ONTTRONING VAN JESUS

David Wilkerson

“Want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is . . . trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape” (Kolossense 1:16).

“En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente . . . sodat Hy in alles eerste kan wees” (Kolossense 1:18).

God die Vader het Christus gekroon as Koning oor alle nasies en die hele natuur, en as Here oor die kerk. Paulus sê in wese, “Dit maak nie saak hoe dinge aan die buitekant lyk nie. Alles lyk of dit buite beheer is en dit mag lyk of die duiwel heerskappy oorgeneem het. Maar in werklikheid het God alle dinge onder Jesus se voete gestel. Christus is steeds Koning oor alles!”

Hierdie gedeeltes bewys dat almagtige God Jesus Christus heerskappy oor alles gegee het. Oral rondom ons, sien ons egter dat ons samelewing en regering weier om Christus se gesag en koningskap te erken. Ons verwyder God uit ons skole en howe en ignoreer Hom wanneer ons nuwe wette maak.

Ek glo Amerika se verwerping van Christus se heerskappy is die rede waarom al die bloedvergieting, geweld, rassehaat, morele verval, dwelmmisbruik en die uitbreek van dodelike seksuele siektes in ons samelewing plaasvind. Wetgewers, opvoeders en die media het van God ‘n onderwerp gemaak waaroor nie gepraat word nie.

Erger selfs, Jesus word onttroon in kerke dwarsdeur die land en in die lewens van ‘n menigte van gelowiges. Dit is verstaanbaar dat goddelose mense Christus sal wil onttroon, maar hoe moet dit nie die Here bedroef om Christus onttroon te sien deur diegene wat hulleself met Sy naam verbind!

Omdat God Christus aangestel het om alle dinge vir die kerk te wees, moet ons geen ander bron, verwysing of raadgewer bo Jesus hê nie. Die kerk se hele regering, leiding en raad moet van Hom af kom: “Die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem, Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:5).