PLEIT GOD SE BELOFTES VIR HIERDIE GENERASIE

David Wilkerson (1931-2011)

Amerika se kinders van vandag is ‘n verlore generasie. Geen generasie in die geskiedenis was so geteister deur seks, dwelms, alkohol, hebsug en moord op so ‘n vroeë ouderdom nie. Wie is daarvoor te blameer?

Ons opvoedingstelsel het veragtelik en verdraaid geword omdat onderwysers leerlinge voorstel aan ateïsme, evolusie, perversie, permissiewe seksuele houdings en anti-godsdienstige dwepery. ‘n Onderwyser kan nie ‘n Bybel op sy lessenaar neersit nie – maar hy kan literatuur uitstal oor onderwerpe wat strek van kommunisme tot pornografie.

Ek is oortuig ons hele samelewing beleef ‘n sedelike ineenstorting. Talle ouers, insluitend Christene, blameer skole, die regering, die media, die kerk en hulle kinders se eweknieë. Al hierdie magte speel ‘n rol in die disintegrasie van ons jeug, maar nie skole, kultuur, media, goddelose musiek of afvallige kerke alleen veroorsaak hierdie ondergang nie. Die verantwoordelikheid vir hierdie geslag jeug rus in der waarheid hoofsaaklik by die ouers. Die huis is waar die meeste saad van wederstrewigheid en goddeloosheid gesaai word.

Ek glo opreg dat ouers nou meer wysheid en onderskeiding nodig het as enige ander tyd in die geskiedenis. Satan het baie meer bose uitvindings en subtiele vermommings om te gebruik teen God se kinders en slegs deur daaglikse, pligsgetroue gebed en verdieping in God se Woord, sal ons krag hê teen hom as beskermers van ons huise.

Gee in die besonder ag op hierdie verbondsbelofte vir jou kinders: “So sê die HERE, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af, wat jou help: Wees nie bevrees nie, Jakob, my kneg, en Jesúrun wat Ek uitverkies het. Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge. En hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope” (Jesaja 44:2-4).

Ouers, pleit God se beloftes oor jou kinders; eien hulle toe as joune en herinner die Here daaraan met voorbidding. Bedek jou gesin dan met gebed – en kyk hoe die vyand vlug.