Seëninge Van Christus Ons Hoëpriester! (Deel Twee)

David Wilkerson

Die Bybel leer ons dat toe Christus opgevaar het na die hemel, het Hy die bediening van Hoëpriester vir almal, wat in geloof na Hom toe kom, opgeneem. "...maar Hy [Jesus], omdat Hy vir ewig bly, besit ‘n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie [onveranderlik]" (Hebrews 7:24).

Jesus is onveranderlik! Hy is dieselfde gister, vandag en vir ewig. So lank as wat jy leef, sal Hy jou Hoëpriester in die hemel wees en om jou onthalwe voorbidding doen. En Hy sal jou Hoëpriester bly, totdat jy hemel toe gaan om saam met Hom te wees.

Ons Hoëpriester Jesus is gesetel aan die regterhand van die Vader, in die setel van gesag: “Ons het so ‘n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele...” (Hebreërs 8:1). Ons Hoëpriester het al die mag en gesag tot sy beskikking!

Jesus is op hierdie oomblik in die Vader se teenwoordigheid, waar Hy vir ons intree. Hy konfronteer ons aanklaer, die duiwel en sê, “Ek bestraf jou, Satan! Hierdie een is Myne omdat hy besprinkel is met My bloed. Hy is veilig en sy skuld is ten volle betaal. Hy is vrygemaak!”

Ek glo daar is vir ons selfs nog meer om te leer oor ons wonderlike Hoëpriester se bediening om ons onthalwe.

Twee Priesterskappe word genoem in die Ou Testament – die priesterskap van Aäron en die priesterskap van Melgisédek.

Ons weet dat Aäron, die hoëpriester, uit die stam van Levi was. Maar Melgisédek – wat aan ons voorgestel word in Génesis 14:18-19 – was ‘n baie misterieuse figuur. Bybelse skoliere weet baie min oor hom en daar was al baie bespiegelinge oor wie hy was. Hier is die agtergrond waarin die hoëpriester voorgestel word:

Génesis sê vir ons dat die stede Sodom en Gomorra, waar Abram se nefie Lot gewoon het, aangeval was deur ‘n verenigde leër wat bestaan het uit verskeie koninkryke. Hierdie leër het die stede se voedsel en ander voorrade geplunder en baie inwoners gevange geneem, Lot en sy familie ingesluit.

Abram, wat deur God gelei is, het ‘n klein leër van 318 manskappe geneem en hierdie plunderende, verenigde leër verslaan: “En hy het al die goed teruggebring, en ook sy broer Lot en sy goed teruggebring; en ook die vroue en die manskappe” (Génesis 14:16).

Hier is die agtergrond: Abram het pas ‘n ontsaglike oorwinning behaal en hierdie totale verenigde leër verslaan. Nou het hy van die oorlog af teruggekeer huistoe. Op pad terug het hy die hoëpriester Melgisédek, die Koning van Salem, teëgekom, wat uitgekom het om Abram te ontmoet en hy “...het brood en wyn gebring...” (Génesis 14:18).

Hebreërs sê vir ons die volgende oor die hoëpriester: “Want hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het; aan wie Abraham ook ‘n tiende deel van alles gegee het – hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede; sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur” (Hebreërs 7:1-3).

Dit klink soos een of ander supermens. Hy het geen begin of einde nie – en dit beteken dat hy God sou moes wees! Ek glo egter Melgisédek is ‘n vlees-en-bloed man wat dien as ‘n tipe Christus.

Soos die skrywer van Hebreërs vir ons sê, beteken Melgisédek se naam “Koning van Geregtigheid,” en sy titel, “Koning van Salem,” beteken “Koning van Vrede.” Ons noem Los Angeles die “Stad van Engele” en New York die “Groot Appel.” God het waarskynlik Sy hand op hierdie man geplaas en hom gesalf om ‘n hoëpriester van Salem te wees, ‘n stad wat liefderyk verwys word na die “Stad van Vrede.”

Die frase “sonder vader of moeder” beteken bloot dat Melgisédek het geen stamboom van priesterskap gehad het soos die Levitiese priesterskap nie. “Sonder geslagsregister” beteken “sonder ‘n priesterlike geslag.” Hy was nie uit die “geslagte van priesterskap,” soos Aäron was nie. Liewer, Hy was goddelik aangestel as ‘n priester deur God.

