Reputasie Neerlê om ‘n Dienaar van Christus te Word

David Wilkerson

“Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was” (Filippense 2:5).

“Maar ons het die sin van Christus” (1 Korinthiërs 2:16).

“En dat julle vernuwe word in die gees van julle gemoed” (Efésiërs 4:23).

Hierdie vermanings kom almal van die apostel Paulus. Hy vertel die mense van God, “Laat die gedagtes en gesindheid wat in Christus is — die denke van Jesus — ook jou denke wees. Sy gedagtes is dit wat ons almal moet soek.”

Wat beteken dit om die gedagtes en gesindheid van Christus te hê? Eenvoudig gestel, dit beteken om te dink en op te tree soos Jesus gedoen het. Dit beteken om besluite te neem soos Christus sou, om te bepaal hoe ons moet lewe. Dit beteken om elke fakulteit van ons verstand te gebruik om vas te stel hoe ons werklik die gesindheid van Christus kan hê.

Elke keer wat ons in die spieël van God se Woord kyk, moet ons onsself afvra: “Weerspieël dit wat ek van myself sien die aard en gedagtes van Christus? Verander ek van beeld tot beeld om gelykvorming te word aan Jesus se gelykenis deur elke ervaring wat God in my lewe inbring?”

Volgens Paulus, is die volgende die gesindheid van Christus: “Maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word” (Filippense 2:7).

Jesus het ‘n besluit geneem toe Hy nog in die hemel was. Hy het ‘n verbond met die Vader gemaak om sy hemelse heerlikheid af te lê en na die aarde toe te kom as ‘n mens. Hy sou na die aarde toe neerdaal as ‘n nederige dienaar. En Hy sou bedien eerder as om bedien te word.

Vir Christus, het dit beteken om te sê, “Ek gaan om u wil te doen, Vader.” Inderdaad, Jesus het voor die tyd besluit, “Ek gaan my wil neerlê om u wil te doen, Vader. Ek onderwerp my wil sodat Ek u s’n kan aanvaar. Alles wat Ek sê en doen moet van U af kom. Ek lê alles neer om totaal van U afhanklik te wees.”

Op sy beurt, was die Vader se verbondsooreenkoms met die Seun om sy wil aan Hom te openbaar. In wese het God vir Hom gesê, “My wil sal nooit vir jou verborge wees nie. Jy sal altyd weet wat Ek doen en hoe Ek dit doen. Jy sal my gedagtes hê.”

Baie mense wat vandag daarop aanspraak maak dat hulle volgelinge van Jesus is, het nog nooit ‘n besluit geneem om te leef soos die Here het nie. In plaas daarvan, het hulle gemaklik met hulle vlees gelewe — hulle buie, hulle karakterfoute en hulle boesemsondes. En hulle wou nog nooit verander nie. Hulle sê, “Dit is net my aard. Dit is hoe ek is.”

Maar toe Paulus dit duidelik verklaar het, “Ek het die sin van Christus,” het hy verklaar: “Ek het ook my reputasie afgelê. Net soos Jesus, het ek die rol van ‘n dienskneg aangeneem.” En Paulus beweer dat dieselfde vir elke gelowige geld: “Maar ons [almal] het die sin van Christus” (1 Korinthiërs 2:16).

Jy mag wonder: wanneer en hoe het Paulus werklik die lewe van ‘n slaaf aangeneem? Hierdie man was ‘n vervolger van gelowiges en ‘n moordenaar in sy hart. Hoe kon so ‘n man ooit die gesindheid van Christus hê?

Paulus kon presies sê wanneer dit gebeur het. Handelinge 9 beskryf hoe en waar sy besluit plaasgevind het: in Damaskus, in ‘n straat met die naam Reguit, in die huis van ‘n man genaamd Judas.

Toe was Paulus steeds bekend as Saulus. Hy was met ‘n klein leër op pad na Damaskus om Christene gevange te neem en hulle na Jerusalem terug te bring om hulle in die tronk te gooi en te martel. Maar Jesus het aan Saulus verskyn op die Damaskus pad, hom verblind en hom gelei om na Judas se huis in Reguitstraat te gaan. “En drie dae lank het hy (Saulus) niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie” (Handelinge 9:9).

