Oordeelsdag

David Wilkerson

Die apostel Paulus was een van God se getrouste dienaars. En ek glo daar was drie belangrike motiverings agter Paulus se getrouheid: hoop, liefde en vrees.

Paulus het ‘n geseënde hoop van ewige lewe gehad wat hom tot getrouheid gemotiveer het. Hy het ook ‘n groot liefde vir Christus gehad. In 2 Korinthiërs 5:14 sê hy, “Die liefde van Christus dring ons” – wat beteken, dit dring hom om getrou te wees aan God.

Maar Paulus se getrouheid was ook gemotiveer deur iets anders: die eerbiedige vrees vir die uur waarop hy voor die Regter van die wêreld sou staan op die Oordeelsdag!

Vandag, het die oorgrote meerderheid Christene slegs die eerste twee motiverings. Omtrent elke gelowige maak daarop aanspraak om die hoop van die ewige lewe te besit. En baie sê in alle opregtheid, “Ek weet ek het Jesus lief met my hele hart.”

Maar die waarheid van ‘n naderende oordeelsdag is die eintlike ding wat ernstige, goddelike gelowiges produseer. Diegene wat dit uit hulle gedagtes uithaal is gewoonlik koud, roekeloos en swak. Maar die feit bly staan, een of ander tyd baie gou, sal elke persoon wat ooit gelewe het, versamel word by die plek van oordeel – om geoordeel te word deur Jesus Christus: “Want ons almal moet voor die regterstoel van Christus verskyn” (2 Korinthiërs 5:10). “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Romeine 14:12).

Op hierdie oomblik, staan legioene engele gereed vir Jesus se bevel om uit die uithoeke van die aarde, beide die goddeloses en die regverdiges te versamel: “Die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen” (Matthéüs 13:41).

Al die rykes, beroemdes en magtiges van alle eeue sal gebring word om voor Hom te staan: “En die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:15-17).

‘n Beroemde aktrise praat voortdurend van reïnkarnasie. Sy maak daarop aanspraak dat sy baie lewes tevore geleef het, en dat wanneer sy sterwe, sy sal terugkom aarde toe in ‘n ander liggaam.

Watter angs wag op haar en haar volgelinge! ‘n Engel van die Here sal na die grafte gestuur word, en liggaam en siel verenig – en hulle sal skielik ontdek daar is nie nóg ‘n aardse lewe nie! In plaas daarvan, sal hulle deur die Regter gelas word na die laaste hof – ‘n hof met geen appélle nie. En die engiste lewe na die dood sal ewige verdoemenis wees vir almal wat Hom verwerp het.

Die engele sal inderdaad al die “onkruid” – die sondaars en die goddeloses versamel – en “bind dit in bondels om te verbrand” (Matthéüs 13:40:30). Hulle sal nie gewillig kom nie, maar met geween, gekerm en gekners van tande.

God hou boek van elke lewende siel sedert Adam!

God het elke passie en motief van elke mens opgeteken – elke gedagte, woord en daad. Die motiewe van die Christen word ingeskryf in ‘n “gedenkboek,” wat die Boek van die Lewe is. En op die dag van oordeel, sal Christus almal wat in hierdie boek is in herinnering bring:

“Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer. En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man medelyde het met sy seun wat hom dien” (Maleági 3:16-17).

As jy Jesus liefhet met jou hele hart en jy gereinig is deur Sy bloed, dan is jou naam geskryf in Sy gedenkboek. Sulkes hoef nie hierdie boodskap te vrees nie; dit moet in werklik blydskap tot jou hart bring as jy alles sien wat God beplan het vir dié wat Hom liefhet!

Maar daar is die Boek – en daar is boeke. Die Bybel sê elke lewe het sy eie boek, ‘n opgawe van ‘n hele leeftyd op aarde:

“En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het...En ek het die dode, klein en groot voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hule is geoordeel, elkeen volgens sy werke” (Openbaring 20:11-13).

