, “Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg” (Prediker 12:14).

Jy mag wonder, “Maar Broer Dave, jy het nou net vertel dat die sondes van die heiliges nie genoem sal word nie. Hoe kan dit wees as die Bybel sê dat elke werk, goed of sleg, beoordeel sal word? Hoe kan ons voor God staan sonder vrees as ons slegte dade aan die lig gebring sal word?”

Ons moet in gedagte hou dat daar twee groepe by die oordeel sal wees: skape en bokke. Hierdie twee groepe sal afsonderlik voor die Here staan in daardie dag, een groep aan die regterkant en die ander aan die linkerkant: heiliges en sondaars, seuns en slawe, die getroues en die ontroues, die wyses en die dwase, gelowiges en ongelowiges. En die slegte dade waarna verwys word wat daardie dag geopenbaar sal word, is slegs die van die goddelose.

Die Skrif sê dat al hulle goddelose dade aan die lig sal kom en geopenbaar sal word. Elke bose gedagte, elke geheime begeerte, elke wellus, elke veragtelike fantasie, elke verloëning van Christus, elke vloekwoord – alles sal aangekondig en geoordeel word. En nadat hierdie verborge dade geopenbaar is, sal hulle hul oortreders agtervolg tot in ewige verdoemenis.

Aan die ander kant, sal geen bose daad van die regverdige op daardie dag genoem word nie. In plaas daarvan, sal elke goeie ding van hulle lewens aan die lig kom – elke heilige gedagte, elke liefdadigheidswerk en elke opofferende werk.

Dit is reg – ons Here gaan dit alles bekend maak aan almal wat teenwoordig is, elke gebed, elke hartsgeroep, elke traan, elke vas, elke kreun van die gees, elke beproewing en lyding, elke woord van lof en danksegging van die regverdige terwyl hulle op die aarde geleef het. Hy sal in herhinnering roep elke beker koue water aan die dorstige gegee, elke stukkie brood wat aan die armes gegee was, elke kledingstuk wat geskenk was aan diegene wat koud en kaal was. Hy gaan elke goeie ding openbaar – en dit sal een heerlike oomblik wees!

Wanneer ons in werklikheid voor ons Here by die oordeel staan, sal ons volmaak in Hom wees. Dit beteken dat alles wat ons ooit gedoen het, insluitend elke sonde wat ons ooit gepleeg het, reeds onder sy bloed bedek sal wees en nooit weer genoem sal word nie. Kortliks, daar is geen veroordeling van die regverdige nie – niks nie.

Jesus sê vir ons, “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Johannes 5:24). Die Griekse woord vir oordeel is “veroordeling.” Jesus sê in wese, “As jy in My glo, sal jy nie veroordeel word nie. In plaas daarvan sal jy van die dood na die lewe oorgaan.”

Inderdaad, die Skrif vertel vir ons van begin tot einde, dat wanneer die Here ons sondes vergewe, vee Hy dit heeltemal uit sy geheue uit:

  • “Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie” (Jesaja 43:25).
  • “Ek delg jou oortredinge uit soos ‘n newel en jou sondes soos ‘n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos” (Jesaja 44:22).
  • “Want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jeremia 31:34).
  • “Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie” (Hebreërs 8:12).
  • “Want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe, en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie” (Hebreërs 10:16-17).
  • “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree [onder sy voete vertrap]; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp” (Miga 7:19).

Hier is oorvloedige goeie nuus vir elke Christen wat al ooit gesweet, gestrewe of gewerk het om die dade van sy vlees in sy eie krag dood te maak. Sluit dit jou in? Hoeveel keer het probeer om alles te verduur, terwyl jy voortgeploeg het na oorwinning in die Christelike lewe? Hoeveel beloftes het jy aan God gemaak net om hulle weer te breek? Hoeveel keer het jy Hom probeer behaag deur teen jou wellus en gewoontes te probeer veg, net om weer te misluk?

