Oorlog in die Hemel

As jy dink die duiwel wen, wag net.
David Wilkerson

“En daar het oorlog in die hemel gekom” (Openbaring 12:7).

Deesdae hoor ons baie van die oorlog teen terrorisme. Ons hoor van ‘n oorlog wat jihad genoem word, ‘n oorlog in Palestina, dreigemente van oorlog uit Noord-Korea. Nog nooit in die geskiedenis was daar so ‘n tyd van oorlog regoor die aarde nie. En hierdie konflik word wyd gepubliseer, weens die kits kommunikasie wat ons nou het. Amper onmiddellik ontvang ons berigte van bomontploffings, hinderlae en dodetalle.

Ek is oortuig dat dit die oorloë en gerugte van oorloë was waarvan Jesus gepraat het. En net soos Christus geprofeteer het, beswyk mense se harte van vrees. Die oorloë wat ons sien, word veroorsaak deur terreur regoor die aarde.

Hierdie oorloë is egter klein skermutselinge. Dit is blote simptome van ‘n baie groter oorlog. Jy sien, daar is eintlik net een oorlog wat plaasvind. En dit is die oorlog van alle oorloë wat in die hemel plaasvind. Dit is ‘n oorlog tussen God en die duiwel.

Hierdie oorlog was eeue gelede verklaar. Openbaring vertel vir ons, “Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer” (Openbaring 12:7). Die draak verteenwoordig Satan en al die gevalle engele wat hy mislei het. Toe hy nog in die hemel was, het Lucifer hierdie leërs van engele aangehits om teen God in opstand te kom. Hy wou God se gesag en troon oorneem.

Maar die duiwel het daardie eerste geveg verloor. “En hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie” (Openbaring 12:8). God het Satan vertel, “Kyk, daar is geen plek vir jou in my teenwoordigheid nie.” En Hy het hom en die engele wat saam met hom in opstand gekom het, uit die hemel gewerp. Hulle was in ‘n wêreld neergewerp wat volgens die Bybel, woes en leeg en sonder vorm was.

Satan het reeds daardie engele, wat hom gevolg het, mislei. En toe God die mensdom geskep het, was Satan vasbeslote om hulle ook te mislei. As hy nie God kon wees nie, sou hy wraak neem deur God se saad te vernietig. Daarom het hy sy oorlog teen die heel eerste man en vrou in die Tuin van Eden begin.

Satan het Eva eerste versoek en toe vir Adam. En toe hy hulle val bewerkstellig het, het dit gelyk asof hy ‘n groot oorwinning behaal het. Die paradys was nou vir die mense toegesluit. Satan en sy hordes moes geroem het oor daardie oorwinning. En die stryd wat hulle gevoer het, was ‘n oorlogsverklaring teen God en sy saad.

Daar is steeds ‘n oorlog wat in die hemel woed. Satan veg egter nie hierdie oorlog vanuit die hemel nie en ook nie vanuit die hel nie. Nee, Satan het in die vormlose, woeste leegte beland, waaruit God die aarde geskep het. En toe God die mens gemaak het om die aarde te bewoon, het Satan sy magsetel daar opgestel.

Die Skrif maak dit alles baie duidelik: “En hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie” (Openbaring 12:8). “En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde” (Openbaring 12:13). “...wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede” (Openbaring 12:12).

Selfs voor die skepping van die wêreld, het God ‘n plan beraam om die duiwel te verslaan. Die Here sou die mens in sy eie beeld skep. En Hy sou die mens toelaat om ‘n vrye wil te hê. Daarom sou die mens getoets en beproef word. Hy sou inderdaad op ‘n plek in die middel van die slagveld, naby Satan se eie magstruktuur, geplaas word.

