ONS SIEN JESUS

David Wilkerson

Paulus het geskryf, “Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Korinthiërs 2:2).

Hy het in ‘n tyd geleef waarin daar vele faksies na links en regs was wat bitterlik gestry het. Paulus het op die konflik gereageer deur te sê, “Ek het niks hiermee te doen nie. Ek is hier vir een doel: om te lewe en te verkondig dat Christus gekruisig is en opgestaan het. As ‘n dienaar van die Here, weier ek om by sulke kwessies betrek te word.”

Paulus was toe gedring om aan Timótheüs die volgende waarskuwing te skryf: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang. Hierdie mense is geveinsdes en leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (1 Timótheüs 4:1-2). Paulus se waarskuwing is baie duidelik: “Mense sal ‘n ander evangelie verkondig.”

Op hierdie oomblik, word ‘n valse Christus gepreek in selfs sommige evangeliese kerke. Hulle Christus vra nie vir bekering nie. Dit is ‘n Christus wat sedeloosheid en homoseksualiteit en huwelike tussen dieselfde geslag omhels. Dit is ‘n Christus wat valse godsdienste aanvaar in die naam van verdraagsaamheid en liefde.

Vandag is die kerk wat ons sien, nie soos dit veronderstel is om te wees nie. Wat is ons reaksie op hierdie wanvoorstelling? Ons sien die ware Jesus – die onveranderlike Christus – wat triomferend oor dit alles staan! Alle ander menslik uitgedinkte evangelies sal nie eens ‘n bietjie vertroosting bring in die uur van nood nie.

Net soos Paulus opdrag gegee het, kan ons nie bekostig dat hierdie kwessies ons aandag aftrek nie. Ons moenie “vervreemd van die opregtheid [toewyding] teenoor Christus” (2 Korinthiërs 11:3) raak nie. Oral rondom ons is die wêreld aan die verbrokkel, maar ons sien Jesus! Ons moet vertrou dat Hy saam met ons in ons pyn, ons lyding, ons krisisse en in alles staan.