OORGAWE: TERUGGEE AAN JESUS

David Wilkerson (1931-2011)

Oorgawe. In letterlike terme, beteken oorgawe om iets oor te gee aan ‘n ander persoon. Dit beteken ook om iets wat aan jou gegee is, te laat vaar – jou besittings, mag, planne, selfs jou eie lewe.

Christene hoor baie van die oorgegewe lewe, maar wat beteken dit werklik? Die oorgegewe lewe is die daad van teruggee van die lewe wat Jesus aan jou geskenk het. Dit is om jou lewe heeltemal oor te gee in sy hande om met jou te doen soos Hy wil.

Jesus self het ‘n oorgegewe lewe geleef: “Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het” (Johannes 6:38). Christus het nooit iets uit sy eie gedoen nie; Hy het geen daad gedoen en geen woord gespreek sonder dat Hy deur die Vader geleer was nie. “Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek. En Hy wat My gestuur het, is met My: die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is” (Johannes 8:28-29).

Jesus se volkome oorgawe aan die Vader is ‘n voorbeeld van hoe ons almal behoort te lewe. Jy sal dalk sê, “Jesus was God in die vlees; sy lewe was oorgegee nog voor Hy aarde toe gekom het.” Maar die oorgegewe lewe word nie op iemand afgedwing nie, insluitend Jesus.

Niemand word gedwing om sy lewe aan God te gee nie. Trouens, ons kan soveel van Christus hê as wat ons wil hê. Die apostel Paulus het dit geweet en hy het gekies om Jesus se voorbeeld te volg van ‘n volkome oorgegewe lewe. Voorheen ‘n eiegeregtige Jesus-hater en vervolger van Christene, het hy gesê hy haat Christus se volgelinge letterlik. Hy was goed opgevoed, ‘n man van sterk eiewil en ambisie, op pad na sukses. Tog het die Here hierdie selfgemaakte, selfbeskikkende, selfgeleide man geneem en hom ‘n stralende voorbeeld van die oorgegewe lewe gemaak. Paulus het een van die mees God-afhanklike, God-gevulde, God-geleide mense in die hele geskiedenis geword.

Paulus het gesê sy lewe is ‘n voorbeeld vir almal wat begeer om ‘n lewe te leef wat volkome oorgegee is aan Christus: “Daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ‘n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe” (1 Timótheüs 1:16).