Die skrywer van Hebreërs sê ook vir ons dat Melgisédek “gelykgestel was aan die Seun van God” – wat beteken, hy was soos Jesus daarin dat hy geen priesterlike geslag gehad het nie: “...dat ons Here uit Juda voortgespruit het, en met betrekking tot hierdie stam het Moses niks gesê van die priesterskap nie” (Hebreërs 7:14).

Jesus se vader, Josef, was nie ‘n priester nie; uit Juda het hy geen stamboom gehad waarvan die Levitiese priesters afgestam het nie. Daarom sien ons hier dat Melgisédek ‘n voorafskaduwing was van Jesus se priesterskap. Hierdie aardse hoëpriester was bedoel as ‘n tipe van ons Hoëpriester in die hemel, Jesus, Koning van geregtigheid en Koning van vrede!

Abram het tiendes aan Melgisédek betaal uit al die buit wat hy van die verslane leërs geneem het. Die Skrif sê vir ons dat die hoëpriester op sy beurt hom geseën het: “En hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van die hemel en aarde...” (Génesis 14:19).

Hier is ‘n pragtige beeld van die bediening van ons Hoëpriester. Jy sien, dit was die plig en voorreg van die hoëpriester om uit die Allerheiligste te kom en die mense te seën. Die Here het Moses beveel: “Spreek met Aäron en sy seuns en sê: So moet julle die kinders van Israel seën deur vir hulle te sê: Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee” (Númeri 6:23-26). Met ander woorde: Nadat die hoëpriester die bloed binne-in die Allerheiligste geneem het, dit op die versoendeksel gesprinkel het en die wierook gewaai het, dan moes hy uitkom, na die mense kyk en hulle seën.

Dit was die laaste handeling in die orde van die hoëpriester se bediening. Hy moet uit die Allerheiligste uitkom, sy hande ophef en die volk seën met die seën wat God vir hom gegee het: “...Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee” (Númeri 6:23-26).

Dit is die onveranderlike bediening van ons Hoëpriester volgens God se voorskrif. Ons Hoëpriester, Jesus sê, “Ek sal jou met My bloed bedek. Ek sal vir jou intree voor die Vader. En Ek sal uitkom en jou seën!”

Dit is belangrik om te verstaan dat hierdie seën wat Jesus vir ons gee, nie tydelik is nie, maar geestelik: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” (Efésiërs 1:3).

In die Ou Testament was die hoëpriester se seën tydelik. God het beloof om die gewasse, vee, stede en al die mense se werke te seën. Dit was alles fisies, met geen geestelike dimensie soos wat ons dit vandag het nie – omdat die voorhangsel nog nie in twee geskeur was nie. Omdat ons egter vandag in die geestelike realm wandel, is die seëninge wat ons ontvang, geestelik van aard.

Jy mag vra, “Seën God ons met uiterlike, fisiese seëninge?” Ja, soms seën God ons met materiële dinge – maar slegs as dit ‘n geestelike uitkoms het! Enige materiële seëning wat ons hart wegvat van Jesus af, kan vinnig teruggetrek word.

Dit is jammer dat talle gelowiges slegs aan God se seëninge dink in terme van materiële dinge. Hulle bid, “Here, skenk my U seëninge. Oorlaai my met U voordele!” Innerlik dink hulle egter, “Ek wil ‘n nuwer kar, ‘n lekkerder woonstel, beter meubels en meer geld in die bank hê.”

Die Here sorg goed vir Sy kinders. Hy sê vir ons om Hom eerste te soek en al ons noodsaaklike behoeftes om van te leef, sal voorsien word. Christus se seëninge aan ons is egter primêr geestelik!

Toe die Ou Testament priester hierdie seën oor die mense uitgespreek het, was dit nie net ‘n wens nie. Hy het nie gesê, “Ek wens jou vrede toe. Ek wens jou toe dat die Here Sy aangesig oor jou sal laat skyn...” nie. Nee – die seën was gerugsteun deur die volle krag van God!

“So moet julle dan my Naam op die kinders van Israel lê; en Ék sal hulle seën” (Númeri 6:27). Dit beteken, “Die priester sal spreek met die volle gesag van My Naam – en Ek sal dit eer. Hierdie seën sal die krag van My Godheid daaragter hê!”