Die bose en goddeloses sal geoordeel word deur alles wat in daardie boeke geskryf staan – een vir een, voor die Regter van almal!

Die Skrif sê elke persoon sal ‘n opstandingsliggaam hê in daardie tyd. Die sondaar sal ‘n liggaam “vir die verderf toeberei” hê (Romeine 9:22). Maar vir die goddelikes sal ‘n nuwe liggaam gegee word, soos die Here s’n! En wanneer die oordeel verby is, sal die Lam van Sy troon af opstaan en Sy kudde in die ewige paradys inlei.

Voor die Regter dit egter doen, sal Hy ons roep om aan Sy sy te sit terwyl Hy die goddeloses oordeel: “Aan Hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Openbaring 3:1). Jesus gaan vir ons sê, “Kom – sit aan My regterhand terwyl die oordele voortgaan!”

Probeer jou die toneel indink wat plaasvind wanneer die oordeel begin!

Hitler krimp ineen van doodsangs terwyl die Regter vir Sy engele beveel om die lys van name te lees van elke Jood wat hy vermoor het. Sesmiljoen name – dié van elke man, vrou en kind wat hy doodgemaak het! Elke skreeu sal oorgespeel word, elke kreet uit die oonde weer gehoor word. Al sy handlangers sal deel in sy vrees.

Volgende kom die leër van aborsie dokters en verpleegsters, saamgebondel voor die Regter. Hulle luister en ril terwyl die name van miljoene baba’s gelees word. God het ‘n naam vir elkeen – omdat hulle volgens die Skrifte opgenoem is van die ewigheid af (sien Jeremia 1:5)!

Elke kreet vanuit die baarmoeder sal oorgespeel word – en die dokters wat daardie moorddadige dade gepleeg het, sal moet staan en elke skreeu verduur. Elke moeder wat toegelaat het dat haar kind doodgemaak word, sal die lewe wat God vir die kind beplan het, gewys word – en hoe haar baba beroof is van daardie lewe. Die Regter sal dit alles openbaar!

Dan sal daar dié wees wat hulle saligheid verwaarloos het (sien Hebreërs 2:3). Hulle staan in groot skok en glo nie hulle word onder die oortreders getel nie. Luister na hulle geskreeu:

“Ons het kerk toe gegaan en tiendes gegee. U Naam was oor ons uitgeroep. Ons was nie boos nie!” Maar die Regter sal sê: “al (julle) geregtighede [is] soos ‘n besoedelde kleed” (Jesaja 64:6). Ander sal sê, “Ons het duiwels uitgedryf, die siekes genees. Ons het magtige dade in U Naam gedoen!” Maar die Regter sal antwoord, “Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid” (Lukas 13:27).

‘n Engel sal tussen hulle staan, en vir hulle die Skrifte herhaal wat hulle tydens hulle leeftyd gehoor het: “jy het glad nie ernstig ag gegee op die dinge wat jy gehoor het” (sien Hebreërs 2:1). “Hoe sal ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het...?” (sien Hebreërs 2:3).

Ook voor die troon staan baie ander gesigte wat ek kan onthou. Ek ken nie hulle name nie; en onthou slegs die haat wat ek op hulle gesigte gesien het – en die verskriklike lastertaal wat by hulle lippe uitgestroom het:

Daar is die gesigte van drie lesbiërs wat na my staar voor ‘n kantoorgebou in Manhattan. Operasie Redding het voor ‘n aborsieplek betoog. En daardie drie meisies het vloekend en skreeuend toegekyk. “Kry julle Christus-gemors van die strate af. Vat julle Jesus en kruip terug in julle gate in!”

Daar is die gesig van die aborsie dokter – die man wat ‘n fortuin gemaak het deur die ongeborenes te vermoor. Hy het sy vuis geswaai teen die betogers, die are in sy nek het gebult, haat het oë gevul. Hy het geskreeu, “Ek sal julle kry – Ek sal julle dagvaar! Julle sal hiervoor betaal!”

