SING EN JUIG

David Wilkerson

Daar is soveel slegte nuus, verdeeldheid en verdraaiing aan alle kante. Berigte van verdorwenheid, vrees, haat en politieke onrus blyk ons verstand te oorlaai.

Te midde van hierdie rusteloosheid en wanorde, hoor ek God se Woord vir my sê om grootliks te juig en bly te wees.

“Laat die gunsgenote juig in heerlikheid: laat hulle jubel op hulle bedde” ( Psalm 149:5)

Wanneer laas het jy van blydskap hardop in jou bed gesing voordat jy gaan slaap het?

“Laat Israel hom verheug in sy Maker: Laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning” (Psalm 149:2)

Wanneer jy kan sing en juig in ‘n tyd van groot onrus, het jy waarlik geloof.

MOENIE JOU VREDE VERLOOR NIE

As ons luister na die sogenaamde kenners in die media, kan ons blootgestel word aan ‘n gees van onrus en woede. Ons kan vasgevang raak in sake wat nie ewigheidswaarde het nie, maar gou sal vergaan. Ek weier om deur die huidige politieke woede beïnvloed te word. Ek sal na die stempunt gaan en my stem uitbring, nie gelei deur my gevoelens nie, maar op grond van Bybelse waarheid. Ek sal kalm stem, sonder om my vrede of my liefde vir ‘n verloregaande mensdom in te boet.

Bo alles, sal ek God se ewige Woord gehoorsaam en juig en bly wees, maak nie saak hoe erg die storms om my woed nie. Die Woord sê ons moet sing en juig – en dit moet ons doen, met die wete dat God beloof het dat Hy ons deur dit alles sal lei en beskerm.

“U is ‘n skuilplek vir my: U bewaar my vir benoudheid; U omgewe my met vrolike gesange van bevryding” (Psalm 32:7).