Net so, as Jesus ons Hoëpriester seën, wens Hy ons nie net die goeie toe nie. Hy kondig Sy seëninge aan met gesag – en dit is afgehandel!

Jy moet verstaan dat ons Here Jesus behae daarin het om sy mense te seën!

Talle Christene dink God het slegs behae daarin om ons te tugtig en tereg te wys. Nee! Die Bybel sê vir ons Hy het geen behae daarin in ons te tugtig nie. In teendeel, Jesus sê, “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daaraan gehad om julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32). Hy verseker ons, “Ek gee vir jou alles wat jy nodig het – omdat My hart daarop ingestel is om te seën!”

Nêrens in die Bybel vind ons dat Jesus iemand vervloek nie. (Die enigste ding wat Hy vervloek het, was ‘n vyeboom.) Geen prediker, apostel, profeet of herder in die geskiedenis het mense ooit meer geseën as Jesus nie. Hy het seëninge uitgedeel waar Hy ook al gegaan het!

Beskou die Bergpredikasie in Matthéüs 5. Jesus het gesê, “Geseënd is die armes van gees. Geseënd is die wat treur. Geseënd is die nederiges. Geseënd is jy as jy honger en dors na geregtigheid. Geseënd is die wat genade bewys, die vredemakers, die vervolgdes, die veragtes.” Oral waar Jesus gegaan het, het Hy dit uitgespreek, “Geseënd...geseënd...geseënd...”

Hy het kinders in sy arms opgetel en hulle geseën. Hy het diegene geseën wat maaltye vir die armes, kreupeles, lammes en blindes gegee het: “...jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges” (Lukas 24:50).

Dit het my hart diep aangeraak dat Jesus se laaste woorde voor Hy Sy dissipels verlaat het woorde van seën was. Lukas sê “...Toe open Hy hulle verstand sodat hulle die Skrifte kon verstaan” (Lukas 25:45) – en toe het “...Hy  hulle [ge]seën” (Lukas 25:50).

Op hierdie stadium mag jy moontlik dink, “Ek kan verstaan dat die Here kinders sou wou seën, of nuwe bekeerlinge, of selfs arm Christene in arm lande wat wonderwerke nodig het net om kos op hulle tafels te hê. Ek kan verstaan dat Hy gelowiges wat in die gevangenis in vreemde lande is, sou wou seën en wonderbaarlike openbarings van Homself gee.

“Ek kan egter nie daardie soort seëninge vr myself verstaan nie. Ek dink net nie ek sal ooit die lig wat hulle ontvang het kan ontvang nie. Ek voel God is die meeste van die tyd ontevrede met my. Ek voel nie sy seën waardig nie.”

Geliefde, ek hoop jy verstaan teen hierdie tyd – jy sal nooit God se seëninge waardig wees nie! Niemand verdien Sy seëninge nie. Liewer, Hy kom uit na ons – streng in Sy barmhartigheid en genade – en seën ons met geestelike seëninge ver bokant ons begrip.

Ek is ‘n vader van vier kinders, waarvan almal getroud is en kinders van hulle eie het. Wanneer my kinders enige soort moeilikheid beleef, word ek nie kwaad vir hulle nie. In teendeel – ek is verheug wanneer hulle my hulp inroep. Wanneer ek hulle kan help deur gebed, raad of finansiële seëninge, neem ek groot plesier daarin om na hulle uit te reik en hulle te seën.

Hoeveel meer het ons Here Jesus ‘n behae daarin om Sy kinders te seën in hulle tyd van nood? Hy sê vir ons, “Julle aardse vaders weet om goeie gawes aan julle kinders te gee. Hoeveel te meer wil jou hemelse Vader jou seën?” (sien Matthéüs 7:11).

Sommige van die mees geseënde mense in God se huis is egter blind vir hul seëninge. Hulle sien of verstaan nie die groot dinge wat die Hoëpriester vir hulle gegee het nie – en daarom geniet hulle dit nie.

Byvoorbeeld – jy kan rondkyk in die liggaam van Christus en ander Christene sien wat lyk of hulle meer talente het en meer geseënd is. Sommige kan hele gedeeltes van die Skrif kan memoriseer. Ander kan preek, onderrig gee of sing tot eer van God. Jy sê vir jouself, “Hoe geseënd is hulle deur God. Maar, arme ek! Ek het nie die breinkrag om God se Woord te memoriseer nie. Ek het nie eens die vermoë om ‘n preek te onthou nie. Ek het nie een van die gawes wat my broers en susters het om God te dien nie.”

