Op Sy Teenwoordigheid Let

Gary Wilkerson

“Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. Ek wil u bevele oordink en op u paaie let” (Psalm 119:10-11,15).

As ‘n bedieningsleier, vra ek soms vir myself en vir my medewerkers: “Waarom is ons hier? Waarom doen ons wat ons doen? Wat is ons doel?” Die kort, oppervlakkige antwoord is dat ons ‘n wêreldwye bediening lei om die liggaam van Christus op te bou, die verlorenes te bereik en liefdevol vir die behoeftiges te sorg. Maar die ware antwoord op my kernvraag van waarom ons hier is, is dieselfde vir beide die jongste dissipel van Christus en die mees ervare, wêreldswyse bedieningsleier. Die antwoord is dat ons hier is om Jesus te dien.

Dit is onmoontlik om ons Saligmaker en Here te dien tensy ons in sy teenwoordigheid begin. Geen Christen sal ooit verkeerd gelei, mislei, of die punt mis as hy of sy by Christus se teenwoordigheid begin en dit nooit verlaat nie.

Koning Dawid is ‘n voorbeeld van die belangrikheid van hierdie praktyk. Hy moes vyandige leërs trotseer wat vinnige, doelgerigte denke te midde van die lewe-of-dood situasies geverg het. En hy moes heers oor ‘n verdeelde koninkryk tussen Israel en Juda. Hoe het Dawid dus sy doel bereik om eer aan God te bring en op die ou end Israel se beroemdste koning te word?

Dawid het oorwinning gehad omdat sy hart in elke situasie daarop gerig was om die Here te dien. Die Bybel maak dit duidelik met sy dade en met al die aanbiddende, smagtende psalms wat hy geskryf het. Om die Here te dien, was altyd die belangrikste, terwyl Dawid die woorde wat God voor hom gestel het, nagestrewe het.

Nog ‘n voorbeeld is Samuel. Hy was bekend as ‘n groot profeet in Israel, maar nie weens sy strategiese verhoudings met konings en leiers nie. Die Skrif maak dit duidelik dat Samuel ‘n hart gehad het om die Here van ‘n baie jong ouderdom af te dien. Selfs as ‘n seun, was Samuel voortdurend in die tempel om God se teenwoordigheid te soek en bo alles het daardie verhouding vir Samuel invloed by die mense van die laagste sport van die lewe tot die hoogste ampte in die land gegee.

Dawid en Samuel wys vir ons dat om die werke van God te volbring, moet ons sy teenwoordigheid ken. En dieselfde is waar vir elke gelowige vandag: Om die Here te volg, beteken om Jesus-gefokus, Jesus-gesentreerd en Jesus-bemagtig te wees. Die Bybel noem Christus die Alfa en die Omega – die begin en die einde van alle dinge – en dit is van toepassing op ons lewens. Hy moet alles vir ons wees!