Onverhinderde Toegang tot die Vader

David Wilkerson (1931-2011)

“Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek” (Johannes 8:28). Toe Christus op die aarde bedien het, het Hy volle toegang tot die Vader geniet. Hy het gesê, “Ek kan niks uit Myself doen nie. Ek doen net wat die Vader My sê en wys om te doen” (sien ook Johannes 5:19,30). Verder hoef Jesus nie eenkant toe gegaan het en te gaan bid om die Vader se wil te vind nie. Natuurlik het Hy dikwels en intens gebid, maar dit het oor gemeenskap met die Vader gegaan.

Dit was ‘n ander saak met alledaagse aktiwiteite waar Hy die skares onderrig, genees of duiwels uitgedryf het. Jesus het te alle tye geweet dat Hy in die Vader was en die Vader in Hom. Hy hoef nie “op te gegaan het” na die Vader om te weet wat om te doen nie. Die Vader het reeds in Hom gewoon en Homself bekend gemaak. En Jesus het altyd ‘n woord agter Hom hoor sê, “Dit is die weg... dit is wat Jy moet doen....”

Vandag, word ons dieselfde mate toegang tot die Vader gegee as wat Christus gehad het. Jy mag dink, “Wag ‘n bietjie, dit gaan my verstand te bowe. Ek het dieselfde toegang tot die Vader wat Jesus, die Skepper en Here van die heelal gehad het?”

Moenie ‘n fout maak nie: nes Jesus, moet ons dikwels en vurig bid. Ons moet soekers van God wees en op die Here wag. Maar in ons daaglikse wandel – ons kom en gaan, ons verhoudings, ons gesinslewe, ons bediening – hoef ons nie eenkant toe te gaan om God te smeek vir ‘n woord van krag of leiding nie. Ons het sy eie Gees wat in ons woon. En die Heilige Gees openbaar aan ons die gedagtes en die wil van die Vader. Sy stem is altyd agter ons en ons hoor Hom sê, “Dit is die weg, wandel daarin.”

Die feit oor ons eenheid met Christus was ‘n verborge geheimenis vir die kerk, totdat Paulus op die toneel verskyn het. Die Heilige Gees het Paulus gebruik om hierdie verborgenheid te openbaar en dit is, Christus in jou, die hoop van die heerlikheid (sien Kolossense 1:27).

Geliefde, dit is nie ‘n ingewikkelde saak nie. Vra jouself eenvoudig af of jy Jesus nie net as jou Verlosser ontvang het nie, maar ook as die Here op die troon in die hemel? En aanvaar jy die Here op die troon, in jou lewe? Aan ons is die hemel in ons siele gegee op hierdie aarde. Ons Verlosser Jesus Christus het na ons gekom om ons meer as verlossing te gee. Hy het gekom sodat ons die volheid van die lewe kan hê elke dag.