PROBEER JY TE HARD?

Gary Wilkerson

Vandag word baie Christene uitgeput deur hulle eie pogings om sonde te weerstaan. Hulle word getap van elke laaste brokkie blydskap, en die oorwinning wat Christus vir ons behaal het, raak verlore in hulle verbete pogings om ‘n geregtigheid van hulle eie op te rig.

Geregtigheid wat deur enigiets anders as geloof opgerig is, sal altyd misluk. Jy sien, daar kan nie beide God se geregtigheid en ons s’n wees nie. Dit sou beteken daar is twee evangelies: Syne en ons s’n. Ons kan nie ons eie-geregtigheid met God se heilige geregtigheid meng nie.

Maar is ons nie veronderstel om ‘n poging aan te wend nie? Sê die Bybel nie dat ons sonde moet vermy nie? Ja, maar daar is slegs een manier vir jou om sonde te vermy en dit is deur Jesus. Hy is nie net ‘n waarheid wat jy aanvaar nie, Hy is die Lewende God en Sy heiligmakende werk in jou hou nooit op nie, dag of nag.

Paulus antwoord op die vraag van eie-pogings in Romeine 9. Hy praat van ‘n volk wat waarlik geregtigheid bereik het: “Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is” (Romeine 9:30). Hierdie mense was nie uitgeput deur hulle eie pogings nie. Hulle was nie deur hulle mislukkings afgetrek nie. Hulle het al hulle geloof in Jesus se werk vir hulle aan die kruis geplaas – en hulle is onderhou deur Sy oorvloedige lewe.

“Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Romeine 10:4). Hierdie vers het vryheid vir alle geslagte gelowiges gebring. Christus is die einde. Daar is niks anders nie! “So hang dit nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is” (Romeine 9:16).

Vriend, is jy moeg daarvoor om te probeer om beter te word? Is jy gedaan van die eindelose kringloop van hertoewyding en mislukking? Plaas dit alles agter jou; laat staan jou strewing. Jou geregtigheid voor die Here hang nie van jou wil af nie, maar van God, wat genade aan ons betoon.