Satan Soek om Jou te Verslind

"Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is” (1 Petrus 5:8-9).

As jy ‘n lid van die liggaam van Christus is, maak gereed om ‘n woedende duiwel te trotseer. Jy mag dalk nie daaraan wil dink of dit aanvaar nie – maar as jy vasbeslote is om Jesus te volg met jou hele hart, het Satan jou gemerk vir vernietiging. En hy gaan jou lewe oorstroom met probleme van allerhande soorte.

Die apostel Petrus waarsku, “En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid” (1 Petrus 4:7). Hy sê met ander woorde, “Daar is nie nou tyd vir ligsinnigheid nie. Jy moet nugter oor geestelike sake wees. Dit is ‘n saak van lewe en dood.”

Waarom die noodsaaklikheid om so ernstig te wees? Die einde van die tyd is naby – en ons vyand kom teen ons met groter intensiteit. Hy bekruip ons soos ‘n leeu, kruip in die gras weg en wag vir ‘n geleentheid om toe te slaan. Hy wil ons verslind – om ons geloof in Christus heeltemal te vernietig.

Sommige Christene sê ons moenie eers oor die duiwel praat nie en dat ons beter af is as ons hom net ignoreer. Ander probeer om hom weg te redeneer. Liberale teoloë, byvoorbeeld, argumenteer dat daar geen duiwel, geen hel en geen hemel is nie.

Maar die vyand van ons siele sal nie sommer so weggaan nie. Min Bybelse figure is so duidelik en breedvoerig geïdentifiseer. Hy word beskryf as Lucifer, Satan, duiwel, verleier, die bose, indringer, bedrieër, aanklaer, een wat verslind, god van hierdie wêreld, heerser van duisternis en ou slang.

Hierdie emfatiese beskrywings vertel vir my die duiwel is ‘n werklikheid. En ons weet uit die Skrif dat hy ‘n baie werklike mag uitoefen. Hy is selfs tans aan die werk op die aarde – in ons nasies, stede, kerke, huise en individuele lewens. En ons kan nie waag om onkundig te wees oor sy metodes en strategië van oorlogvoering teen ons nie.

Die Apostel Johannes sê vir ons dat die duiwel in die geskiedenis drie keer oorlog verklaar het.

Openbaring 12 beskryf drie gevalle waar Satan oorlog verklaar het:

1. Eerste het hy oorlog verklaar teen Almagtige God self. Johannes skryf:

“En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:7-9).

Hierdie gedeelte bring in herinnering die oomblik in die hemel toe Satan in opstand gekom het teen God se oppergesag. Op hierdie tydstip was hy bekend as Lucifer, ‘n engel wat groot gesag gehad het. Maar Lucifer wou soos God wees. Daarom het hy ‘n derde van die engele gewerf en ‘n opstand teen die Almagtige gelei.

Maar God het Lucifer uit die hemel gewerp, saam met al die ander rebelse engele. Die ganse hemel het gejuig oor hierdie oorwinning. Die duiwel het die oorlog verloor, sowel as sy plek in die hemel.

2. ‘n Verslane Satan het toe sy tweede oorlog verklaar – hierdie een teen God se Seun, Jesus Christus. Johannes skryf:

“En ‘n groot teken het in die hemel verskyn: ‘n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ‘n kroon van twaalf sterre; en sy was swanger en het uitgeroep in haar weë en barensnood.

“En ‘n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het” (Openbaring 12:1-4).

Satan het geweet ‘n ontsaglike kerk was op die punt om gebore te word uit die Ou Testamentiese oorblyfsel. Dit sou ‘n glorieryke liggaam wees, geklee met die son van geregtigheid. Daarom het die duiwel weereens oorlog verklaar en geredeneer dat hy nou op sy eie gebied, die aarde, kon oorlog voer.

Hierdie gedeelte dui daarop dat Satan geweet het hy kon nie die Kind in Maria se baarmoeder bykom nie. Daarom het hy besluit om Christus te vernietig sodra Hy gebore is. Hy het al sy demoniese magte rondom Betlehem vergader en het geeste van misleiding gestuur om die skrifgeleerdes, priesters en Fariseërs te verblind. Toe het sy eie gees Koning Herodus binnegedring en van hom besit geneem. As Satan self nie vir Christus kon doodmaak nie, sou hy ‘n man byderhand hou, gereed om dit namens hom te doen.

