SONDER ‘N MIDDELMAN

David Wilkerson (1931-2011)

Die meeste Christene wil die stem van God hoor en ken en God wil sekerlik met sy kinders praat. Maar talle gelowiges se aandag word afgetrek deur ‘n afgod – ‘n gunsteling bedienaar, ‘n leraar of evangelis – wat slegs goeie dinge aan hulle verkondig. Om die Vader se stem te ken, moet ons direk na Hom gaan sonder ‘n middelman.

God begeer om met jou te praat asof jy saam met Hom by die etenstafel sit. Hy wil openhartig met jou gesels, oor enige en allerhande sake. Die Bybel sê, “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maatlyd hou, en hy met My” (Openbaring 3:20).

Hierdie vers word dikwels van toepassing gemaak op die ongereddes; ons praat van Jesus wat staan by die deur van die sondaar se hart en wil inkom. Maar Christus praat met die gelowige! Die konteks wys dat Hy praat met diegene wat geklee is met wit klere (geregtigheid), wat gekoop is met goud wat in die vuur gelouter is, wie se oë gesalf is (openbaring het), en liefgehê, tereggewys en getugtig word (sien verse 18-19). Hulle is bekeerde, heilige mense wat die stem van God wil ken.

Die deur waarna verwys word in vers twintig, verteenwoordig ‘n toewyding – een wat talle Christene nog nie ten volle gemaak het nie. Jy bid tot God en vra vir raad en leiding, maar Hy wil meer hê! Hy wil jou nabyheid, jou diepste emosies hê. Hy wil by jou sit en alles wat in sy hart is met jou deel.

Jesus staan by die deur en klop, en nooi jou uit om die deur oop te maak. Hy vra vir ‘n toewyding van geloof wat sê dat jy jou hart, siel en gedagtes vir Hom sal oopmaak. In sy teenwoodigheid, alleen met Hom afgesonder, sal jy Hom leer ken. En jy sal leer om sy stem te ken – die stem van die Een wat jou lief genoeg het om aan te hou klop.