Die mens het daardie eerste toets gefaal en die Satan het die stryd in Eden gewen. En van toe af, het die duiwel voortgegaan om die mens te mislei. In Noag se tyd, het Satan daarin geslaag om die hele wêreld te mislei. Uit die hele aarde se bevolking, was slegs agt siele gered. Dit het vir eeue aangehou soos Satan hele nasies mislei het. Hy het die mag oor antieke Egipte, Sodom en Gomorra en vir ‘n tydperk selfs oor God se uitverkore volk Israel gehou. Dit is in werklikheid baie ontmoedigend om Israel se geskiedenis in die oorlog tussen God en Satan te lees.

Van die oomblik af wat God sy hand op Israel geplaas het, het die duiwel dit besef. Die Here het bonatuurlike dade vir sy mense gedoen, hulle met wonderwerke verlos en hulle groot openbarings van sy liefde gegee. Vir veertig jaar na die Exodus, het Satan egter rebellie, afgodery en sensualiteit in Israel aangehits. Hy het prostitute, homoseksuele en duiwel-besete profete in hulle midde gebring. Uiteindelik, toe die tyd aanbreek om die Beloofde Land binne te gaan, het net twee Israeliete wat Egipte verlaat het, Josua en Kaleb, sy misleiding ontvlug.

Weereens, moes Satan daarin geroem het. Dit het gelyk of elke stryd in sy guns geskied het. En hy het aangehou om deur sy demoniese misleiding oorwinnings in te palm. Hy het al die nasies, wat Israel omring het ingeneem: die Babiloniërs, Filistyne, Moabiete, Hetiete, Kanaäniete en die noordelike koninkryke. Uiteindelik het Satan sy visier ingestel op die oorblywende kinders van Israel.

Hierdie Israeliete het Kanaän saam met Josua binnegegaan, nadat hulle ouers in die woestyn omgekom het. Dit het gelyk of ‘n nuwe dag vir God se volk aangebreek het. Maar Satan het agter hierdie geslag aangekom met selfs groter misleidings. Hy het afgodery, hoerery en valse profete ingebring. Hy het demoniese aanbidding van Baäl, Astarte en Molog ingelyf. Die Skrif stel hierdie geslag voor as een wat voortdurend afgode aanbid het op “hoë plekke.” En hulle het voortdurend die Heilige van Israel verwerp.

Ek vind hierdie hoofstuk in Israel se geskiedenis totaal verwarrend. Dink daaraan: hierdie volk het gekyk hoe hulle ouers onder veroordeling in die woestyn omgekom het. Hulle het gesien hoe hulle ouers en gootouers ‘n verskriklike dood gesterf het. Vir veertig jaar, het hierdie jonger geslag van begrafnis tot begrafnis gegaan en hulle voorvaders links en regs begrawe. Nadat hulle egter al hierdie dinge gesien het, het hulle hul steeds tot demoniese aanbidding gewend.

Vir eeue daarna, het Satan oorwinning op oorwinning oor God se saad geniet. Hy het Israel se konings van Agab tot Jeróbeam tot Manasse beset, goddelose manne wat onskuldige bloed vrylik vergiet het. Uiteindelik, in die laaste hoofstuk van Rigters, word geopenbaar presies hoe diep God se mense geval het.

Rigters 21 is ‘n gruwelike, droewige verhaal oor hoe ‘n verwoede bende homoseksuele ‘n priester se byvrou gesodomiseer het en haar vir dood agtergelaat het. Toe die priester haar kry, het hy die lyk opgesny en aan die twaalf stamme van Israel gestuur. Die insident het in ‘n burgeroorlog onder God se volk oor homoseksuele regte tot gevolg gehad. Duisende Israeliete het gesterf.

Die boek Rigters sluit af met hierdie ysingswekkende woorde: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë” (Rigters 21:25).

Ek sê vir jou, dit is Satan se plan vir elke geslag. Hy het daarin geslaag om alle ware aanbidding in Israel stop te sit. Teen die einde van Rigters, het mans, vroue en kinders hulle eie paadjie geloop. En dit is presies wat Satan nou, in ons geslag, doen. Hy probeer om die Bybel onwettig te verklaar en maak of dit heeltemal irrelevant is. Almal word aangemoedig om God se Woord op sy eie manier te interpreteer. Dit is ‘n misleiding reguit uit die hel.

