Pasop vir ‘n Sataniese Strik

David Wilkerson

Paulus het die moontlikheid genoem van om in ‘n sataniese strik te strap in sy briewe aan Timótheüs. Hy het die gevare van die sataniese strik verstaan, “...sodat hy nie in die veragting en in die strik van die duiwel val nie” (1 Timótheüs 3:7). Maar hy het ook vir ons ‘n herstel van daardie sataniese strik gegee: “...en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen” (2 Timótheüs 2:26).

Die Griekse woord vir “strik” wat in beide hierdie Skrifte gebruik word, beteken ‘n streek, ‘n slim plan, die gereed maak van ‘n strop vir die nek. Dit verwys na ‘n goed beplande strik. “Trotsaards het vir my ‘n vangnet gespan en toue...strikke het hulle vir my gespan” (Psalm 10:5). Dit is duidelik dat Satan ‘n galg bou.

Onlangs het die New York Times ‘n jammerlike voorbladprent van ‘n gevalle evangelis in boeie gehad. Hy was besig om gelei te word na ‘n afwagtende voertuig wat hom as gevangene na ‘n sielkundige inrigting sou neem. Hy het gehuil! Onsamehangend! Geboei!

Ons kerk het daardie aand geween by ons gebedsbyeenkoms terwyl ons vir hom en sy familie gebid het. Dit was nie ‘n tyd om te oordeel nie, maar ‘n tyd vir gebrokenheid, berou en medelye met ons gevalle broer.

Die volgende aand het ek ‘n lang tyd op die telefoon deurgebring met ‘n welbekende pastoor. Hy het pas bedank uit die kansel, beskuldig van seksuele ongeruimdhede. Hy is ‘n dierbare vriend; en ek beplan om by hom te staan deur sy herstel, sodat hy “weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel”

Hy het vir my vertel dat toe hy op die neus gesien het van die Amerikaanse evangelis wat so angsbevange en gebroke was, het hy uitgeroep, “O God, moenie dat dit met my gebeur nie. Ek wil nie in so ‘n jammerlike toestand beland nie.”

Ek hoor Christene vra, “Hoe kon ‘n man van God wat so magtig deur die Heilige Gees gebruik is, sulke verskriklike dinge doen? Hoe kan daar so ‘n mislukking wees wanneer ‘n man só deur God aangeraak is?”

Satan het ‘n strik gestel, ‘n weldeurdagte, goed beplande strik vir hierdie dierbare broeders. Hulle het reguit in die duiwel se strop ingeloop en hy het die valdeur getrek om hulle te hang.

Ek gee nie om wie jy is, hoe heilig en rein jy is, hoe lank jy al met God wandel of hoe oud of jonk jy is nie. Ek gee nie om hoe ernstig jy daarop aandring dat jy nooit so iets sou kon doen nie – pasop! Die duiwel is daarop uit om jou ook te verstrik. “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes” (Johannes 10:10).

Weet jy dat almal van ons die kapasiteit het om net so ver te val, net so ver in verskriklike sonde met al sy misleidings, toesmeerdery, leuens en onbeheerste begeerstes?

Toe ek die gevalle evangelis se foto gesien het, het ek nie gevra, “Hoe kon hy so ‘n ding doen? Hoe kon hy sulke dwase dinge doen met sy oë wyd oop?” nie. In plaas daarvan, het ek innig geween, “Here, dit kon ek gewees het! Ons almal het gesondig en dit ontbreek ons aan die heerlikheid van God. Here, as al my vorige sondes openbaar sou word, my motiewe wat onrein was, my leuens, my dwaasheid, sou ek net so skuldig wees. Op een of ander manier het U my uit die duiwel se strik gekry voor die duiwel sy strop om my nek kon sit. U het U heilige vrees in my geplaas en my uitgetel uit die strik wat vir my gestel was.”