Geliefde, jy weet nie hoe geseënd jy is nie! Is jy arm van gees? Is dit vir jou moeilik om jou te verbly of selfs om te glimlag? Treur jy oor jou swakhede? Kla jy omdat jy geen geestelike groei in jou lewe sien nie? Is jy bedroef omdat jy ontoereikend, uitgelaat en oorbodig voel?

Jesus sê, “Jy is geseënd! Jy het niks om op trots te wees nie. En op daardie manier, dien jy My die beste – omdat My krag in jou swakheid volbring word! Ek kan jou meer geredelik gebruik as ander.”

Wat ‘n seëning is dit in werklikheid! Jesus sê nooit, “Geseënd is die sterkes, die gelukkiges, die selfversekerdes, die kragtiges” nie. Nee! Ons Here het die swakkes, die veragtes, die vervolgdes, die terneergedruktes geseën – diegene wat as nietig in die oë van ander beskou word. Hy sê vir jou, “Jy weet jy het My baie nodig – en daarom is jy geseënd!”

Ons Hoëpriester het jou geseën met die seën van Abraham!

Paulus skryf: “Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham” (Galásiërs 3:9). Wat is die seën van Abraham?

Jakobus sê vir ons, “...Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken...” (Jakobus 2:23). Abraham het geglo dat hy reg was met God, selfs al was hy steeds besig om heilig gemaak te word.

Geliefde, dit is die seën van Abraham – die wete dat ons vrygespreek word deur geloof! “Sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang” (Galásiërs 3:14).

Hierdie seën is die kennis dat Jesus met Sy bloed betaal het om al ons sondes en ongeregtighede uit te wis. Die Vader het Jesus se eie geregtigheid aan ons toegereken en ons word regverdig gemaak in sy oë. Ons hoef nie te probeer om werke te doen om God se guns te verdien nie. In plaas daarvan, moet ons vertrou en glo in die afgehandelde werk van Jesus aan die Kruis. En selfs al sukkel ons nog – selfs al val ons en faal ons Hom soms – is ons in die regte verhouding met Hom as ons voortgaan in geloof en ons bekering.

Dawid het dit verstaan en was in staat om die seën van Abraham te geniet: “Soos Dawid ook die mense salig spreek aan wie God geregtigheid toegereken sonder werke: Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe  en wie se sondes bedek is. Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie” (Romeine 4:6-8).

Terwyl ons geseën word deur God met die seën van Abraham, begin ons geloof groter word. Skielik sien en glo ons dat dieselfde Christus was ons vrygespreek het, vir ons krag gee om sonde te oorwin. God sê vir ons, “Nou gaan ons werk aan jou heiligheid en heiligmaking. Maar jy moet verstaan dat jy in die tussentyd veilig in My is. Jy is My kind – en Ek sal jou van struikeling bewaar!”

Het die seën van Abraham reeds op jou neergedaal? As jy Christus se geregtigheid ten volle aanvaar het deur geloof, dan is jy saam met getroue Abraham en Dawid geseënd. Jy is inderdaad een van die mees geseënde mense op aarde!

Miljoene Christus het dit nog nooit gehoor of geglo nie. Met die gevolg dat hulle hul hele geestelike lewe lank in geestelike armoede en vrees leef. Hulle weet nie wat dit is om hulle koppe in die aande neer te lê met vrede nie. Hulle sondig en bely, sondig en bely herhaaldelik. Hulle het geen sekuriteit, geen krag en geen kennis nie.

God wil hê dat sulke Christene in sy arm gaan lê met die wete dat hulle heeltemal regverdig gemaak is en vrygespreek is in Sy teenwoordigheid! Om die seën van Abraham te hê, beteken om algehele vertroue te hê dat Jesus voortdurend Sy bloed op ons sprinkel. Dit beteken ook om Hom ‘n konstante, reddende geloof te gee. Ons moet na Hom kom en sê, “Here, ek weet ek is U kind en dat U my nie sal weggooi nie. Ek weet ek het U gefaal en teenoor U gesondig. Ek het stof op my voete. Maar ek kom nou na U om gereinig te word. Reinig my, Here!”