Daar was in der waarheid ‘n koning in Israel teen die einde van die Rigters. Daardie koning was Satan. Hy het nie net die heidense wêreld oorheers nie, maar ook God se uitverkore volk. Op daardie stadium, het dit gelyk of die duiwel die oorlog heeltemal gewen het. Hy en sy demone was skynbaar onoorwonne in hulle oorlog teen die hemel.

Die Here was nie bekommerd oor Satan se oorwinnings nie. Ja, hy was bedroef oor sy volk se aanhoudende verval in sonde en dood. Maar God het reeds ‘n oorlogsplan in werking gestel.

Uiteindelik het God in die “volheid van die tyd,” sy Seun in die slagveld ingestuur. Hier was God in die vlees, wat self tot die oorlog toegetree het. Die Here het daarmee verklaar, “Die stryd het nou verander. Ek neem bevel oor. Satan sal nie meer oorwin nie. Dit is die begin van die einde van die oorlog in die hemel. En die oorwinning is Myne.”

God het toe die duiwel op terme geplaas en verklaar, “Ek gaan ‘n weermag oprig. En my Seun sal kaptein oor hierdie weermag wees. Hy gaan ‘n kerk hê wat uit sondelose, onberispelike, vlekkelose, heilige bruid bestaan. En daardie kerk sal op een fondamentsteen gebou word: Jesus Christus, die Seun van God.”

Toe Jesus se geboorte in Bethlehem plaasgevind het, het dit rillings deur Satan se kamp laat gaan. Elke duiwel het uitgeroep. “Dit is God se Seun! Hy gaan al ons mag en heerskappy wegneem. En Hy sal as koning heers en regeer. Ons kon nie God in die hemel verslaan nie. Hoe kan ons hierdie oorlog met sy Seun wen? Ons gaan Hom in die krip doodmaak.”

O, hoe het die duiwel se gesante probeer om die Christuskind te vernietig. Die Skrif sê elke manlike kind onder ‘n seker ouderdom regdeur daardie gebied was vermoor, alles in ‘n poging om Jesus dood te maak. Maar dit was een geveg wat Satan nie kon wen nie. God was op pad om te oorwin.

Op sy gekose tyd, het God ‘n kruis reg in die middel van die slagveld geplant. En op daardie kruis, het Hy sy Seun geplaas. Christus se bloed het op die slagveld gevloei. En druppel vir druppel het dit ‘n kragtige, reinigende vloed, wat magtig is om al die sonde van die mensdom skoon te was, veroorsaak.

In daardie uur, het Jesus ‘n roepstem, wat regdeur die skepping gebulder het, geuiter: “Dit is volbring.” Toe Satan en sy demone dit gehoor het, het hulle gebewe en gesidder. Hulle het besef dit was alles verby. Hulle moes gegil het, “Dit is klaarpraat met ons! Die Seun van die God het ons vertrap. Hy het ons in die openbaar tot skande gemaak. Hy het ons beroof van elke mag wat ons oor die mense gehad het. Ons kan nie meer enigiemand wat onder sy bloed is, gevange hou nie.”

Drie dae later, was daar nog ‘n kragtige roepstem gehoor: “Christus het opgestaan!” Dit was Satan se donkerste uur. Binne ‘n oomblik, het die oorlog skielik verander. Openbaring beskryf dit as volg:

“Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis” (Opebaring 12:10-11).

Wat was die mag wat Satan in daardie oomblik verloor het? Dit was die vermoë om enige persoon, wat deur Jesus se bloed gereinig is, aan te kla. Die duiwel kon nie meer ‘n gelowige in boeie van skuld, vrees of veroordeling vashou nie. Hy was beroof van al sy mag om diegene, wat in geloof in Christus se offer leef, te mislei of te vernietig. Hy het nie meer heerskappy oor enigeen wat op Jesus vertrou nie.

