OP DIE RAND VAN OORDEEL

Gary Wilkerson

Oordeel – Ek is nie gewoond om boodskappe oor hierdie onderwerp te skryf nie en jy sal moontlik verras wees met hierdie een. Ek het dit met groot voorbehoud voorberei; dit het my ver anderkant my gemaksone geneem, selfs al is ek daaraan toegewyd om die hele raad van God te verkondig.

Op hierdie oomblik, is ek verplig om te praat oor iets wat ek in ons kultuur sien gebeur. Ek het oortuig geword dat Amerika nou op die rand is van een van die grootste oordele wat dit nog ooit in die gesig gestaar het. In hierdie droewige uur, het God iets vir sy kerk te sê wat moontlik sal begin om die gety te laat draai.

Toe ek grootgeword het, was dit nie ongewoon om hierdie soort swaar boodskap in die denominasie waarvan my familie deel was, te hoor nie. Nou en dan het ek my vader hoor preek oor die onderwerp. Ek praat van ‘n profetiese boodskap (hoewel my pa onversetlik was dat hy nie ‘n profeet genoem moes word nie). Hy het gesê hy was ‘n “wag.”

LIEF OM SY STEM TE HOOR

Vandag waardeer ek die boodskappe wat my pa verkondig het en die angs wat dit hom veroorsaak het meer. En ek het vertroue in die ure wat hy deurgebring het om met God te stoei oor die swaar preke wat hy moes lewer. As self ‘n herder, waardeer ek A.W. Tozer se les dat God lief is daarvoor om te praat met ‘n man of vrou wat luister. Ek vrees egter dat die kerk daardie praktyk verloor het. God wil met ons praat oor ons familie, ons huwelik, ons lewe se rigting, maar ons ore is minder en minder ingestel op sy stem en meer op die wêreld s’n.

Die Bybel noem hierdie toestand ‘n hongersnood van die Woord van God (Sien Amos 8:11) – Dit is ‘n gebrek aan kennis oor God en sy weë. In tye van chaos, sal Hy die hongersnood gebruik om ons aandag te kry en tans het Hy my volle aandag. En as Hy swaar boodskappe oor die samelewing spreek met genade-georiënteerde herders soos ek, sê dit vir my dat Hy iets wil doen.