ONS VADER SE VRYGEWIGHEID

Carter Conlon

Ek onthou van ‘n tyd jare gelede toe ek my middelste seun huistoe geneem het ná ‘n hokkiewedstryd. Hy het ‘n paar baie honger hokkiespelers saam met hom gehad en daarom het ons by McDonalds gestop. Terwyl ek in die tou agter hulle gestaan het, het ek gekyk hoe die seuns voortgaan om die bietjie geld wat hulle gehad het, uit te haal. Skielik het ek gesien hoe my seun na sy twee vriende draai en uitroep, “Sit julle geld weg, ouens. My pa sal betaal!”

In daardie dae, was ek ‘n pastoor op ‘n klein plattelandse dorpie en het skaars genoeg gekry om die elektrisiteitsrekening van ons huis te betaal. Ek het gekyk hoe die seuns hulle bestellings geplaas het – dit was alles “dubbel-dubbel, supergrootte!” Ek het egter nie omgegee dat ek in my brandstofrekeningfonds van die volgende week moes delf nie – daar was geen manier in my hart dat ek my seun in die verleentheid sou stel nie.

Die Skrif sê vir ons, “As julle dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan dié wat Hom vra?” (sien Lukas 11:13).

Ek en jy moet gewillig wees om te roem in ons Vader se vrygewigheid, net soos my seun gedoen het. Maar om daaroor te roem, moet ons dit weet en persoonlik beleef. Ons moet nie net ons harte vir Hom oopmaak nie, maar ons moet ook gewillig wees om saam met Hom te wandel.

Die Vader se milddadigheid word nie geskenk aan diegene wat kies om op die rusbank te sit en televisie te kyk die hele dag nie. Jy moet opstaan en saam met Hom wandel, en wanneer jy dit doen, sal die sluise van die hemel oopgaan en al die hulpbronne wat Christus vir ons verdien het, sal skielik vir ons beskikbaar word. 

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.