OORTREFFENDE BLYDSKAP

Jim Cymbala

Geluk eb en vloei, gebaseer op ons veranderende omstandighede. ‘n Nuwe baba of kleinkind word gebore en ons glimlag van oor tot oor. Ons wen ‘n gratis vakansie en ons is in vervoering! Die baas gee ons ‘n groot verhoging net wanneer ons die ekstra geld nodig het en ons is oorstelp. Maar die euforie is slegs tydelik. Dit is onafwendbaar dat iets verander en ons geluk daarmee saam verdwyn. Die baba word siek; ons vakansie reën uit; ons werk word geëlimineer deur ‘n korporatiewe samesmelting. Die positiewe gevoel is van verbygaande aard. Op sy beste, voel ons leeg, en erger, selfs kwaad.

So, hoe kry ons ons geluk terug wanneer die situasie verander? Ons kan nie geluk terug wens nie. Ons kan dit nie najaag nie. Harder probeer om dit terug te kry, veroorsaak slegs frustrasie. As omstandighede alleen ons gelukkig maak, dan moet ons situasie verander sodat ons weer gelukkig kan wees. Dit is egter presies die rede waarom ons ongelukkig is. Ons het nie, en sal nooit die beheer hê oor die dinge wat “don’t worry, be happy” maak nie.

Geluk is omstandigheidsgebonde en ontwykend, maar blydskap is nie omstandigheidgebonde nie. Ons kan blydskap hê selfs wanneer ons nie gelukkig is nie. Sommige sal dalk Christene hoor praat oor blydskap en dink dat blydskap net ‘n godsdienstige woord vir geluk is. Selfs mense wat God nie ken nie, of wat God vloek, kan gelukkig wees. Maar hulle het nie blydskap nie, want daardie seën in die lewe het ‘n heel ander bron.

Volgens die Skrif, veroorsaak die Heilige Gees blydskap. “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, gerouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galásiërs 5:22, my beklemtoning).

Is dit nie interessant dat blydskap onmiddellik na liefde genoem word nie? Dit is duidelik God wil nie hê ons moet depressiewe, knorrige, bitter lewens leef nie. Hy weet dat geluk van verbygaande aard is, so deur die Gees, gee Hy vir ons bonatuurlike blydskap wat ons omstandighede oortref. Blydskap is ‘n pragtige gawe wat verlossing deur geloof in Jesus Christus vergesel. Dit is ‘n gawe deur die Heilige Gees verleen aan ons diepste wese.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in 'n klein bouvallige gebou in 'n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is 'n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.