God het ‘n wettige verklaring gemaak aan almal wat in sy Seun sou glo: “Julle is vrygemaak. Die mag van die duiwel kan julle nie vashou as julle op die krag van die bloed van Jesus Christus vertrou nie. Daar is geen mag onder die hemel wat julle kan verslaan nie.”

Eerstens was daar die koninkryk van God en sy Seun, Christus. En tweedens was daar die koninkryk van Satan en sy gevalle engele. Een koninkryk was ‘n koninkryk van lig en die ander ‘n koninkryk van duisternis. Ons het reeds gesien hoe die duiwel probeer het om die koninkryk van die hemel te steel deur die geskiedenis heen. Hy het oorwinnings behaal in Noag se tyd, tydens Israel se woestynjare en in die tyd van Rigters. Maar Christus het uiteindelik oorwin.

Dit is waarom ons terugkeer na Openbaring 12:12:  “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” Hierdie “min tyd” het by Gólgota begin. Sedertdien, het Satan baie meer ontstoke geword. En hy word selfs meer wraaksugtig soos wat sy tyd van oordeel nader kom.

‘n Paar verse later, word ‘n vrou genoem: “En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvloei deur die rivier” (Openbaring 12:15). Ek glo hierdie vrou is die bruid van Christus, die oorblyfsel wat oorwin. Die Skrif sê hierdie oorblyfsel sal bestaan uit ‘n magtige skare wat niemand kan tel nie. Dit sal elke persoon in die geskiedenis, wat Jesus sy Here gemaak het, insluit.

Volgende lees ons, “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Openbaring 12:17). Ja, Satan is woedend vir elke gelowige. Maar as hy waag om ons aan te raak, raak hy God se oogappels aan.

Wat ons huidiglik sien gebeur in die wêreld, is Satan se laaste poging om die bruid van Christus te vernietig. Die duiwel het ‘n volskaalse oorlogskreet uitgevaardig. En Hy het alles in sy arsenaal vrygestel om te probeer om God se uitverkorenes te verwoes.

Die rivier is een van ongeregtigheid. En Satan het dit teen die vrou gebring om te probeer om haar weg te kry van die beskerming van Christus se bloed. Jesus waarsku dat in die laaste dae, ongeregtigheid sal toeneem. En weens hierdie rivier van ongeregtigheid, sal die liefde van baie gelowiges verkoel (sien Matthéüs 24:12).

Ek sien in my geestesoog Satan in sy bevelsentrum, terwyl hy bose bevele uitskree: “Neem die media in besit! Vul goddelose mense se gedagtes met wellus. Veroorsaak hulle vleeslike begeertes om hulle in pornografie in te lei. Stuur dan daardie mans om kinders te molesteer.”

Die resultaat is ‘n vlaag van boosheid soos wat die wêreld nog nooit voorheen gesien het nie. Maar veral hartseer, is die aanslag wat teen kinders gebring word. Beskou:

  • Gewelddadige films het die gedagtes van baie Christene wat hulle daarin verlustig, afgestomp. En nou het seksuele dade in films ongelooflik pervers geword. Ons bedienings ontvang berigte van graad een skoolseuns, net ses of sewe jaar oud, wat probeer om klein dogtertjies van dieselfde ouderdom te verkrag. As hulle gevra word waarom, antwoord hulle, “Ek het dit op ‘n video gesien wat my pa en ma het.”
  • Daar is nou meer as 300,000 pornografiese webwerwe op die Internet. Hierdie webwerwe bevat die mees veragtelike, goddelose beelde wat die mensdom nog ooit gesien het. Die ergste van alles is, dat jong kinders op hierdie webwerwe afkom. Hulle ontvanklike gedagtes word blootgestel aan beelde wat hulle skend en benadeel vir jare daarna.
  • Homoseksuele huwelike word nou algemeen. Sommige koerante het berig reeds oor gay pare in hulle huweliksblaaie. Huidiglik is daar ‘n groeiende aantal primêre skole wat voorberei om ‘n kurrikulum te onderrig “Hoe om die homoseksuele leefstyl te leef.” Jong kinders is op die punt om geïndoktrineer te word in die besonderhede van die homoseksuele lewe.
  • Homoseksuele militantheid het sy weg gebaan tot op hoë vlakke van die kerk. Die Episkopaalse denominasie het onlangs ‘n geswore homoseksueel as ‘n biskop ingelyf. Toe die seremonie afgesluit het, het die nuwe biskop omgedraai en sy manlike minnaar se hand vasgehou.