Maar die Here se leërs van hemelse engele het gewaak oor die kind, sodat Satan Hom nie kon aanraak nie. Die duiwel sou nog dertig jaar moes wag om Christus te probeer verslind.

Hy het sy volgende kans waargeneem aan die begin van Jesus se bediening, toe die Heilige Gees verklaar het dat Hy die Messias is. Op daardie tydstip, het Satan Christus in die wildernis ingelei om Hom te versoek. Tog het Jesus hom in daardie oorlog ook verslaan. God het weer sy Seun beskerm en engele gestuur om Hom te dien in sy tyd van fisieke swakheid.

Die duiwel sou een laaste keer probeer om Christus te verslind. Hierdie keer het Hy magte in plek gestel om Jesus te probeer doodmaak aan die kruis en Hom in die graf te gooi. Hy het sy demoniese geeste gestuur om ‘n bende op te steek en het die liggame van priesters, soldate, politieke leiers en valse getuienisse beset. Uiteindelik, het Satan gedink, het hy sy uur van mag gehad. Nou sou hy ‘n volskaalse oorlog voer.

Jy ken die res van die storie: Opstandingsdag was Satan se mees vernederende neerlaag. Toe Jesus opgevaar het na die hemel, was Hy vir ewig buite die duiwel se bereik. “Haar kind is weggeruk na God en sy troon” (Openbaring 12:5). Die hele hel is geskud omdat Satan weer verloor het. Selfs toe hy al sy krag gebruik het, kon hy steeds nie die Seun van God verslaan nie.

3. Die duiwel het sy derde en laaste oorlog verklaar teen die saad van Christus. Dit beteken hy is in ‘n oorlog gewikkel met elke ware gelowige op die aarde. Johannes skryf:

“En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het” (vers 13). “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (vers 17).

Satan het nou sy toorn gerig op die kerk van Jesus Christus. En hy het sy ergste woede gereserveer vir gelowiges wat God se gebooie gehoorsaam en Hom vertrou.

Die duiwel weet hierdie oorlog is sy laaste kans, omdat slegs ‘n kort tydjie oorbly voordat Christus terugkeer vir sy bruid: “...omdat hy weet dat hy min tyd het” (vers 12). Daarom is Satan se oorlog teen die kerk die intenste van almal. Hy wil die grond wat hy teen Christus verloor het, terugkry – daarom sal hy alles in die stryd werp om die geloof van Christus se bruid te probeer vernietig. Dit beteken hy gaan al sy wapens teen ons gebruik – alle subtiliteite, bedrog en planne.

Ek het ywerig gebid vir ‘n openbaring van die verskriklike geestelike oorlog teen ons vyand.

Toe ek ‘n jong prediker was, het ek nie baie aandag gegee aan geestelike oorlogvoering nie. Ek het gedink dat iemand wat in oorwinning wandel, glad nie enige probleme met die duiwel sou hê nie. Vir my was dit eenvoudig ‘n saak van om hom te weerstaan. Maar gou was daar ‘n brullende leeu wat op my swakheid toegeslaan het met al sy mag – en ek het hulpeloos gevoel om teen hom oorlog te voer.

Al te dikwels sien ek die duiwel dieselfde doen teen ander opregte Christene. Ek ken menigtes van goddelike dienaars – mense, wat suiwer van hart is, wat in genade wandel – wat skielik oorweldig word deur demoniese riviere van verwarring en wanhoop.

Sulke Christene kan vir jare nougeset vir die Here arbei. Dan, eendag, spuit Satan beskuldigende gedagtes in hulle verstand in. En oornag word hulle oorval met verskriklike probleme – onverwagse versoekings, gierigheid, depressie. Hulle beproewings is so diep, vreemd en geheimsinnig dat hierdie heiliges geen idee het waar dit vandaan kom nie.

