Soek Geduldig God se Teenwoordigheid

David Wilkerson (1931-2011)

Markus 4:35-41 vertel ‘n verhaal van Jesus en sy dissipels in ‘n boot wat op ‘n stormsee rondgeslinger word. Kom ons kyk na die toneel waar Christus pas die golwe net met een opdrag laat bedaar het. Nou draai Hy om na sy dissipels en vra: “Hoe het julle dan geen geloof nie?” (Markus 4:40, AFR53).

Jy dink dalk dat dit hard klink. Dit was net menslik om bang te wees in so ‘n verskriklike storm, maar Jesus het hulle nie om hierdie rede berispe nie. Kyk wat die dissipels vir Hom gesê het toe hulle Hom wakker gemaak het: “Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?” (Markus 4:38). Hulle het sy goedheid en aandag aan hul situasie bevraagteken.

Kan jy jou dit voorstel? Jesus se eie dissipels het Hom nie geken nie. Hy het elkeen van hierdie manne persoonlik geroep om Hom te volg en saam met Hom het hulle menigtes bedien. Hulle het sy barmhartigheid teenoor melaatses en uitgeworpenes gesien; hulle het gesien hoe Hy kindertjies bymekaarmaak en hulle seën. Hulle het dit alles en nog meer gesien, maar hulle het nog steeds hulle Meester nie regtig geken nie.

Hy het vir hulle gesê: “Na al hierdie tyd verstaan ​​julle nog steeds nie my natuur nie. Hoe sou julle moontlik so lank saam met My kon leef en My nie intiem ken nie?”

Dit is tragies is dat dit vandag ook so is. Baie Christene vaar saam met Jesus in die boot, bedien langs Hom en bereik menigtes in sy Naam. Ten spyte van dit alles, ken hulle nie regtig nie Meester nie. Hulle bring nie intieme tyd alleen saam met Hom deur nie. Hulle het nog nooit rustig in sy teenwoordigheid gesit en hul harte vir Hom oopgemaak, gewag en geluister om te begryp wat Hy vir hulle wil sê nie.

Ons sien ‘n ander toneel rakende die geloof van die dissipels in die evangelie van Lukas. Die dissipels het na Jesus gekom en gevra: “Gee ons groter geloof” (Lukas 17: 5). Baie Christene vandag vra dieselfde vraag: "Hoe kan ek groter geloof verkry?" Anders as die dissipels, soek hulle egter nie die Here self vir hulle antwoord nie.

Hoe het Jesus dus op hulle versoek om geloof geantwoord? “Gord jou aan en bedien My totdat ek geëet en gedrink het” (sien Lukas 17:6-8). Jesus het in wese gesê: “Trek jou kleed van geduld aan. Kom dan na my tafel toe. Ek wil hê jy moet My daar kosgee. Jy werk graag die hele dag vir My. Nou wil Ek hê dat jy met My moet kommunikeer. Kom sit by My, maak jou hart oop en leer van My.”

As jy groter geloof wil hê, moet jy die Here se aard in ag neem en geduldig sy teenwoordigheid soek.