Satan het die homoseksuele misleiding verder in die kerk ingebring en kinders is weereens die slagoffers. Meer en meer homoseksuele priesters word onbloot en skuldig bevind van molestering van kinders in hulle sorg.

  • Die modewêreld is nie meer net gewaagd nie, maar het begin om ‘n ophef van naaktheid te maak. Dit is ‘n poging om te skok deur ‘n industrie wat homself oorgegee het aan skaamtelose sensualteit. Maar Satan se bedoeling is om God se mense te beïnvloed, veral jong gelowiges. Dit is ‘n subtiele demoniese neiging wat bedoel is om hulle weerstand teen sensualiteit af te breek.
  • Daar is ‘n heroplewing van wilde drinkery tussen tieners. Selfs Wheaton College, wat vir dekades ‘n heilige standaard gehandhaaf het, laat nou alkohol toe. Die rede? Hulle wil meer geleerde professors lok – bedoelende, meer drinkende professors. Meer Christen kolleges sal sekerlik dieselfde doen. ‘n Hele geslag van gelowige jongmense gaan daar onder ly, omdat hulle tot ongeregtigheid aangehits word, wat hulle andersins nie sou nagejaag het nie.

Beskou hierdie onlangse voorbeelde van Satan se laaste aanslag:

  • ‘n Filmster wat vir goewerneur staan, was geadviseer dat hy kan wen as hy net in een of ander skandaal ontbloot sou word. Hy was vertel dat as hy ‘n buite-egtelike verhouding sou hê, sou dit hom ‘n held maak in die mense se oë. En hy sou toeneem in gewildheid en meer stemme kry.
  • ‘n Rivier van wette word vrygestel in ‘n laaste poging om God se Naam vir altyd van die samelewing te verwyder. Twee V.S. Senators het daardie wetgewing voorgestel. Hulle wet sou die aanstelling van enige regter wat in God glo of enige geloof besit, verbied.

Jy het waarskynlik gelees oor die berugte uitspraak van ‘n V.S. rondgaande hofregter. Hy het die verwydering van ‘n graniet beeldhouwerk van die Tien Gebooie van die gronde van ‘n regeringsgehou in Alabama beveel. In die tussentyd, het die regter sy uitspraak gemaak vanuit ‘n federale gebou wat die standbeeld van Zeus by sy ingang het.

In die eerste plek dink ek dit moet die hart van God verskriklik bedroef. Maar nou glo ek die Here lag oor hierdie nietige pogings van mense. Waarom? Omdat God aan die werk is onder miljoene jongmense, wat sy wet op hulle harte geskryf het. En geen regter op aarde kan dit van hulle af verwyder nie.

Ek wil vir jou wys wat steeds moet kom in hierdie oorlog tussen Christus en Satan. Die Bybel verklaar, “Want Hy volbring ‘n saak en verkort dit in geregtigheid, omdat die Here ‘n saak wat verkort is, op die aarde sal doen” (Romeine 9:28). God sê in wese, “Ek gaan hierdie oorlog binnekort beëindig. Ek gaan korte mette daarmee maak.”

Jy mag wonder, “So, waarvoor wag God? Waarom het hy nie voor nou opgetree nie? Ons het duidelik ‘n kritiese punt bereik. Waar is God se magtige hand?”

Jakobus gee vir ons die antwoord: “Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit alle vroeë en laat reën ontvang het” (Jakobus 5:7). Kortliks: Jesus wag geduldig vir siele. Hy wag vir die laaste van die oes om ingebring te word.