In daardie drie dae se tyd, was Saulus se verstand vernuwe. Hy het die hele tyd in intense gebed gespandeer, waarin hy sy vorige lewe in gedagtenis gebring het. En wat hy daarvan gesien het, het hy nou verag. Dit was toe Saulus Paulus geword het.

Hierdie man was eens baie hoogmoedig. Hy was vol misleide ywer en het die goedkeuring van ander hoogmoedige, eendersdenkende godsdienstige mans gesoek. Maar toe het hy gesê, “Christus het gekom en Homself in my geopenbaar en ek het my ou weë afgelê. Ek sal nie meer mense behaag nie en ook nie godsdienstige neigings navolg nie. Ek behoort nou aan Christus.”

“Ja, waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry” (Filippense 3:8).

Paulus was ‘n man wat kon sê, “Eens was ek iemand. Al my eweknieë, insluitende my mede Fariseërs het hoë agting vir my gehad. Ek was ‘n Fariseër tussen Fariseërs, het opgang gemaak en ek was geag as ‘n heilige man, ‘n magtige leermeester van die wet. Ek het ‘n reputasie gehad in die land en was onberispelik in die oë van die mense.

“Maar toe Christus my gevange geneem het, het alles verander. Die strewe, die mededinging — alles wat ek gedink het my lewe betekenis gegee het — was neergelê. Ek het gesien dat ek die Here heeltemal gemis het.”

Paulus het eens gedink sy godsdienstige ambisies — sy ywer, sy mededingende gees, sy werke en sy besig wees — was alles geregtigheid. Hy het gedink dit was alles vir God se verheerliking. Nou het Christus aan hom geopenbaar dat dit alles vlees was, alles vir homself.

Daarom het Paulus verklaar, “Ek het alle begeerte vir sukses en erkenning laat vaar. En ek het besluit om ‘n dienaar te wees.” “Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win” (1 Korinthiërs 9:19).

Paulus het gesien dat Jesus self die lewe van ‘n dienskneg aangeneem het. Hier was die Seun van God, maar met die hart van ‘n dienskneg. Net so het Paulus  geweet dat hy ook ‘n seun van God gemaak is deur Christus se offer aan die kruis. Maar, soos Jesus, het hy ook begeer om ‘n seun te wees met die hart van ‘n dienskneg. Daarom het hy besluit om ‘n slaaf van Christus en sy kerk te word.

Geliefde, ek weet ook dat ek ‘n seun van God is. En net soos Paulus wil ek ook die dienende hart van Christus hê. “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was” (Filippense 2:5). Om dieselfde gesindheid van Jesus te hê beteken om verder as teologie te gaan. Dit beteken om ons eie wil af te lê en Jesus se belange op te neem.

Die Heilige Gees het na ‘n goddelike man genaamd Ananías, wat in Damaskus gelewe het, gekom. Die Gees het hierdie man beveel om na Judas se huis in Reguitstraat te gaan en hande op Saulus te lê sodat hy weer kon sien.

Natuurlik, het Ananías van Saulus se reputasie geweet. En hy het besef dat dit gevaarlik sou wees. Tog, die Heilige Gees het vir Saulus by Ananías voorspraak gemaak as volg: “Want kyk, hy bid” (Handelinge 9:11).

Die Here het in wese gesê, “Ananías, jy sal hierdie man op sy knieë vind. Hy weet jy kom, Hy weet selfs jou naam en waarom jy na hom gestuur is. Hy wil sy oë oopgemaak hê.”

Wanneer het Saulus hierdie innerlike wete ontvang? Hoe het hy sy visioen ontvang, hierdie suiwer woord van God? Dit het tydens vurige gebed en smekinge gekom. In werklikheid, ek glo die Gees se woorde aan Ananías openbaar wat God se hart oor Saulus aangeraak het: “Kyk, hy bid.”

Saulus was met die Here toegesluit vir drie dae waarin hy alle kos en water geweier het. Al wat hy wou hê, was die Here. Daarom het hy die hele tyd op sy knieë gebly en God gesoek.

Toe ek grootgeword het, het my prediker vader my geleer, “God maak altyd ‘n weg vir ‘n biddende man.” Daar was tydperke in my lewe waartydens die Here onweerlegbare bewyse hiervan voorsien het.

