SELFS DIE STOF SAL WEGGEVEE WORD

Gary Wilkerson

God soek gelowiges wat begeer om volkome heilig te wees. Sefánja 1:12 sê, “En in dié tyd sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek.” Dit beteken Hy kom, as’t ware, met lanterns en kyk in die donker hoeke, inspekteer die keldergebiede en plekke waarheen mens nie normaalweg gaan nie. Hy deursoek ons harte, kyk diep, ondersoek hardnekkige en onbekende sondes – sondes wat onaangeraak en nie bely is nie.

Wanneer God sy lanterns inbring, wys Hy vir ons dinge wat óns nie eens herken het nie. Sy soeklig help Hom om selfs die “stof” van ons sonde te ontdek en uit te sny sodat niks onaangeraak bly nie. Jy mag dink jou lewe is skoon en jy behoort dankbaar te wees dat God ‘n wonderlike werk gedoen het. Jy weet dat God genadiglik op ‘n sekere gebied werk – maar wat jy dalk nie besef nie, is dat, sodra Hy klaar is op daardie gebied, sal Hy jou lei na ‘n ander gebied. Wanneer jy voel Hy rig sy lantern op jou, dan weet jy daar is meer om gedoen te word. God is deeglik en sal ‘n kragtige werk in jou lewe doen; Hy sal nie ophou totdat alles wat nie daar hoort nie, verwyder is.

God soek voorbidders om uit te roep dat die altaar gevul word met nederige mense – wat met ‘n gebroke hart sal sê, “Ek is honger vir meer van Jesus! Ek verlang dat Hy my hart sal aanraak.” God wil mense hê wat nie net hulle lewens goed laat lyk aan die buitekant deur die regte dinge te doen en te sê nie, maar wat ook wil hê hulle harte moet verander word. Hulle is mense wat heiligheid in die diepste skuilhoeke van hulle lewens wil hê – hulle wil hê elke spoor van wêreldsheid moet uitgeroei word en dat selfs die stof van hulle sonde weggevee moet word.

En God soek nederige leiers wat die soewereiniteit van die Here erken en Hom alleen dien. Ons moet almal saam met Johannes die Doper sê, “Hy moet meer word, maar ek minder” (Johannes 3:30).