Daar is egter ‘n ander aspek oor hierdie seën van Abraham. Dit sluit in om die Here te vertrou om ons skild te wees. Jy sien, God het ‘n verbond met Abraham gemaak: “Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in ‘n gesig en gesê: Vrees nie, Abram. Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot” (Génesis 15:1).

Die Here het vir Abram hierdie seën gegee toe hy op pad terug was van die oorlog. Sommige Bybelkenners glo Abram was baie bevrees op hierdie stadium. Hy mag gedink het die Asiatiese konings sou hergroepeer en hom aanval terwyl hy net 250 manskappe gehad het. Of, hy kon moontlik gedink het hy sou aangeval word deur die Kanaäniete, wat hom sien sterk word het, terwyl hy in hulle land gewoon het.

Ons moet onthou dat Abram deur God beloof is dat hy die vader van baie nasies sou wees. Hier kon Abram gedink het, “Kyk na al die tyd wat verbygegaan het en steeds het ek geen seun nie. Nou word ek omsingel deur mal leërs en deur mense wat geen barmhartigheid teenoor my het nie. My familie, my erfenis is in gedrang. Ek sien geen bewyse dat God se belofte vervul word nie.”

Het jy al ooit so gevoel? Miskien was jy belaster by die werk. Miskien is jou huislewe ellendig. Jou gebede word nie verhoor nie. Of miskien het ‘n innige vriend jou verraai. Jy het vir dae, weke en maande daaroor gebid – maar niks het nog gebeur nie. Jy sê vir jouself, “Ek sien geen bewys van God se seën nie. In teendeel, ek voel neerslagtig en wanhopig. Wat kan ek doen?”

Talle kere het ek my na gebed gewend en by die Here gekla! Ek het geroep, “Vader, U weet daar is ‘n paar baie belangrike dinge wat ek nog nie gesien gebeur het nie. Wanneer gaan U my geroep verhoor? Waarom wag U? Hoor U ooit my gebede? Ek het nie meer trane oor nie. Ek glo U Woord – maar ek sien geen bewyse van U seën nie. Here, waar is U?”

Abram was in presies so ‘n vreesbevange toestand toe die hoëpriester Melgisédek uitgekom het om hom te ontmoet. Die Skrif sê: “Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom ...” (Génesis 15:1). Hierdie vers beteken, “Nadat Abram bang gekyk het na die vyande rondom hom...nadat hy neerslagtig gevoel het omdat hy nie enige vordering gemaak het nie...het die Woord van die Here tot hom gekom...”

Die eerste ding wat God vir Abram gesê het, was, “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot” (Génesis 15:1).

In hierdie een vers, gee God vir ons die geheim na die grootste seën wat enige gelowige ooit kan hê! Jy sien, die eerste ding wat ons Hoëpriester Jesus vir ons sê wanneer Hy na ons uitkom vanaf die Allerheiligste is, “Moenie vrees nie!” Hy sien ons angsbevange toestand en verseker ons, “Geen duiwel of demoon in die hel kan jou aanraak nie. Jy is onder My bloed – en jy moenie vrees nie!”

“...Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot” (Génesis 15:1). Die eintlike betekenis in Hebreeus vir skild hier is, “beskermer, verdediger.” Hierdie vers beteken, “Ek sal jou kampvegter wees. Ek sal vir jou veg!”

Die Here sê vir Abram, “Gaan voort en kyk na al daardie leërs wat jou omsingel. Ek sal jou verdediging teen hulle almal wees! Vertrou jou lewe en toekoms aan My toe. As jy jou na My sal wend as jou bron van vervulling, sal Ek jou beloon met meer vrede, meer blydskap, meer volheid as wat jy nog ooit geken het!”

Dieselfde vers sê inderdaad vir ons dat die Here vir ons baie meer is as ‘n skild. Hy is ook ons baie groot beloning! God sê vir Abram hier, “Jy sal jou seun kry en hy sal jou blydskap wees. Jy sal jouself verbly vir ‘n tydperk, omdat Ek My belofte aan jou vervul het en dat jou nageslag gekom het. Maar Ek wil jou hart se beloning wees, Abram! Selfs al sien jy My belofte vervul word, sal jou seun nie jou beloning wees nie. Nee – Ek sal die Een wees wat jou diepste behoeftes vervul!”