Daar is die gesigte van opdringerige homoseksuele wellus, wat verby Columbus Sirkel geparadeer het tydens New York se “Gay Pride” optog twee jaar gelede. Ek het gekyk hoe sowat 250,000 homoseksuele aktiviste verbygemarsjeer het. En net die sien van een wat ‘n Bybel dra, het ‘n koor van bespotting daarmee saam gebring: “Jesus was gay! God is gay! Ons is hier, ons is homoseksueel, en ons is agter julle kinders aan!”

Dit was nie die lasterlike plakkate of die ongelooflike arrogansie wat my gevang het nie. Dit was die haat vir Christus – die kyk wat sê dat as Jesus daar was daardie dag, hulle Hom met blydskap aan die naaste boom in Central Park sou vasspyker!

Hier was hulle egter almal voor die regterstoel, saamgebondel in een groep – verlam deur angs en vrees! Dit is die dag van God se toorn en wraak. En nou, terwyl elke boek oopgemaak word en elke vuil daad hardop genoem word, wat het van hulle geswets geword! Waar is al die blatante lastering, die bespotting van heilige dinge? Waar is hulle geskreeu?

Ek het by Yale Universiteit gepraat nie lank gelede nie, en ‘n groep gay aktiviste het ingekom en plakkate gedra met die doel om die byeenkoms te ontwrig. My preek het gegaan oor die hel – en terwyl ek gepraat het, het ‘n Heilige Gees stilte oor daardie plek gekom. Die stilte was so oorverdowend dat een beriggewer gesê het, “My potlood het geklink asof dit ‘n geraas maak.”

Daardie betogers kon nie beweeg nie – hulle was verlam! En op daardie oomblik, het ek ‘n idee gekry van hoe dit vir hulle gaan wees om voor Jesus se troon te staan op die Oordeelsdag.

Die Skrif verklaar, “Daarom sal die goddeloses nie bestaan in die oordeel...nie” (Psalm 1:5). Kyk nou na die ander wat bewe voor die oordeelstroon: Regters wat toegelaat het dat ongebore baba’s vermoor word. Ateïs kollege professors wat ‘n hele geslag gevul het met afvalligheid en haat vir Christus. Leuenagtige politici wat gebed en God van ons samelewing verwyder het. Goddelose presidente, diktators en bendeleiers. Akteurs en filmmakers wat Christus gelaster het. Kunstenaars wat Sy Kruis uitgebeeld het in ‘n vaatjie van uriene. Bankiers, besigheidsmense, die rykes, die eens trots en magtiges wat geen tyd vir Hom gehad het nie. Wat sal hulle nou doen?

Daar staan hulle en luister, terwyl hulle op hul beurt wag. En die engel van die Here roep uit tussen hulle, “Weet dan dat julle sonde julle sal uitvind!” (Númeri 32:23).

Die Regter sal getuies inroep!

Die Regter, Jesus Christus, is getrou – en Hy sal Sy getuies voortroep. Hulle sal óf vir óf teen jou getuig:

1. Die eerste getuie is die Woord van God self: “Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag” (Johannes 12:48).

Vir elke preek of evangelie lied ooit gehoor, elke Bybelvers of traktaatjie ooit gelees, moet rekenskap voor gegee word. Jesus sê, “Elke woord wat Ek tot julle gespreek het, sal jou oordeel op daardie dag. My Woord sal die getuie wees!”

2. Getuies sal opstaan soos die mans van Ninevé, die mans van Sodom en die koningin van Skeba.

Jesus sê, “Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en – meer as Jona is hier. Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en – meer as Salomo is hier” (Matthéüs 12:41-42).