Ek glo daar is slegs een verduideliking: Hulle probleme is ‘n demoniese aanslag. Keer op keer het ek dit gesien gebeur met Christene wat met rasse skrede groei. Op die hoogtepunt van hulle geestelike groei, plaas Satan ‘n ou verleiding in hulle pad. Dit mag ‘n ou begeerte wees – iets wat hulle gedink het hulle het jare gelede reeds oorwin. Maar nou, na jare van lewe in oorwinning, is hulle in ‘n gevaarlike posisie – hulle wankel op die rand van ‘n wellustige begeerte wat hulle kan teruglei na verskriklike slawerny.

‘n Ruk gelede het ek ‘n hartverskeurende brief van dierbare senior pastoor ontvang. Hy het geskryf, “Ek is vyf-en-sestig jaar oud en die mense in my gemeente ken my as ‘n man van gebed. Maar van nêrens af, het bose gedagtes my begin teister. ‘n Begeerte, wat ek nog nooit in my lewe beleef het nie, het my oorval.

“Ek het nie aan die versoeking toegegee nie. Maar vir maande lank voer ek nou ‘n opdraende stryd. Ek weet dit is ‘n aanval van die vyand. Hy wil die bediening, wat God toegelaat het om hier te floreer, vernietig. Bid asseblief vir my.” Ek glo dit was Satan se poging om daardie dierbare heilige van God te verslind.

Christen huwelike is nou onder skoot soos nog nooit tevore nie. ‘n Paartjie kan mekaar vir jare liefhê en dan skielik in ‘n verskriklike stryd, wat hulle nie verstaan nie, gewikkel raak. Een oomblik kan ‘n getroue gade sê, “Ek is lief vir my maat” – maar net die volgende oomblik kan sy skree, “Ek kan daardie man nie verdra nie. Ek wil nie eers naby hom wees nie.” Wat kan dit anders wees as ‘n sataniese poging om ‘n goddelike huwelik te verslind en te vernietig?

Dag vir dag word hierdie paartjies meer en meer moedeloos, versoek en wanhopig. En gou oorstroom Satan hulle met allerhande beskuldigende gedagtes: “Jy is ‘n mislukking as ‘n ouer. Jy kan niks reg doen nie. En jy ken God nie intiem nie. Jy is ‘n bedrieër, ‘n huigelaar. Jy is nie wat mense dink jy is nie. Jy is ‘n swak voorbeeld van wat ‘n Christen maat behoort te wees.”

Geliefde, wat in daardie verhouding gebeur, kan nie gediagnoseer word deur ‘n berader, pastoor of sielkundige nie. Niemand kan die vernietigende gees, wat daardie huwelik vasgevang het, peil nie. Waarom? Dit is bonatuurlik, demonies – ‘n aanval reguit uit die hel. Satan val elke huis aan waar Jesus Here is. En hy sal nie rus totdat hy al sy planne opgebruik het om te verslind en vernietiging en chaos te bring nie.

Al hierdie beproewings en versoekings is bekend as die duiwel se rivier. Johannes skryf, “En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aangegooi...[om haar te laat wegvoer] en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het” (Openbaring 12:15-16). Jesaja waarsku ook dat Satan ‘n rivier sal bring teen almal wat “die Naam en die mag van die Here [eer]...die teëstander aanstorm soos 'n rivier” (Jesaja 59:19).

Ek het hierdie rivier beleef. En menigtes van gelowiges word nou daarin vasgevang. Hulle word oorstroom met vervolginge, fisieke aanvalle, verstandelike teistering, vurige versoekings en begeertes uit die hel, vriende wat teen hulle draai en hulle vyande word. Satan het ‘n volskaalse, laaste dag aanval gerig met die doel om ons weg te voer in uiterste wanhoop.

Waarom oorstroom die duiwel die regverdige met so ‘n wreedheid?

Die sleutel tot die begrip van hoe Satan teen die kerk werk, word gevind in die woord rebellie. Eenvoudig gestel, rebellie beteken om teen die heerskappy en gesag van God se woord te gaan. Toe Lucifer oorlog teen God verklaar het, het hy gerebelleer teen die woord van die Almagtige.