Ek was geroep om te preek toe ek agt jaar oud was en die Heilige Gees op my gekom het. Ek het geween, uitgestrek op my aangesig geval en biddend uitgeroep, “Vul my, Here Jesus.” Later, as ‘n tiener, het ek gebid totdat die Heilige Gees op my gekom het met goddelike intensiteit.

As ‘n jong pastoor in Pennsylvania, het ‘n diepe honger in my opgekom en dit het my ywerig en getrou laat bid. Iets in my hart het my vertel, “Daar is meer daaraan om Jesus te dien as wat ek doen. O, Here, ek kan nie so ver benede, wat ek in u woord lees, lewe nie. Ek sal liewer sterf as wat ek so selfsugtig lewe as wat ek het.”

Daarom het ek drie maande op my knieë gespandeer – geween en gebid vir ure aaneen – toe uiteindelik het die Here my geroep om na New York Stad te gaan om bendes en dwelmverslaafdes te bedien. Dit was meer as veertig jaar gelede.

Ek was ook op my knieë agtien jaar gelede toe ek God met trane en harde geroep gesoek het en Hy my teruggeroep het na New York toe om ‘n kerk in Times Square te begin. Weereens het die Here gesê, “Gee my jou wil, David. Ek wil hê dat jy my gesindheid en my besorgdheid sal hê.”

As ek ooit van God gehoor het – as ek enige openbaring van Christus het, enige mate van die gedagtes van Christus – het dit nie slegs deur Bybelstudie gekom nie. Dit het deur gebed gekom. Dit het gekom deurdat ek God in die binnekamer gesoek het. As daar enige sigbare mate van Christus in my is, is dit omdat ek tyd met Hom in my binnekamer gespandeer het.

Daar is verskriklike, ernstige gevolge as mens gebed afskeep. “Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam” (Hebreërs 2:3). Hoe kan enige van ons wat in Christus is, verwag om die gevolge van biddeloosheid vry te spring?

Ek weet wat dit is wanneer die hoofpad van seëninge in my lewe stadig onbekend begin word. Ek weet wat dit is om die put van lewende water verstop te hê by die fontein en elke seëning in my lewe laat opdroog. Dit is wat gebeur tydens tye waarin ek gebed afgeskeep het.

In daardie tye, bestaan my gebed net uit meditasie en stilte tye. Ek het geen doeltreffende vurigheid en erns in my gebed gehad nie. Waarom? Die sorge van die lewe het my van my tyd met die Here beroof.

So, wat het met my in daardie tye gebeur? Dienaarskap het in selfbejammering verander. Bediening het ‘n las geword, nie ‘n seën nie. En ellende op ellende het my siel binne gestroom.

Ek het gestry met eensaamheid, moegheid, ongeloof, ‘n knaende gevoel dat ek min in die lewe bereik het en ek het selfs daaraan gedink om die bediening te verlaat. En die seëninge van God was verhinder: my verhoudings het versuur, ek het onderskeiding verloor en vars openbarings van Christus het nie langer gekom nie.

Ek het egter ook die heerlikheid geken om na die Here in gebed terug te keer. So gou as wat ek na my binnekamer van gebed teruggekeer het, het die seëninge weer begin instroom. Ek het blydskap en vrede gehad, verhoudings is herstel en God se Woord het lewend geword.

“En hy (Ussía) het God gedurig gesoek in die dae van Sagaría...en in die dae wat hy die HERE gesoek het, het God hom voorspoedig gemaak” (2 Kronieke 26:5). “(Koning Asa) het die HERE onse God gesoek...en Hy het ons rus verskaf rondom” (2 Kronieke 14:7). ““En die hele Juda...het met hul hele hart gesweer en met hul hele wil Hom gesoek; en Hy het Hom deur hulle laat vind, en die HERE het hulle rus verskaf rondomt” (2 Kronieke 15:15).

Die Skrif maak dit duidelik: biddende dienaars vind seëninge en rus aan elke kant.

As ek mense wil behaag, kan ek nie ‘n dienaar van Christus wees nie. As my hart gemotiveer word deur die goedkeuring van ander — as dit my gesindheid is en die manier waarop ek lewe beïnvloed — sal my lojaliteite verdeeld wees. Ek sal altyd streef om iemand anders as Jesus te behaag.

‘n Paar jaar na die apostel Paulus bekeer is, het hy na die kerk in Jerusalem gegaan om te probeer om by die dissipels aan te sluit. “Maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy ‘n dissipel was nie" (Handelinge 9:26).