Hier staan jou goeie nuus opgeteken in die boek van Miga: “Ek, die Here, sal al jou ongeregtighede onder my voete vertrap!”

God het ons herhaaldelike voorbeelde in hierdie gedeeltes gegee, waarin Hy wys hoe Hy ons sondes uit sy gedagtes uitwis: Hy vee dit uit, Hy onthou dit nie meer nie, Hy begrawe dit in die see, Hy vertrap dit onder sy voete, wat beteken Hy jag dit en vang dit. Jesaja vertel selfs vir ons dat God ons oortredinge neem en dit oor sy skouer gooi: “Want U het my sondes agter u rug gewerp” (Jesaja 38:17). Dit beteken God sal nooit weer terugkyk na ons sondes of hulle erken nie.

Nou laat my jou vra: as God jou sondes vergeet, waarom doen jy en ek dit nie ook nie? Waarom laat ons altyd die duiwel toe om die slegte dinge van ons verlede uit te grawe en dit voor ons oë te swaai, wanneer al ons sondes reeds deur Christus se bloed bedek is? Die reinigende, vergewende krag van Jesus se bloed is allesomvattend. Dit dek ons hele lewe.

Al die boeke gaan oopgemaak en ondersoek word op daardie dag.

Johannes skryf van die oordeel:

“En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Openbaring 20:11-12).

Let op dat Johannes sê daar is baie boeke, en daar is ook ‘n boek by die oordeel. Wat is die eerste boeke? Dit is verslae van die lewe van elke sondaar wat – elke bok – wat voor die Regter staan.

Jy sien, elke ongelowige persoon het ‘n boek van werke en dade wat in die hemel opgeteken word. Elke bladsy van sy boek is ‘n verslag van hoe hy gelewe het. Kan jy jouself voorstel hoe dit gaan wees vir ‘n oortreder wanneer hy voor die Here op daardie dag staan? Elke gedagte, woord en aksie in sy lewe sal openbaar gemaak word en ontbloot word vir die boosheid daarvan, totdat die sondaar uiteindelik skree, “Nee, nee – genoeg! Niks meer nie!

Maar vir die regverdige, sal daar net die boek van die lewe wees. En wanneer daardie boek oopgemaak word, sal ons nie een woord, een rekenskap, een verslag van een enkele sonde of oortreding van enige van God se mense hoor nie. Waarom? Al hulle sonde word bedek onder die bloed van Jesus. Die enigste ding wat in daardie boek sal verskyn, is ons name. Dit sal in werklihied ons nuwe, hemelse name bevat en God self gaan aan ons openbaar wat ons nuwe name is.

Jy mag vra hoe ons name in die boek van die lewe opgeteken word? Dit word opgeteken die oomblik wanneer ons met ons hele wese glo dat Jesus Christus sy bloed vir ons gestort het. Dit gebeur wanneer ons die oorwinning van sy kruis opeis en vasbeslote is om Hom te soek met ons hele hart, siel, verstand en krag en alle dinge aan sy Heerskappy onderwerp.

Dis reg. God gee ‘n wonderlike belofte aan almal wat skuldig is aan verskriklike, “skarlaken” sondes... diegene wie se aksies met die stank van die hel bebloed is...diegene wat hulle liggame met alkohol, dwelms, perversies en hoerery misbruik het...diegene wat bloos wanneer hulle hul verlede onthou...diegene wat sluk wanneer hulle dink aan hoe naby hulle aan die hel gekom het.

God se belofte aan hulle is dat hulle met versekering en met groot blydskap op die dag van oordeel kan staan sonder ‘n spoor van vrees. Hy belowe: “Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jesaja 1:18). Nadat hulle berou gehad het hulle sondes laat staan het en op sy vergewende genade vertrou het, was hulle deur geloof met Hom versoen.