God weet alles van die menslike natuur af. Hy weet dat Abraham ‘n groot mate van blydskap gehad het toe hy sy seun gekry het. Abraham kon toe sê, “God het dit gedoen! Hy het dit aan my beloof, en Hy het Sy Woord nagekom.” God het egter ook geweet dat Abraham nie heeltemal vervul sou wees toe die kind gekom het nie. Hy sou steeds ‘n innerlike honger, ‘n rusteloosheid en ‘n onverklaarbare behoefte gehad het wat geen mens kon aanraak nie.

Is dit nie wat met ons gebeur as ons uiteindelik die ding kry wat ons so graag wil hê nie? Die heeltyd dink ons, “As ek net hierdie een ding kan kry, sal ek gelukkig wees. Dit sal my lewe wonderlik maak. Dit sal al my probleme oplos.”

Nee, dit sal nie! En jy moet dit vir eens en vir altyd uitmaak: Daar is geen man, geen vrou, geen pastoor, dominee of evangelis wat daardie diep behoefte binne-in jou kan vervul nie. Ons almal het dieselfde behoefte: Dit is die behoefte vir totale afhanklikheid van die Here! En dit kan nie vervul word deur ‘n maat, ‘n kind of ‘n vriend nie. Slegs die Here self kan jou diepste behoefte tevrede stel.

Dit is die geestelike seëning! Ons Hoëpriester sê, “As jy regtig die geheim van My seën wil weet – dit is, dat dit Ek is waarna jy soek. Ek is jou beloning – jou antwoord, jou seën!”

Die sekerste bewys dat die Here se hand van seën op jou is, is wanneer ander deur jou geseën word!

God het vir Abraham gesê, “Dat Ek jou ryklik sal seën...En in jou nageslag sal al die nageslagte van die aarde geseën word...” (Génesis 22:17-18). Hy het in wese gesê, “Die rede waarom Ek jou seën, Abraham, is sodat Ek al die nasies kan seën!”

Dit is duidelik dat baie min van ons geroep is om hele nasies te seën. Maar elkeen van ons het ‘n familiekring, vriendekring, kollega’s en medewerkers. Hoe baie in jou kring word geseën deur wat die Here in jou doen? Loop Jesus se heerlikheid in jou  verhouding met Hom oor na ander rondom jou? Word jou vriende en familie geseën deur Christus in jou? Wie het jy onlangs geseën?

Wanneer jy ander begin seën te midde van jou beproewings, sal jy weet dat God se hand van seën op jou is. Dit was wat met Dawid gebeur het. Toe sy vyande geen genade aan hom bewys het nie, het hy getuig, “Laat húlle vloek, maar U, seën U. Hulle het opgestaan en beskaamd geword, maar u kneg is bly” (Psalm 109:28). Dawid het tot God om hulp en seën uitgeroep, terwyl sy vyande hom gevloek het.

Jesus beveel ons, “Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat jvir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Matthéüs 5:44). As jy hierdie woord kan bewaar, is jy sekerlik geseënd deur die Here!

Laastens, diegene wat geseën word, kom al nader en nader aan die Here. God seën nooit sonder om daardie persoon nader aan Homself te trek en aan te moedig, “Kom nader aan My” nie. Dit is méér van die seën – toenemende nabyheid aan Hom!

Miskien wonder jy nog steeds, “Ek sien geen bewyse van God se seën in my lewe nie. My lewe word nie gekenmerk deur enige van hierdie dinge wat jy opgenoem het nie. Hoe kan ek God se seën hê?”

Ek vra vir jou: Het jy Sy Woord lief? Is jy lief daarvoor om na Sy huis te kom saam met ander gelowiges? Gaan jou gedagtes na Jesus dwarsdeur die dag? Praat jy met Hom? As jy “ja” daarop kan antwoord op een van hierdie vrae, kan jy verseker wees: Hy trek jou en seën jou!

Juig, geliefde! As jy agterkom jy het nie die gawes wat jy in ander sien nie...as jy honger en dors na meer van Hom...as jy swak, gebroke en bedroef is en treur oor jou sonde, kan jy gerus wees – jou Hoëpriester seën jou met alle geestelike seëninge. Kom na Hom toe in geloof. Hy het ‘n behae daarin om jou te seën!