Die apostels het Paulus se reputasie as ‘n vervolger geken. “En ek was persoonlik onbekend by die Christelike gemeentes in Judéa; hulle het gehoor: hy wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër besig was om te vernietig” (Galasiërs 1:22–23).

Bárnabas het die apostels gehelp om oor hulle vrees vir Paulus te kom, en hulle het hom gemeenskap aangebied. Maar Paulus het besluit om na die Heidene te gaan. Inderdaad, Paulus was noukeurig om sy roeping baie duidelik te beskryf. Hy het verklaar dat dit “nie vanweë mense of deur ‘n mens nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het” (Galasiërs 1:1).

Hy het toe uitdruklik bygevoeg: “Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus Christus...het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie” (Galasiërs 1:11–12, 16).

Wat Paulus hier sê, is van toepassing op almal wat die begeerte het om die gesindheid van Christus te hê: “Ek het nie boeke gehad om te lees of mense se metodes gebruik om te kry wat ek het nie. Ek het my boodskap, my bediening en my salwing op my knieë ontvang.

“Ek vertel jou, hierdie dinge het na my gekom terwyl ek saam met die Here toegesluit was in gebed en vas. Enige openbaring van Christus wat ek het, kom van die Heilige Gees, wat in my woon en my lei. Ek kan nie toelaat dat ek die neigings en werktuie van ander gebruik nie.”

Trouens, Paulus wys daarop dat voor hy ooit besluit het om na Jerusalem terug te gaan, het hy “na Arabië vertrek” (Galasiërs 1:17). Hy sê met ander woorde: “Ek het nie my openbaring van Christus van die heiliges in Jerusalem gekry nie. In plaas daarvan, het ek na Arabië, na die woestyn, gegaan om Christus aan my geopenbaar te kry. Ek het kosbare tyd daar gespandeer, het van self ontledig geword en het geluister en geleer by die Heilige Gees.”

Verstaan asseblief: Paulus was nie ‘n trotse, arrogante, alleenlopende prediker nie. Ons weet reeds dat hy die hart van ‘n dienaar gehad het. Hy het homself ontledig van alle eie ambisie en het totale tevredenheid en vervulling in Christus gekry.

Paulus het nie een enkele persoon nodig gehad om hom te wys hoe om Christus te verkondig nie, of hoe om sondaars te wen vir die evangelie nie. Die Heilige Gees was nou sy leermeester.

Toe Christus sy algehele vervulling geword het, het Paulus sy gedagtes op die hemelse dinge gerig:

“As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God” (Kolossense 3:1–3).

Dit is jammer dat dit nie die gewoonte is van baie Christene vandag nie. ‘n Kerkleier het eenkeer aan my bely, “My vader was sy lewe lank ‘n brandarm sendeling. Toe hy afgetree het, was hy steeds arm. Hy het skaars genoeg gehad om te oorleef.”

“Ek was ook geroep tot die bediening, maar ek was vasbeslote om nie soos my pa te wees nie. Ek sou ‘n bedienaar wees wat goed geleef het. Ek het gesweer dat ek geld sal maak en dit belê, sodat ek voortdurend dit wat ek gehad het, voortdurend kon laat groei.”

Hierdie man het geld gemaak. Maar sy motiewe was heeltemal verkeerd. Hy het op sy eie vermoëns vertrou om ‘n toekoms te bou en vir sy familie te sorg. Op die ou end het al sy beleggings verkeerd geloop en hy het gewikkel geraak in ‘n geskil oor sy finansies.

Dank die Here, uiteindelik was hy teruggedryf na Christus toe. En hy het berou gehad en bely dat hy sy gedagtes op die dinge van die wêreld geplaas het. Nou is hy vasbeslote om die gedagtes en gesindheid van Christus te hê en dinge is besig om ten goede vir hom te verander.

Dit was aan die Christene in Filippi wat Paulus eerste hierdie waarheid vertel het, “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.” Paulus het hierdie boodskap geskryf toe hy in Rome in gevangenskap was.

Dit was vanuit ‘n tronksel wat Paulus verklaar het dat hy die gesindheid van Christus het en sy reputasie neergelê het om ‘n dienaar van Jesus en sy kerk te word. Hy het geskryf, “En ek hoop in die Here Jesus om Timótheüs gou na julle te stuur, sodat ek ook welgemoed kan wees as ek julle omstandighede te wete gekom het” (Filippense 2:19).