Jy sien, dit maak nie saak hoe jou verlede lyk nie, God sien jou nie meer soos jy was nie. Jy is nie meer ‘n dwelmslaaf in sy oë nie. Jy is nie ‘n alkoholis, ‘n egbreker, ‘n prostituut, ‘n belastingontduiker of ‘n korporatiewe skelm nie. In plaas daarvan, is jy verander in sy kosbare, lieflike, vlekkelose bruid. En Hy wag op jou teenwoordigheid by die jubelende bruilofsmaal waar jy met jou man verenig sal word.

Dink vir ‘n oomblik hieraan: Sal ‘n bruidegom wat sy troudag verwag skielik sy bruid beskuldig van ongeregtigheid by die oordeel? Nee, natuurlik nie. Jy mag vra, “Maar gaan Jesus nie alle goddeloosheid oordeel nie? Gaan Hy nie sonde oordeel nie?” Ja, Hy sal. Maar die Christus wat jy op daardie dag gaan ontmoet, is dieselfde Christus wat jou geroep het, gered het, vergewe het en jou gekoop het met sy eie bloed, jou gereinig het, jou op jou voorhoof gemerk het as sy eie en al hierdie jare vir jou voorbidding gedoen het.

Wanneer jy voor Jesus staan, sal jy Hom sien as jou Man, jou Verlosser, jou Vriend, jou Advokaat en steeds jou Middelaar. En in daardie oomblik, sal jy volmaak in Hom staan. Jy sal sonder fout, vlek of rimpel, heilig en onberispelik wees.

“En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het” (Kolossense 2:13). “Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 24).

Ons is Christus se liggaam: been van sy bene en vlees van sy vlees. Dink jy Hy gaan sy eie liggaam vermink voor die leërskares van duiwels en goddelose mense wat voor God se troon vergader is? Nee, nooit. Hy gaan ons, wat sy liggaam is, liefhê en vir ons sorg. En Hy sal dit nie van die kop afskei nie. Buitendien, Jesus is die Hoeksteen van die hele kerk. Dink jy Hy gaan Homself verwyder van daardie gebou en die hele plek afbreek nadat Hy jou so strategies daarin geplaas het? Dit is onmoontlik.

Laat my nou toe om met die hamer van God se Woord al jou vrese om voor God se oordeelstroon te staan, te vernietig, sodat jy van nou af daardie dag met groot blydskap en danksegging kan verwag.

Ek wil uit die Bybel vir jou drie onweerlegbare redes gee waarom ons nie rede het om te vrees nie, maar alle rede het om te juig oor die komende dag van oordeel

1. Vrees is nie versoenbaar met al die wonderlike verhoudings wat die Here in sy liefde vir ons verklaar het nie. God het omskryf wie Hy vir ons is – en daardie definisie is nie versoenbaar met vrees nie.

Regdeur die Skrif beskryf Hy al die fasette van sy verhouding met ons: Hy is ons Vader, ons Broer, ons Vriend, ons Bruidegom, ons Hoof, ons Man, ons Advokaat, ons bloedverwant Verlosser, ons Voorsiener, ons Skuilplek, ons Herder – en baie meer.

Hy het al hierdie wonderlike verhoudings met ons deur die kruis gevestig. En nou dring Hy by ons aan dat ons moet weet, “Dit is wie Ek vir jou is.” Dink jy Hy gaan skielik al hierdie verhoudings met sy mense op die dag van sy oordeel uitwis? Nooit nie!

Hoe kan ‘n vader sy nasaat in daardie kind se uur van rekenskap verwerp? Selfs as die boek van die lewe oopgemaak word, sal Hy steeds jou Vader, jou Advokaat en jou Middelaar wees. Niks kan daardie verhouding van jou af wegneem nie.

2. Vrees kan nie teenwoordig wees op die dag van restitusie en kroning nie. “Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie...So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons” (Psalm 103:10,12).

Ons verstand kan nie begin begryp hoe ver die ooste van die weste is nie. En dit is wat God wil sê in hierdie vers: Hy het ons sondes verder as ons vermoë om dit ooit te kan terugroep, verwyder.