Jy moet verstaan – God se woord is sy krag. Daardeur spreek hy die wêrelde in wording. En daardeur word die son, maan en sterre in hulle wentelbane gehou. Sy woord het alle dinge in wording gebring en hou aan om lewe te veroorsaak. En deur sy woord, sit God konings af en rig nasies op. Daardeur, seën en red, oordeel en vernietig Hy.

Satan se doel is altyd om God se mense te versoek om teen sy woord in opstand te kom. Hy het gedagtes van rebellie in Adam en Eva geplant en het hulle laat redeneer, “Ek weet wat God gesê het. Maar ek gaan volgens my eie wil optree.” Daardie gedagtes het die mensdom se val veroorsaak.

Satan het ook sukses gehad om saad van rebellie in God se uitverkore volk, Israel, te plant. Die Psalmis sê Israel was “’n koppige en wederstrewige geslag, ‘n geslag met ‘n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie” (Psalm 78:8). Die Skrif sê ook van Israel, “Maar julle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die HERE julle God” (Deuteronómium 1:26).

Let asseblief op — God het sy woord baie duidelik aan al hierdie mense geopenbaar. En tog het hulle daarteen gerebelleer. Waarom? Hulle was verlei deur die bose.

Satan sal ook probeer om jou te versoek om teen God se woord te rebelleer. Hy weet hy kan jou nie bykom deur blatante versoekings nie. Daarom sal hy subtiele verleidings in jou gedagtes inspuit, deur jou lewe te oorstroom met pyn, beproewings en stryd. En hy sal probeer om God se seëning in jou lewe te keer, net soos hy Paulus in sy bediening verhinder het.

Talle het die prooi geword van Satan se subtiele verleidings. Die Psalmis sê sulke gelowiges sit in “in duisternis en doodskaduwee...gevang in ellende en ysters — omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het” (Psalm 107:10-11).

Die duiwel soek na een enkele gebied in ons lewens wat ons nie onderwerp het aan God se Woord nie.

Satan stel nie daarin belang om jou in ‘n goddelose te verander nie. Al wat hy van jou wil hê, is om in slegs een gebied in jou lewe wederstrewig te wees. Dit sal hom genoeg ruimte toelaat om ‘n vastrapplek te kry.

Op hierdie oomblik het hy owerhede en magte opdrag gegee om hom te voorsien met intelligensieverslae oor ons lewens. Hierdie demoniese entiteite lees ons aksies en hoor ons gesprekke. En wanneer hulle ‘n vleeslike swakheid in ons sien, rig hulle al hul helse versoekings op daardie swak gebied.

Jesus het vir sy dissipels gesê, “Die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30). Hy het in wese gesê, “Wanneer Satan my aanval, kan hy nêrens ‘n plek kry waar hy enige vastrapplek kan kry nie. Ek is heeltemal onder die gesag van my Vader.”

Net so, kan Satan nie die liggaam of gees van enige gelowige, wie se lewe heeltemal aan God se woord onderwerp is, binnegaan nie. Hy moet ‘n plek gegee word om ‘n vastrapplek te kry. En dit gebeur slegs wanneer ‘n persoon “deel van die prys” terughou. Laat my verduidelik.

In handelinge 5 het ‘n paartjie genaamd Ananias en Saffira ‘n deel van hulle grond verkoop en die opbrengs daarvan aan die nuwe kerk in Jerusalem geskenk. Toe hulle egter die bedrag voor Petrus se voete gaan neerlê het, was die apostel uit die veld geslaan. Hy het vir hulle gevra, “Waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou?” (Handelinge 5:3). Petrus het skaars die woorde tot die paartjie gespreek en hulle het op die plek dood neergeslaan.

Wat is die les wat God vir die kerk hierdeur wou leer? Ek glo nie dit het enigiets te doen gehad met die fisiese stuk grond wat Ananias en Saffira besit het nie. Dit het liewer te doen gehad met die innerlike grondgebied van hulle harte.