Wanneer jy voor die Regter staan en jou boek word oopgemaak, sal die groot menigtes van Ninevé vorentoe kom. Diegene wat in die slagting van Sodom en Gomorra omgekom het, sal ook vorentoe kom, so ook hulle van Tirus en Sidon. Hierdie goddeloses sal rondom vergader, en met ongeloof gevul wees as hulle hoor van die lang lys geleenthede wat jy gehad het om die Woord van God te ontvang: Bybels, radio, TV leraars, getuies, vriende, familie.

Hulle sal uitroep, “Hierdie man se oordeel behoort erger te wees as ons s’n! Hoe kon hy so baie geleenthede verwerp het en so ‘n kragtige lig verloën het? Ons het geen Bybel gehad nie, geen voortdurende herinnerings nie, geen tweede kans nie. Maar hy het dit alles gehad!”

Jesus sê Sodom sou hom bekeer het as hulle gehoor het wat jy gehoor het: “Want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe” (Matthéüs 11:23). Die mans van Sodom sou in sak en as gesit het as hulle selfs net ‘n deeltjie gehoor het van die evangelieverkondiging wat jy gehoor het!

3. Predikers en herders sal vorentoe geroep word as getuies: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matthéüs 24:14).

Ons, herders, sal moet staan en getuienis aflê dat jy die huis van God bygewoon het. Jy het die getuienis gehoor van die verkondigde evangelie. En ons moet voor die Regter van alle mense elke waarheid wat jy gehoor het, bevestig – óf vir jou óf teen jou.

Miskien sal die mees tragiese siele voor die Regter, dié wees wat die Bybel die “slegte en luie dienskneg” noem.

Hulle was die diensknegte – menende,  hulle het self die Naam van die Here oor hulle uitgeroep.

Terwyl ek voorberei het vir hierdie boodskap, was dit die een groep wat my siel die meeste bedruk het. Jy sien, die “slegte en luie dienskneg” is die een wat sy talent “weggesteek” het. Hy was te lui om sy lewe en tyd in God se belange te belê, en hy het “lui” geword in die dinge van God. Dit was die besige man of vrou wat na God se huis gekom het een keer per week om ‘n skyn van godsdiens te hou.

Hier is wat die Here egter sal sê van lukrake, halfhartige diens aan Hom:

“Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie...Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het...En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande” (Matthéüs 25:26-27,30).

Watter geween en gekerm sal daar wees wanneer die slegte en luie dienskneg se boek oopgemaak word! Die Regter sal vir die wêreld wys hoeveel tyd en moeite hy spandeer het om geld te maak, persoonlike sekuriteit te soek, bankrekenings op te bou, hom bekommer het, sy familie geïgnoreer het, God vergeet het en die samekoms van die gelowiges versuim het.

Op daardie dag, sal God die rekord van elke verwaarloosde kerkbyeenkoms, elke lui en selfgesentreerde aktiwiteit na vore gebring word. Dan, reg voor die dienskneg se oë, sal alles verskyn waarvoor hy ‘n leeftyd deurgebring het om te versamel: huise, karre, meubels, bote, klere, juweliersware, aandele en effekte.

Skielik, spring daar ‘n vonk uit die Regter se oë – die vonk van ‘n Minnaar wat vermy is – en dit steek alles aan die brand soos ‘n waterstofontploffing! Voor die Regter staan ‘n engel, en in die engel se hand is ‘n hoop stof. Die Here sal na die slegte dienskneg draai en sê, “Dit is wat jou leeftyd van besigheid op neergekom het! Ek het jou nodig gehad en het jou geroep, maar jy het My verwaarloos. Jy het so min van jou tyd aan My bestee, totdat jy My heeltemal uit jou lewe uitgedruk het. Jy het jou lewe vermors vir ‘n handjievol stof – maar jy was gewaarsku dat dit sou alles brand soos gras in ‘n oond!”