As ek nou terugkyk, sien ek waar die duiwel talle goedbeplande en ingewikkelde strikke gestel het omdat hy my wou vernietig. Ek kan saam met Dawid sê, “Die goddelose het vir my ‘n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie” (Psalm 119:10). “Ons siel het vrygeraak soos ‘n voël uit die vangnet van die voëlvangers; die vangnet is gebreek, en ons, ons het vrygeraak” (Psalm 124:7).

Maar in hierdie laaste dae, is dit nie goed genoeg om terug te kyk na die sataniese strikke waaruit ons ontsnap het nie. Ons moet waaksaam, gewaarsku en bewus wees van wat daar buite voor ons lê.

As jy beplan om die hele pad met God te stap met ‘n vasbeslotenheid om te gehoorsaam en heiligheid na te streef, kan jy 100% seker wees Satan het ‘n helse strik vir jou beplan. Pasop! Hy het ook ‘n strop vir jou nek! “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8).

Hoe verstrik en vang Satan God se uitverkorenes? Ons moenie onbekend wees met sy streke en planne nie! Ek glo nie ons het al die antwoorde nie; ons sien immers deur ‘n dowwe spieël. Maar ons moet besef dat Satan teen ons kan kom te alle tye: in ons hoogtes en laagtes, in goeie en slegte tye. Sy leuens is so slinks en sy strikke en vangnette is so gekamofleer met sjarme en prag, dat ons slegs op die Heilige Gees en die Woord van God kan vertrou om dit alles aan ons te openbaar.

Dawid was gevang in ‘n sataniese strik. Hy het reguit ingeloop in die strik wat Satan vir hom gestel het en was gevang. Dit word gesê, “As iemand nie uit Dawid se verskriklike sondeval kan leer nie, dan wil hy nie leer nie.”

Ek het persoonlik meer geleer van die gevare van sonde uit Dawid se lewe as uit enige ander voorbeeld in die Bybel. Ek het geleer, nie net hoe Satan verstrik nie, maar ook die stappe wat lei tot verstrikking. (Lees 1 en 2 Samuel.) Dit is alles hier in hierdie tragiese storie. Ek sal nie in die dieptes van al die hartseer besonderhede ingaan nie, maar ek wil hê ons almal moet gewaarsku wees van wat gedoen om so ‘n val te bewerkstellig.

Die duiwel het die strik gestel vir Dawid toe hy fisiek, finansieël, en geestelik op sy hoogtepunt was. Dawid het nie in ‘n grot weggekruip, en hy was ook nie ‘n vlugteling sonder ‘n sent wat gevlug het vir sy lewe nie. Hy was nie in ‘n put van moedeloosheid of depressief of swaar belas met sorge nie. Hy was op die toppunt van die wêreld! Geen mens op aarde was meer geseënd as Dawid op daardie tydstip nie. Hy was voorspoedig, deur baie liefgehê, en grootliks gevrees.

Dawid was op die voorste linies waar hy die goeie stryd van die geloof gestry het. Hy was seëvierend in elke oorlog! Geen vyand kon voor hom staande bly nie.

Daar is ten minste sewe hoof oorloë gelys in een vers. Dit was groot oorloë met wreedaardige vyande. Dawid het letterlik duisende gedood, en menigtes gevange geneem. Twee keer in 2 Samuel 8 lees ons dat die Here Dawid oorwinning gegee het teen wie ook al hy oorlog gevoer het. “...sodat die Arameërs Dawid se belastingpligtige knegte was; en die HERE het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het” (2 Samuel 8:14).

Dawid was gevrees deur al sy vyande, omdat hulle geweet het God was met hom! “En Dawid het naam gemaak...by sy terugkoms van die neerlaag van die Arameërs” (2 Samuel 8:13). Wat ‘n wonderlike plek om met God te wees: geseënd, terwyl hy God se leiding, oorwinning en ‘n goeie naam onder alle mense geniet het.

