Oorwinning Deur die Vrees van God

David Wilkerson (1931-2011)

Die Bybel maak dit duidelik dat daar ‘n vrees van die Here is wat elke gelowige moet ontwikkel. Ware vrees vir God sluit ontsag en respek in, maar dit gaan veel verder as dit.

Dawid sê vir ons: “In die binneste van my hart sê die oortreding aangaande die goddelose: Daar is geen vrees van God voor sy oë nie” (Psalm 36:2, AFR53). Dawid sê in wese, “As ek iemand sien wat hom aan die kwaad oorgee, vertel my hart my dat so iemand God nie vrees nie. Hy erken nie die waarheid oor sonde of oor God se oproep tot heiligheid nie.”

Sommige sal moontlik sê dat die vrees van God slegs 'n Ou-Testamentiese konsep is, maar ons sien dat goddelike vrees regdeur die Skrif genoem word. Paulus haal die Ou Testament aan in sy briewe aan die vroeë kerk: “Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Romeine 3:18) en voeg by: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Korinthiërs 7:1).

Trouens, goddelike vrees gee ons die krag om die oorwinning in goddelose tye te handhaaf, so hoe verkry ons hierdie vrees? Jeremia antwoord met hierdie profesie uit God se Woord: “En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle. En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie” (Jeremia 32:39-40).

Dit is 'n wonderlike belofte van die Here. Dit verseker ons dat Hy ons sy heilige vrees sal gee. God laat hierdie vrees egter nie net deur 'n bonatuurlike blits in ons harte val nie. Nee, Hy plaas sy vrees in ons deur sy Woord.

Beteken dit dat God se vrees in ons harte geplant word as ons bloot die Bybel lees? Nee glad nie. Die Skrif sê vir ons hoe goddelike vrees oor die priester Esra gekom het: “Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag, en om Israel die insettinge en verordeninge te leer” (Esra 7:10).

Ware vrees vir die Here kom wanneer ons bewustelik besluit dat ons elke woord wat ons in God se Woord lees, sal gehoorsaam.

Tags