OP DROË GROND

Gary Wilkerson

God het vir Moses gesê, terwyl die kinders van Israel in Egipte was, “Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet omdraai en laer opslaan voor Pi-Hágirot, tussen Migdol en die see. Reg teenoor Baäl-Sefon moet julle laer opslaan by die see” (Exodus 14:1-2). God het aangekondig dat Hy hulle na ‘n nuwe plek sou neem.

God het hulle deur baie klipperige gebiede geneem en terwyl Hy hulle gelei het, kon hulle die Rooi See in die verte sien. Maar toe hulle op die strand aankom, het hulle besef hulle was ingedruk op ‘n baie klein plekkie met rotse aan een kant en water aan die ander kant.

Farao het na hulle ligging gekyk en met ‘n grynslag gesê, “Hulle is vasgekeer met hulle rûe teen die muur.” God het hulle daarheen gelei, maar die Israeliete was sekerlik nie baie gelukkig daamee nie.

Het God jou al ooit na ‘n plek geroep wat jy beskou het as die laaste plek op aarde waar jy wil wees? Moses, wat tot op hierdie stadium nie ‘n sterk militêre leier was nie en slegs in ‘n paar oorloë was, was slim genoeg om hulle netelige posisie raak te sien: “Ek is nie seker dat ons op ‘n goeie plek vir militêre verdediging is nie. Ons is in werklikheid vasgekeer!”

Ja, Moses en die Israeliete was in ‘n moeilike situasie, maar God was op die punt om verheerlik te word deur hulle situasie. God laat dikwels toe dat ons onsself in uitdagende plekke bevind omdat Hy ‘n groot plan vir ons het. Wanneer ons dink ons is vasgekeer met ons rûe teen die muur, sê God, “Dit gaan alles uitwerk om My te verheerlik.”

Voel jy vasgekeer, oorweldig, hopeloos? Op hierdie moeilike plek, neem ‘n stap van geloof en sê, “God, ek sal U gehoorsaam ongeag die prys.” Wanneer dit gebeur, sal jy op die rand staan om God magtiglik te sien optree om jou onthalwe.

Jy ken die res van die storie van Moses en die Israeliete: God het veroorsaak dat die Rooi See skei en Sy kinders het op droë grond daardeur gegaan. Dit was ‘n ontsaglike oorwinning!