Sy familie het ook God se seëninge geniet! “En die seuns van Dawid was priesters” (2 Samuel 8:18). Maar na sy sonde, het sy familie verbrokkel. Dawid se seun, Amnon, het sy eie suster Tamar verkrag; Absalom het gerebelleer en was uiteindelik gedood; Adonia het ook gerebelleer en was gedood; en uiteindelik was daar die afvalligheid van Salomo. Maar voor hy gesondig het, was sy familie verenig, hy het hulle liefde en ondersteuning geniet, en seëninge het aan alle kante toegeneem. Daar was vrede by die huis en sy familie was in beheer.

Dawid het sy kerk liefgehad en het onder goddelike herders gesit. “En Sadok...en Ahiméleg...was priesters” (2 Samuel 8:17). Die Sadok-priesterskap verteenwoordig “’n priesterskap wat die Here dien.” Dit was heilig, geheilig, en deur God goedgekeur. Hy was gedien deur die getroue profeet Natan wat Dawid liefgehad het, maar ongekompromitteerd was.

Dawid het nie gebrek aan die Woord gehad nie. Hy was nie te midde ‘n geestelike hongersnood nie. Die Woord wat hy ontvang het, was suiwer en volgens God se hart. Daar was geen valse leerstelling, geen afvallige herder, en geen besoedelde evangelie nie. Hy het onder die suiwerste, sterkste boodskap van die tyd gesit.

Dawid was op die hoogtepunt van sy milddadigheid. Hy was so sorgsaam en liefdevol, dat hy maniere gesoek het om sy besorgdheid aan ander te toon. “En Dawid het gesê: Is daar nog iemand oor van die huis van Saul, dat ek aan hom guns kan bewys ter wille van Jónatan?” (2 Samuel 9:1). Hy het Mefibóset, van die huis van Saul, in sy huis ingeneem, “want hy het altyddeur aan die koning se tafel geëet; en hy was lam aan albei voete” (2 Samuel 9:13). Dawid het nie geswem in sy luuksheid nie; en hy het ook nie selfgesentreerd geword nie. Liewer, hy was oorvloedig in milddadigheid en het oorgeloop met liefde en besorgdheid vir die wat hartseer was.

Ons is die kwesbaarste vir hoogmoed op die hoogtepunt van seën. Voorspoed is ‘n baie groter versoeking om te sondig as armoede. Pasop wanneer die seëninge van oral af kom! Wanneer het Satan ‘n strik gestel vir die beroemde evangeliste wat nou geval het? Toe hulle op die hoogtepunt van voorspoed was. Hy het hulle gevang toe dit gelyk het of God die vensters van die hemel oor hulle oopgemaak het! Hulle was geliefd, populêr en geseënd bo alle ander.

I. Ons misgis God se seëninge vir God se goedkeuring!

God kan en seën wel diegene wat Hy goedkeur. Maar, Hy laat groot lyding toe oor diegene wat hy goedkeur. Hy seën ook, vir ‘n tydperk, talle wat ‘n kompromie gemaak het. Ons is geneig om te dink, “Ek moet iets reg doen. Ek is so geseënd!” Tot op hierdie punt het God Amerika magtig geseën, maar dit beteken nie ons word deur die hemel goedgekeur nie.

‘n Jong pastoor het vir my gesê hoe Satan hom vir vyf jaar in die strik van owerspel vasgevang het. Hy het gesê, “Die hele tyd wat ek gesondig, gelieg en bedrieg het, het my bediening vooruitgegaan. Ek het die hele tyd geween. Ek het so naby aan die hartseer van al my mense gevoel. Die duiwel het my gemaak glo dat God nie te kwaad vir my was nie, omdat alles so goed gegaan het...totdat die bodem eendag uitgeval het.” Baie het dieselfde ding gesê: God het nie kwaad gelyk nie; die offergawes het aanhou toeneem; die seëninge het nie gestop nie; en dit het gelyk asof God steeds met my was in alles wat ek gedoen het.

II. Ons het ‘n diepgesetelde begeerte wat nog nie gekruisig is nie.

Deur al die seëninge, het Dawid se geheime begeerte gegroei! Hy het die bevele van God in die gedrang gebring met sondes wat sy samelewing oorgesien het, hoewel dit in teenstelling was met God se Woord. Hy was op pad om te val.