Die meeste Bybelskoliere glo die “vroeë reën” waarna Jakobus verwys, was Pinkster. Wat die laat reën betref, ek glo ons sien dit huidiglik. Wat beter beskryf God se laat reën as ‘n florerende ondergrondse kerk van miljoene in Kommunistiese Sjina? Hierdie liggaam van gelowiges het wonderbaarlik oor ‘n paar dekades gegroei. In die jare rondom die Tweede Wêreldoorlog, toe die laaste sendeling Sjina verlaat het, was die kerk daar ‘n klein, sterwende beweging. Toe, deur God se Gees alleen, het dit op een of ander manier ontplof van ‘n handjievol van geïsoleerde selle tot ‘n magtige werk waarvan die wêreld nooit geweet het nie.

Wat van die val van die Ystergordyn? Niemand het verwag om te sien hoe Kommunisme gedurende ons leeftyd val nie. Tog het God dit oornag laat gebeur. Op dieselfde dag wat ek hierdie boodskap skryf, het die New York Time berig dat Rusland se regering nou op morele gronde teen aborsie is.

Selfs geharde Islamitiese nasies sien hierdie laat reën van die evangelie. Satelliete saai nou hierdie goeie nuus in Islamitiese lande uit deur radio en TV boodskappe. Toe ‘n evangelis ‘n byeenkoms in Pakistan gehou het verlede jaar, het oor die 50,000 mense opgedaag.

Ja, die laat reën het gekom. Die hele wêreld word gevul met die goeie nuus van Jesus Christus. So, wanneer kan ons verwag dat die Here optree?

Jesus vertel vir ons, “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matthéüs 24:22). Hy sê in wese, “Niemand weet die dag of uur van my wederkoms nie. Maar Ek gaan dit verhaas.”

Kyk weer na Paulus se stelling: “Omdat die Here ‘n saak wat verkort is, op die aarde sal doen” (Romans 9:28). Die Griekse stamwoord van “kort” hier beteken “een vinnige slag.” God sê in wese, “Ek gaan vinnige werk doen. Ek sal geduldig wag vir die oes om klaar te kry. Maar dan sal Ek vinnig inbeweeg met die oordeel.”

Skielik, oornag, sal ons oordele sien wat ons nog nooit voorheen gesien het nie. Dit sal binne ‘n uur gebeur wanneer ‘n diepe duisternis die aarde bedek...wanneer Islam groot mag en gesag gegee word...wanneer die dier en die Antichris opgestaan het om groot lasterlike woorde te spreek...wanneer dit lyk of Satan alles wat heilig en regverdig is oorwin het...wanneer spotters die dag van Christus se koms bespot...wanneer plesiermalligheid sy toppunt bereik het en die wêreld se sondes tot teen die hemele opgestapel het.

Dit is die oomblik wanneer ons die Leeu van Juda sal hoor brul. Binne ‘n oomblik, sal Hy die oorlog beëindig. Hy sal verklaar, “Genoeg. Geen verskonings meer vir sonde nie.”

Johannes het die dag vooruit gesien waarin die Here met spoed sou kom om hierdie kort werk op aarde te doen. Hy beskryf dit as volg:

“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in vloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.

“En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: die KONINGS VAN DIE KONINGS EN DIE HERE VAN DIE HERE” (Openbaring 19:11-16).

Hier in New York vra die mense dikwels, “Waar was jy toe 9/11 toegeslaan het?” Of, “Waar was jy toe die ligte afgegaan het in die groot kragonderbreking?” My vraag vir jou is: “Waar sal jy wees wanneer Jesus kom? Wat sal die toestand van jou hart wees wanneer die Koning van die konings vinnige werk maak van die oordeel? Wat sal jy doen wanneer Hy kom om die oorlog te beëindig?”

Mag ons almal gevind word onder sy kosbare bloed, verborge in die skeur van die Rots.