OPSTANDING IN DIE HIER EN NOU

David Wilkerson

Ek het ‘n e-pos ontvang van ‘n pastoor wat sy kerk verlaat het. Hierdie arme man het diep in sonde verval en sy vrou en kinders verloor. Sy hele lewe het ineengestort en hy het die dood in die oë gestaar.

In sy donkerste uur, het hy op sy knieë geval en uitgeroep na hulp. Jesus het na hierdie gebroke, desperate man gekom en nuwe lewe in hom geblaas. Kort daarna, het die man se vrou hom gebel en gesê, “Ek verlang na Jesus. Kan ons weer probeer?”

Vandag werk daardie pastoor in een van ons dwelmrehabilitasie sentrums. Dink aan Efésiërs 2:1-2: “Julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes; waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk.”

Miskien beskryf dit jou belewenis. Voor jy die Here geken het, het jy jou eie ding gedoen. Jy was vasgevang in die gees van die tyd en het elke sonde en plesier uitprobeer. Jy het gedink jy sal God uitstel tot later. Jy het geglo jou goeie werke en skenkings sou jou red.

Toe het die Here na jou toe gekom. “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus – uit genade is julle gered – en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus” (Efésiërs 2:4-6).

Geliefde, dit gaan alles daaroor om nuwe lewe te vind en ons kan dit net in Christus vind. Paulus praat nie hier van die laaste opstanding nie. Hy beskryf wat God op hierdie aarde doen – opstanding in die hier en nou!