Dawid het heeltyd vir hom bykomstige vroue geneem: Ahinoam, Gileab, Abigail, Máäga, Haggit, Abital en Egla. Aangesien baie vroue aanvaarbaar en goedgekeur was deur sy samelewing, het Dawid sy samelewing se verdraagsaamheid teenoor ekstra vroue gebruik om ‘n groeiende begeerte te bevredig. Hy het ‘n diepgewortelde sensualiteit gehad, sodat hy aantreklike vroue getrou het om sy wanordelike begeerte te bevredig. Maar in plaas van dit bevredig, het sy begeerte gulsiger en meer wetteloos geword soos hy dit vertroetel het!

Dawid se samelewing het poligamie oorgesien en sommige sê God het ook. Kyk egter wat Jesus te sê gehad het in Matthéüs 19:8: “Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie.”

God sien nooit Sy eie gebooie oor sien. Hy het daarom al die Konings van Israel beveel, “Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie” (Deuteronómium 17:17). Toe Samuel koning Saul gesalf het, het hy “met Saul gespreek op die dak” (1 Samuel 9:25). Ek is seker hy het ook met Dawid samesprekings gehou vir lang ure, en hom alles gewys wat God van konings vereis het. “Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie...Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie...ook...nie uitermate baie silwer en goud...nie” (Deuteronómium 17:16-17).

Dawid was ongehoorsaam aan die Woord van God en het blind geword vir wat met hom aan die gebeur was. As Sadok of Natan na Dawid toe gegaan het om hom te herinner aan wat God gesê het, sou Dawid waarskynlik soos die meeste van ons geantwoord het: “Wel, ja, dit staan daar. God het gesê dit is verkeerd. Ek het God lief; ek het Sy Woord lief, maar dit lyk of God sy goedkeuring daarvoor gegee het. Ek dink net nie God is so streng nie. Almal doen dit, selfs sommige van die priesters.”

Satan se strik was ontwerp om aanklank te vind by Dawid se swakheid – sy aantrekking tot pragtige vroue. Satan het geweet wat in Dawid se hart was. Dawid het ‘n goedhartige persoonlikheid gehad en ‘n warm hart vir God. Maar hy het ook ‘n boesembegeerte gehad wat diep in sy siel gebrand het.

Jy kan amper hoor hoe die demoniese beplanners Dawid se strik beplan. “Kyk, hy het ‘n swakheid. Daar is ‘n begeerte vir vroue in hom – hy kyk altyd verder as dit wat hy het. Kom ons vang hom in ‘n swak oomblik, lok hom buite na sy koninklike dak, en plaas ‘n pragtige vrou in die volgende binneplaas om hom te betower. Maak seker die vrou is getroud; want as sy enkellopend is, sal sy net nog ‘n vrou in Dawid se harem word.”

Watter tydsberekening was betrokke! Hoe ingewikkeld die strik! Hulle moes beide op hulle plekke op die regte oomblik wees en sy moes iets doen was sy begeerte tempteer.

Dawid was ‘n tweegesig oor God se Woord. Jy hoor hom praat van sy groot liefde en eerbied vir die Woord, maar Natan het gesê, “Waarom het jy die woord van die HERE verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë?” (2 Samuel 12:9).

Luister na wat Dawid oor God se Woord gesê het: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad. Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordening te onderhou” (Psalm 119:105-106). “U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief” (Psalm 119:140). Ek is seker Dawid het die Woord liefgehad, behalwe waar dit nie in lyn was met dit wat sy hart begeer het nie. Hy het dit nie hoog geag nie; hy het dit verag, en hom afgekeer van die woord se kragtige aanspraak op hom.

Satan het geweet Dawid sou sy dade rasionaliseer, regverdig en verskoon. Hy het ook geweet Dawid het sonde in ander gehaat, maar kon dit nie in homself raaksien nie. Toe Natan vir hom vertel van ‘n ryk man wat nie ‘n lam uit sy groot trop wou neem nie, maar ‘n buurman se lam gesteel het, het Dawid die volle oordeel gevel: “Hy sal sekerlik sterf!” Tog het hy sy eie sonde verskoon.