O, die bittere spyt wat daar op daardie dag sal wees vir ‘n man wat nou geen tyd vir God het nie! Hy woon die verpligte Sondagoggenddiens saam met sy vrou en kinders by, omdat dit die “Amerikaanse manier” is. Maar hy het geen hart vir God nie! Jy sien hom nooit in ‘n gebedsbyeenkoms of waar hy ware gemeenskap geniet met die gelowiges, deur te bemoedig en bemoediging te ontvang in die Here, soos die Woord beveel nie.

Op die Oordeelsdag, sal die Regter egter sê, “Neem daardie slegte en luie dienskneg en smyt hom uit My teenwoordigheid uit! Sy hart is nie by My nie; dit was nog nooit. Hy het sy eerste liefde lank gelede al verlaat. Hy het My nie die Liefhebber van sy siel gemaak nie. Andersins, sou Ek in sy gedagtes gewees het elke oomblik wat hy nie geslaap het nie – in sy besigheid, sy familie, al sy doen en late. Hy sou My belange eerste gestel het in alles!”

O, wie sal nie bang wees op daardie groot dag van oordeel nie?

Wat Oordeelsdag vir die seëvierende kinders van God beteken?

Die eerste ding op die Regter se agenda, sal wees om Sy skape van die bokke te skei. Hy sal nie toelaat dat Sy regverdiges saam met die oortreders getel word nie. In plaas daarvan, sal Hy Sy engele roep om Sy trop te versamel aan Sy regterhand:

“En voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Matthéüs 25:32-34).

Die Bybel is baie duidelik dat diegene wat in Christus gebly het en uitsien na Sy verskyning, vrymoedigheid en vertroue sal hê op daardie dag:

“En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie” (1 Johannes 2:28). “Hierin het die liefde by ons volmaak gewond, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld” (1 Johannes 4:17).

Hoe kan jy so ‘n vrymoedigheid hê op die oordeelsdag – soveel blydskap en vertroue? Dit kom slegs deur die Regter te ken – as jou vriend, broer, verlosser-familielid, Here, Hoëpriester, versoener, advokaat, voorbidder, die liefde van jou hart – jou hele lewe!

Daar is ‘n toets wat sal wys of jy gereed is om na die oordeel te gaan as skaap of nie – met blydskap, vertroue en vrymoedigheid. Die Bybel sê, “Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie” (1 Korinthiërs 11:31). Is jy gewillig om die toets te neem – en jouself te beoordeel?

As jy gewillig is, vra jouself hierdie drie vrae:

1. Verlang en smag jy na die koms van die Here? Sien jy uit na Sy koms? Smag jy na die dag waarop Hy sal verskyn?

“Terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:13). “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Timótheüs 4:8).

Hierdie wêreld is nie ons tuiste nie. Maar ek vra jou: Plant jy jou wortels? Of trek jy jou wortels uit en bid, “Jesus, hou my hart waaksaam!”

“Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas.... Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Petrus 3:12,14).

Jesus het gesê, “Dryf handel daarmee totdat ek kom” (Lukas 19:13). Ons moet almal voortgaan met ons daaglikse lewens en werk. Maar in elke uur wat ons nie slaap nie, moet ons harte roep, “Amen, ja kom, Here Jesus!” (Openbaring 22:20).

2. Het God se vyande jou vyande geword? Is jy betrokke in die oorlog teen diegene wat God teëstaan? Het jy Sy stryd teen die vlees, die wêreld en die duiwel opgeneem? Of het jy die stryd in die hande van ander lede van Christus se liggaam oorgegee?

As jy voor die wêreld gaan staan en God se vyande op die Oordeelsdag oordeel, moet jy hulle ook nóú jou vyande maak. Dawid het gesê, “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ‘n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my” (Psalm 139:21-22).