Die paartjie het geglo hulle kon 95 persent gehoorsaam aan God wees, maar veilig ongehoorsaam bly op een klein gebied. Hulle het die verkondiging van God se suiwer woord gehoor – maar hulle was wederstrewig teen wat hulle geweet het waar was. Hulle het hulself oortuig, “Ons kan die Here dien, terwyl ons vashou aan hierdie een klein dingetjie.” Dit was ‘n leuen vir die Heilige Gees.

So, die deel van die prys wat hulle teruggehou het, het niks te doen gehad met geld nie, maar met ‘n klein bietjie gierigheid in hulle harte. Dit was net groot genoeg om vir Satan ‘n vesting te gee. En met daardie een hardnekkige ongehoorsaamheid, het hulle toegelaat dat die vyand hul harte gevul het.

Dit is waarom Paulus waarsku, “En gee aan die duiwel geen plek nie” (Efésiërs 4:27). Die voorbeeld van Ananias en Saffira is duidelik: Die prys van ‘n oorwinnende lewe is nie ‘n geringe saak nie. Dit beteken om ons lewens ten volle aan God se woord te onderwerp, met geen donker plekke, verborge begeertes of rebellie meer nie. Moenie Satan ‘n duim grond gee nie. Dit is al wat hy nodig het om ingang te vind en ‘n magsbasis te vestig.

Ek wil vir jou voorbeelde gee van hoe Satan grond in ons lewens kan opeis.

1. Die outeur van Hebreërs sê vir ons: “En laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:25).

Jy mag waarlik ‘n wonderlike mens wees – vriendelik, bedagsaam en vrygewig. Maar as jy hierdie woord van Hebreërs lees en dit doelbewus ignoreer, gee jy vir Satan grondgebied. As jy week na week in die bed bly lê op Sondag oggende, in plaas daarvan om na God se huis te gaan om aangespoor te word tot geregtigheid, het jy die verleier ‘n plek in jou hart gegee. Soos Ananias en Saffira, hou jy ‘n deel van die prys terug.

Die volgende vers beskryf die oordeel wat ons ly wanneer ons ‘n enkele gebied van God se woord verwaarloos: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons  die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer” (verse 26-27).

2. Jesus sê vir ons, “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie” (Matthéüs 6:14-15).

Christus waarsku ons, “Jy mag gehoorsaam wees op elke ander gebied in jou lewe – opreg, toegewyd en getrou. Maar as jy aan onvergewensgesindheid teenoor iemand vashou, dan stapel jou eie sondes teen jou op, onvergewe deur die Vader.”

Om aan onvergewensindheid vas te hou, maak van jou ‘n groter skuldenaar as die een wat teen jou gesondig het. Daardie persoon mag dit dalk reeds bely en hom bekeer het en vergewe wees deur die Here. Maar as jy aan jou seerkry vashou, eis jy van hom ‘n prys wat Jesus reeds betaal het. En jy kan dit nie van iemand eis nie.

Die werklike gevaar van onvergewensgesindheid is dat jy jou hart oopmaak vir sataniese indringing. Die vyand slaan sy penne op daardie klein stukkie grond in, rig sy vesting op en begin sy werk om jou te verslind. En jy het toegelaat dat dit gebeur deur ‘n deel van die prys terug te hou.

3. Jakobus vertel vir ons, “Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle harte het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dit is nie wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, sinliks, duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade” (Jakobus 3:14-16).

Let op met wie Jakobus hier praat. In vers 13 sê hy, “Wie is wys en verstandig onder julle?” Hy sê in wese vir ons, “Jy mag groot geestelike wysheid en kennis besit. Maar as daar bitterheid in jou huis, selfsug in jou hart en afguns by jou werkplek is – moenie dink dat jy enigsins geestelik is nie. Jy is onder ‘n leuenagtige dwaling.”

As Jakobus praat van selfsug en bitterheid, praat hy van twis en foutvind. En hy sê dit alles is duiwels, sensueel, werke van boosheid. Kortliks, enigeen wat vashou aan bitterheid, veroorsaak selfsug – en nog erger, hy maak sy hart oop vir demoniese besetenheid.