Jy mag wonder waarom ek van God se oordeelsdag as as ons kroningsdag praat. Dit is omdat Jesaja van daardie dag sê: “En soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees” (Jesaja 62:5).

Wanneer jy dan voor jou Here staan, sal jy sy liefde vir jou in sy oë herken. Dan, voor die ganse menigte van oortreders, sal Hy na jou toe uitreik en jou, sy bruid, omhels. Ek vra jou: hoe kan jy vrees wanneer jou Here na jou kyk met liefde en blydskap? Jy sal steeds die appel van sy oog wees!

3. Die Here sal self niks minder doen as wat Hy hier op aarde van ons verwag nie. God vra nie enigiets in sy gebooie vir ons wat Hy nie gewillig is om self te doen nie. En een van daardie vereistes is om die sondes van ons broers en susters te verberg, te bedek en te vergewe. “En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin” (Matthéüs 18:15).

Ek glo dat as daar ‘n afsonderlike oordeel vir Christene gaan wees, soos sommige leer, is dit die area van die lewe waar dit sal plaasvind. God neem aanstoot wanneer ons die swakhede en gebreke van ander heiliges openbaar, veral voor die oë van die goddelose. En ek glo hierdie oordeel moet ‘n privaat, een-tot-een intieme ontmoeting wees. Jesus gaan baie liefdevol vir ons sê:

“Ek kan nie toelaat dat jy hierdie bagasie met jou saambring nie. Ek wil vir jou wys wat jy op die aarde gemis het en hoe sommige van jou werke in die vlees gedoen is sonder my Gees. Ja, jy is my kosbare bruid, en daar is niks anders as heerlikheid wat vir jou wag nie. Jy is onder my bloedbedekking, sonder enige vlek of rimpel. Maar al jou werke wat in die vlees gedoen is, moet brand.”

Sy Woord vertel reeds vir ons, “Die verstand van ‘n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom ‘n eer om die oortreding te vergewe” (Spreuke 19:11). “Dit is die eer van God om ‘n saak te verberg...” (Spreuke 25:2).

In ‘n private oomblik op daardie dag, gaan Jesus vir ons wys hoe Hy ons sondes bedek en vergewe het toe ons dit die minste verdien het. Hy gaan vir ons wys hoe slegs sy barmhartigheid en genade toegelaat het dat ons van die dood na die lewe toe kon oorgaan. “Al sy oortredinge wat hy begaan het, sal hom nie toegereken word nie; deur sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal hy lewe” (Esegiël 18:22).

Ons sondes is vir altyd deur sy bloed uitgewis om nooit weer genoem te word nie. En so moet ons gesindheid wees teenoor ons broers en susters wat ons aanstoot gegee het.

Ek bring vir jou hierdie boodskap om jou siel te anker en jou voor te berei vir enige onsigbare verdrukking in die donker dae wat kom.

Martin Luther het op die ergste van sy beproewings getuig: “Here, nou dat U my alles vergewe het, doen met my soos U wil.” Luther was oortuig dat ‘n God wat al sy sondes kon uitwis en sy siel kon red, sekerlik sou sorg vir sy fisiese liggaam en materiële behoeftes. Luther het in wese gesê:

“Waarom sou ek vrees vir wat ‘n mens aan my kan doen? Ek dien ‘n God wat my kan reinig van ongeregtigheid en vrede in my siel kan bring. Dit maak nie saak as alles rondom my ineenstort nie. As my God in staat is om my te red en my siel vir die ewigheid te kan bewaar, waarom sou Hy nie in staat wees om vir my fisiese liggaam te sorg terwyl ek op hierdie aarde is nie? O, Here, nou dat ek vrygespreek, vergewe en in staat is om voor U op die oordeelsdag te staan met groot blydskap, doen met my soos U wil!”

Broer, suster, juig! Hierdie huidige lewe is nie die werklikheid nie. Ons werklikheid is ewige lewe in die teenwoordigheid van ons geseënde Here. So behou die geloof. Dinge kronkel af. Maar ons gaan op!