ONS VOLKOME VERTROUE

David Wilkerson (1931-2011)

God se kinders het ‘n belangrike vraag wat voor hulle staan in hierdie laaste dae. Glo jy God is in staat om jou deur te dra terwyl die fondamente van die wêreld geskud word? Satan is soos ‘n brullende leeu, en oral is daar verwarring, geweld, en onsekerheid.

Diegene wat op die Here vertrou, en hulle vertroue op Hom rig en vestig, sal stil staan en God se verlossing sien – met harte en gedagtes vol vrede. Hulle sal gerus wees, onaangeraak wees deur geweld en vrees, en slaap sonder om bang te wees vir toestande rondom hulle, terwyl hulle juig met hoop!

Die Here het vir twee blinde mans wat Hom om genade en genesing gesmeek het, gevra, “Glo julle dat Ek dit kan doen” (Mattéüs 9:28). Toe hulle bevestigend geantwoord het, was hulle oë geopen (sien vers 29).

En vandag vra die Here vir ons, “Glo jy dat Ek in staat is om jou te rig en te lei? Glo jy Ek is steeds aan die werk ter wille van jou? Of het jy verborge gedagtes dat Ek jou verlaat en in die steek gelaat het?”

Verskeie verse van die Skrif behoort groot vertroosting en versekering tot ons harte te bring:

  • “Hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word” (Spreuke 29:25).
  • “Die wat op die HERE vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, maar bly tot in ewigheid” (Psalm 125:1).
  • “Vertrou op Hom altyd, o volk . . . God is ‘n toevlug vir ons” (Psalm 62:9).

God se Woord is vol heerlike beloftes vir almal wat op Hom vertrou! Ons wil aanhou dinge doen, dinge prysgee, opoffer, werk en ly. En in die tussentyd, is dit wat Hy die meeste begeer, ons algehele vertroue. Sy Woord is duidelik. God is met niks anders tevrede as ons geloof nie: “Maar sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6).