Ken jy mense wie se bitterheid tot sataniese besetenheid gelei het? Met verloop van tyd, het hulle uiterlike persoon die duisternis wat hulle binne gehou het, begin manifesteer. Uiteindelik begin hulle liggame ineenstort, hulle word siek en verskrompel en hulle lei geestelike versteurings. Wanneer die duiwel sulke grond gegee word, werk hy uiterste vernietiging.

So, gaan voort – hou jou wrok. Hou jou bitterheid. Hou aan om selfsug op te wek. As jy dit doen, dan sal jy in algehele rebellie teen God en sy woord wees. En jy sal jouself oopmaak vir Satan. Jy sal geestelik blind word en hou hart sal verhard.

Aan die ander kant, as jy geestelik is – gewillig is om gehoorsaam te wees aan God se woord – dan, maak nie saak hoe seergemaak jy is nie, jy sal die vredevolle wysheid van sagmoedigheid toon deur te vergewe.

4. Op ‘n onlangse reis na Jerusalem, het ek ‘n magtige voorbeeld gesien van hoe Satan ‘n demoniese vastrapplek op selfs die kleinste stukkie grond kry. Toe ek van die Olyfberg afgekyk het na die heilige stad, het ek die stuk grond gesien waar die Moslem Rotskoepel Tempel staan. Daardie klein stukkie grond is miskien net ‘n gedeelte van ‘n akker.

Tog het die Satan sy hande daarop gekry en ‘n tempel vir homself opgerig. En nou het dit ‘n gruwel van verwoesting geword soos dit in die Skrif genoem word. Die duiwel het dit reggekry om sy magte te fokus in die middelpunt van God se eens uitverkore volk, Israel. En dit het alles gebeur omdat hy net ‘n klein vastrapplek gekry het. Dit is ‘n duidelike toneel van wat Satan doen as hy selfs die kleinste stukkie grond wen.

Watter soort verdediging het ons teen die een wat verslind?

As jy enige Christen vra hoe om teen die duiwel te stry, sal hy waarskynlik Jakobus 4:7 opsê, “Weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” Maar wat bedoel Jakobus met weerstaan? Hoe weerstaan ons Satan se mag?

Johannes gee vir ons die antwoord in Openbaring 12: “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis” (Openbaring 12:11). As jy die brul van die leeu hoor – wanneer die rivier instroom en jy oorweldig word – hardloop eenvoudig na die allerheiligste. Gaan deur geloof in na die teenwoordigheid van God op sy troon – omdat die Lam vir jou die weg gebaan het, deur sy bloed.

“Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit sy vlees” (Hebreërs 10:19-20).

Wanneer jy alleen met God in gebed verkeer, is jy heeltemal immuun teen die duiwel se planne. So, hardloop na sy troon deur geloof, roep Hom aan en staan op die krag van Christus se bloed.

Johannes skryf dan, “Maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd en tye en halwe tyd” (Openbaring 12:14). Ek glo die twee arendsvlerke wat hier genoeg word, is die Ou en Nuwe Testamente van God se woord. Hy het dit vir ons gegee om ons te dra na ‘n plek waar ons onderhou en gevoed word, sodat wanneer die duiwel teen ons kom, ons bo-oor hom kan vlieg met die vlerke van God se woord.

Die apostel Paulus gebruik die woord voed waar hy skryf, “terwyl jy jouself voed met die woorde van die geloof van die goeie leer” (1 Timótheüs 4:6). Die Griekse woord vir voed hier beteken opvoed. Paulus praat daarvan om  onderrig te word in die Skrif, om kundig te wees oor God se woord.

Jesus is ons voorbeeld hier. Toe Hy versoeking weerstaan het met God se woord, het die duiwel gevlug. Waarom? Die waarheid het Satan ontbloot en hom tot skande gemaak. En Hebreërs sê dat almal wat op God se woord vertrou het, het “deur geloof koninkryke oorweldig... geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop” (Hebreërs 11:33). Ons muilband die magte van die hel deur op God se woord te staan.

So, wanneer jy die leeu se gebrul hoor, val op jou aangesig neer voor die Vader. En verdiep jouself in sy woord. Sy arendsvlerke sal jou dra oor elke oorweldigende stroom van versoeking.