Dit is die denkwyse, die uitwerking, van die gedagtes van Christus. Dink daaraan: hier was ‘n herder wat in die tronk gesit het. Tog het hy nie aan sy eie gemak of sy eie moeilike situasie gedink nie. Hy was begaan oor die geestelike en fisiese toestand van sy mense. En hy het sy skape vertel, “My vertroosting sal slegs kom wanneer ek weet dat dit in gees en in liggaam goed met julle gaan. Daarom stuur ek Timótheüs om namens my uit te vind hoe dit met julle gaan.”

Toe het Paulus hierdie onrusbarende verklaring gemaak: “Want ek het niemand van dieselfde gesindheid wat julle belange opreg sal behartig nie” (Filippense 2:20). Wat ‘n droewige stelling! Toe Paulus dit geskryf het, het die kerk in Rome gegroei en was geseënd. Daar was duidelik godvresende leiers in die Romeinse kerk. Maar, Paulus sê, “Ek het niemand saam met my wat die gesindheid van Christus het nie.” Waarom was dit so?

“Want hulle soek almal hul eie belange, nie dié van Christus Jesus nie” (Filippense 2:21). Klaarblyklik was daar geen leier in Rome met die hart van ‘n dienaar nie — nie een wat sy eie reputasie opsy geskuif het en ‘n lewende offer geword nie. In plaas daarvan, was almal vasbeslote om hulle eie belange na te streef. Niemand het die gesindheid van Jesus gehad nie. Paulus kon niemand vertrou om na Filíppi toe te gaan om ‘n ware dienaar vir daardie liggaam van gelowiges te wees nie.

Paulus se woorde kan nie sagkens gestel word nie: “Almal dink net aan hulleself. Daardie bedienaars wil net hulself bevoordeel. Dit is waarom hier niemand is, behalwe Timótheüs, wat ek kan vertrou om vir julle behoeftes en hartseer te sorg nie.”

As ons vandag na die kerk kyk, sien ons dieselfde dinge in baie gemeentes gebeur. Bedienaars en gemeentelede jaag almal agter die dinge van die wêreld aan: geld, reputasie, materialisme en sukses. Hulle is geroep om die kerk van Jesus Christus te dien, maar hulle het nie die gesindheid van Christus nie. En Jesus se gesindheid is een van opoffering, liefde en sorg vir ander. In Paulus se woorde, “Almal het hulle eie agenda.”

Ons lewe in ‘n tyd waar daar ‘n wêreldwye bedreiging van ‘n beplande kern of chemiese ontploffing is. Miljoene mense se harte beswyk van vrees. En die kerk van Jesus Christus word uitgedaag soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie.

Terwyl ek hierdie dinge opmerk, vra ek: “Waar is die stem van gesag in Christus? Waar is die herders, die gemeente, die gewone Christene wat net soos Jesus dink? Waar is diegene wat nie hulle eie agenda’s nastreef nie, maar wat die gesindheid van die Here soek in hierdie tye?”

Diegene wat daarop gefokus is om hulleself te verbeter, dryf weg van intimiteit met Jesus. Hulle mag Christus verkondig, maar hulle ken Hom al hoe minder. En hulle maak hulleself oop vir groot versoekings.

Ek vra jou: Floreer jou kerk, hoewel niemand skynbaar eensgesind met Paulus is of hulle gedagtes op die belange van Christus rig nie? Wat van jou? Wanneer jy iemand sien wat werkloos is, bid jy vir hulle? Probeer jy altyd maniere soek om van hulp te wees, om te dien?

Waar is die jong Timótheüs van vandag? Waar is die jong mans en vroue van God wat die sirene oproep vir sukses en erkenning sal verwerp — en in plaas daarvan hulle harte sal rig op vurige gebed en daardeur alles in hulle lewens daaraan onderwerp om ware dienaars van Christus en sy kerk te word?

Ons gebed moet wees: “Here, ek wil nie net op myself gefokus wees in ‘n wêreld wat buite beheer raak nie. Ek wil nie begaan wees oor my eie toekoms nie. Here, gee asseblief vir my u gesindheid, u gedagtes, u besorgdheid. Ek wil u hart van ‘n dienaar hê.” Amen.