Ek is dieselfde! Ek het ‘n geneigdheid om die sondes van ander duidelik te sien en tog so blind en verskonend oor my eie te wees. Verlede week, het my vrou Gwen, nie goed gevoel nie. In haar moegheid, het sy iets snedig gesê. Sy het die deur toegemaak en iets gesê wat ek onnodig gevind het. Ek het rooi in die gesig geword en gesê, “Dit is demonies! Ek bestraf die duiwel! Ek sal dit nie in my huis toelaat nie. Ek is die priester en ek het die gesag om dit te bind!” Ek het kantoor toe vertrek en in die hysbak, het die Gees met my gepraat, “David, hoekom is dit demonies wanneer sy haar humeur verloor; maar as jy dit doen, is dit regverdige verontwaardiging?”

Hoe maklik is dit om te vra, “Hoe kan hulle so ‘n ding doen?” Maar, as ons die Heilige Gees kon toelaat om al die verborge geheime en al die onrein motiewe binne-in ons te openbbaar, sou ons op ons aangesigte val en uitroep, “Here, ek is die man. Ek is die vrou. Dit is ek wat barmhartigheid nodig het!”

Dawid se val was nie sy begeerte op die dak daardie een nag nie. Nee! Dawid het onvoorbereid, met ‘n groeiende begeerte vir iets aantrekliks, in Satan se strik ingeloop. “Meer vroue” was Dawid se swakheid, so ‘n ander vrou (getroude vrou) was die aas.

So baie Christen mans en vroue is nie tevrede met hulle huweliksmaats nie, omdat hulle nie “geestelik genoeg” is nie! Hulle smag na geestelike vereniging, geestelike eenheid. Dit kan die grootste subtiele strik wees!

Een herder het my in sy vertroue geneem: “Dit was ‘n baie geestelike vrou wat my gevang het! My vrou en ek was in twee verskillende wêrelde. Sy het nie die diep dinge van God verstaan nie. Sy was totaal vasgevang in haar eie klein wêreldjie. Hierdie ander vrou in die kerk was so aan die brand, so geïnteresseerd in wat die Here in my gedoen het. Ons het vir ure oor die Here gesels. Ons was aangetrek deur die Christus binne-in mekaar, so het ons gedink; maar dit het tot verskriklike owerspel gelei. Ons het so laag geval as wat twee mense kon.”

Dawid sou jou waarneming dadelik verwerp het as jy vir hom gesê het, “Meneer, jy is ‘n tweegesig oor God se Woord en jy het ‘n geskiedenis van swakheid vir meer vroue. Jy is ryk, het baie besittings en geen gebrek nie. Maar jy weet nie dat jy ellendig, arm en blind is vir jou ware geestelike toestand. Jy is besig om in ‘n strik in te loop! Jy plaas jou nek in die duiwel se strop!”

God lees ons gedagtes en denke, maar die duiwel lees jou dade. Jy sal jouself nooit sien soos God jou sien en soos Satan jou sien nie, totdat die Woord van God jou enigste riglyn is. Jy sal nooit afreken met dit wat jy sien nie, totdat jy toelaat dat die Heilige Gees die Woord gebruik as ‘n roede vir jou siel en ‘n helder lig in elke hoekie van jou lewe.

Terwyl ek die storie gelees het van Dawid se toesmeerdery en poging om Uria om te koop, het die mes van die Heilige Gees my siel getref. Ek het sommige area’s in my lewe gesien wat net so sleg was! Ek het klein dingetjies gesien wat dieselfde saad van boosheid in hulle het!

III. Ons word moeg vir die Stryd.

Dawid het moeg geword vir oorlog. “En ná verloop van die jaar, teen die tyd dat die konings uittrek, stuur Dawid Joab en sy dienaars saam met hom uit...terwyl Dawid in Jerusalem gebly het” (2 Samuel 11:1).