Ja, Jesus het gesê ons moet ons vyande liefhê. Maar wat van Sý vyande – diegene wat Hom haat, Sy genade en barmhartigheid weier, en Sy naam belaster en dit deur die stof sleep? Ons moenie mense haat nie – maar ons moet die sonde haat wat in hulle harte is en in die demoniese magte wat hulle beheer. Ons moet die boosheid haat wat in die wêreld is!

Jy sê egter in jou hart, “Hierdie wêreld was nog altyd boos, en dit gaan net erger word. Maar wat gaan dit my aan? Ek sal net my kleed rein hou voor God.” Nee – jy kan nie! Ons is almal betrokke in ‘n stryd, in ‘n oorlog! Die poorte van die hel kom teen die kerk van Jesus Christus in hierdie laaste dae soos nog nooit tevore nie – en jy kan nie neutraal bly nie!

God vaardig ‘n oproep uit: “Wie sal vir My optree teen die kwaaddoeners” (Psalm 9:16). En wanneer die Oordeelsdag kom, wil ek saam met Paulus sê, “Ek het die goeie stryd gestry!” Ek wil in die stryd doodgaan – op my knieë wees, vol heilige haat teenoor sonde in my lewe en in die wêreld.

3. Het jy nie ‘n gewoonte daarvan gemaak om van die huis van God af weg te bly nie? “En laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:25).

Dit is nie toevallig dat die volgende vers in hierdie gedeelte verwys na “opsetlike sonde” nadat die waarheid geopenbaar is nie. Dit is inderdaad ‘n bewese historiese feit: Mense word meer roekeloos en nalatig net voor oordeel en ramspoed!

Nog altyd, voor enige samelewing heeltemal buite beheer tol, wend mense hulle tot sekuriteit, geldmaak, plesiere – alles behalwe God. En op die laaste oomblik, word dinge erger: Gelowiges begin die huis van God te verwaarloos. Paulus waarsku ons: “Nou dat die dag vinnig nader kom, maak seker dat jy nie julle nie die samekoms van julle gemeente verwaarloos nie, soos so baie gedoen het nie! Dit is nie nou tyd om weg te drywe of om weg te bly van God se huis af nie. Dit is tyd om byeen te kom saam met ware oorwinnaars!”

As jou kerk op Sondae niks meer is as ‘n TV program nie, dan geliefde, kom jy nie byeen met ander gelowiges nie.

Jy kry of gee nie bemoediging soos God beveel nie!

Wat is die oordeel anders as die finale byeenkoms van Sy gemeente? Sal jy daar wees – getrou, afwagtend, gewillig en met blydskap? Die Here ken diegene wat Hom so liefhet dat hulle dit nie kan verdra om weg te bly van Sy liggaam af nie. Ek sê vir jou, die boeke sal oopgemaak word op daardie dag – en die Regter hou ‘n boek op hierdie oomblik!

Het jy die toets geslaag?

As jy in jou hart weet dat jy nie gereed is om voor Jesus te staan nie – en daardie tyd kom baie vinnig nader – dan moet jy rekenskap gee van wat ek hier geskrywe het. Hierdie een boodskap is genoeg om jou tot ewige hel te verdoem as jy dit verwerp. Dit sal as ‘n getuienis voor jou staan op die Oordeelsdag!

Het jou belangstellings – jou werk, jou besittings of selfs jou bediening – vir jou belangriker geword as die Here se belange? Het jy jou familie verwaarloos? Is jy tevrede omdat jy kerk toe gaan op Sondag en sê, “Ek het my deel vir God gedoen”? God se Woord aan jou is duidelik: Dit is nie genoeg nie!

As jy jouself beoordeel het en tekort geskiet het, bid dan die volgende uit jou hart uit:

“Jesus, ek het U nodig. Ek het nodig om deur U vergewe en liefgehê te word. Ek bely al my sonde en hardnekkigheid. Ek het U Here verwaarloos – ek het U nie eerste gestel nie. En van hierdie dag af, maak ek U my lewe – my alles.

“Verteer my, Jesus. Amen.”