Die dag het egter aangebreek dat Dawid nie toegelaat was om te veg nie. Jare later, in ‘n ander oorlog met die Filistyne, “Dawid het al moeg geword...” ‘n Reus was gereed om Dawid dood te maak, toe Abisai hom gered het. “Toe het die manne van Dawid hom besweer en gesê: U mag nie meer saam met ons uittrek na die geveg nie, dat u die lamp van Israel nie uitblus nie” (2 Samuel 21:15-17).

Maar Dawid was nie oud of swak nie. Hy was net moeg vir dit alles. Dawid het voor sy krygsman Joab gestaan en al die leërmagte het uit Israel saamgekom en hulle bemoedig om “voort te gaan, sterk te wees en te veg soos goeie soldate.” Dawid sou gaan ontspan, ‘n bietjie rus en vermaak geniet.

Ek wonder wat het Dawid vir homself gesê toe hy sy verbygaande troepe gesalueer het? Het hy skuldig gevoel? “Ek gaan nie skuldgevoelens vertroetel nie. Ek doen niks verkeerd nie. Ek gaan net ‘n bietjie ontspan! Die intensiteit kry my onder en ek kan nie so voortgaan nie.”

Dit is presies waar soveel Christene in die geestelik realm is: moeg van geestelike oorlogvoering, moeg vir tugtiging, en moeg vir die smal en nou weg. Ek praat nie van die menslike realm nie. Daar is niks mee verkeerd om tyd af te neem vir vakansies, bootry, swem, golf, ensovoorts nie. Ek praat van die geestelike waaksaamheid laat vaar wanneer ons moeg word om in gehoorsaamheid te wandel en moeg word van heersende geestelike stryd.

Sommige van julle wat hier lees, het ‘n vakansie geneem van die stryd. Jy is innerlik moeg en het vir jouself gesê, “Ek moet ontspan of ineenstort! Ek gaan nie die Here minder liefhê nie en ek sal getrou bly. Maar vir ‘n rukkie moet ek doen wat ek moet doen. Ek moet my hart volg en my hart sê, Ontspan.”

Geliefde, jou tydsberekening kan nie slegter wees nie! Geestelike ontspanning of verslapping is die laaste veer in die duiwel se strik. Jy kies middernag om te gaan vakansie hou. “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakkker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord. Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondheid, nie in twis en nydigheid nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Romeine 13:11-14).

As die nag amper verby was en die dag van die Here naby was toe dit geskryf was, hoeveel nader moet dit nou nie wees nie! Daar kan geen ontspanning in hierdie laaste stryd wees nie. “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Petrus 5:8-9). Satan sal nie ontspan nie; hy sal sy pogings verskerp. Ons durf nie slaap nie! Smoor die eerste teken van versoeking in die kiem. Sien die vernietigende hand van die duiwel agter dit alles. Paulus het vir Timótheüs gewaarsku om “die genadegawe  van God aan te wakker wat in jou is” (2 Timótheüs 1:6).

Dwarsdeur die Nuwe Testament, roep God ons om wakker te word, om te waaksaam te wees en te waak, en om die volle wapenrusting op te neem. Ons moenie slaap soos ander nie, maar wakker, altyd gereed en altyd op die uitkyk wees vir die dag van die Here en dit verhaas.

Onspan in hierdie stryd, en jy is dood. Onspan, en jy gaan hang in die duiwel se strop. Daardie oproep om te ontspan, is reguit uit die hel uit! Dit is die lokroep van Satan self. Wees gewaarsku, omdat dit hoog tyd is om wakker te word! Dawid het ontspan tot binne-in die arms van Batséba!

Ons word ontvlugting belowe deur gebed en vertroue op God.

“Bewaar my vir die mag van die vangnet van die wat vir my strikke stel, en vir die strikke van die werkers van ongeregtigheid. Laat die goddelose in hulle vangnette val...terwyl ék verbygaan” (Psalm 141:9-10).