ONS MOET GOD DANK

David Wilkerson (1931-2011)

Jona was ‘n profeet wat die goedertierenheid van die Here ten volle verstaan het. Maar hy was ‘n man wat dit nie kon geniet of toeëien nie. In plaas daarvan, het Jona God se goedertierenheid verander in ‘n las vir homself.

God het Jona beveel om na die goddelose Ninevé te gaan en ‘n vinnige verwoesting aan te kondig. Jy sien, die Nineviete was vyande van Israel. Maar Jona het haastig weggehardloop toe hy God se opdrag gehoor het. Wat het hierdie groot reaksie uitgelok? Dit was omdat hy die goedertierenheid van die Here geken het. Jona het aan die Here verduidelik, “Want ek het geweet dat U ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil” (Jona 4:2).

Met ander woorde: “God, U het my beveel om Ninevé te gaan vertel dat hulle net veertig dae oor het voor verwoesting kom. Maar ek kan nie dit doen nie, omdat ek U ken. U het te maklik medelye. Trane en berou maak u hart sag en ek weet wat sal gebeur. Wanneer U die Nineviete sien ween, sal U van plan verander. In plaas daarvan om oordeel te stuur, sal U hulle harte in beroering bring om hulle tot U te bekeer – en ek sal op die ou end soos ‘n dwaas lyk!”

Uiteindelik het Jona na Ninevé toe gegaan, maar slegs in die maag van ‘n reuse vis, wat hom op droë grond uitgespuug het. Jona het God se oordeel aan Ninevé verkondig en die mense het hulle bekeer. Die sonde-verharde Nineviete het geween, gevas, gerou en rouklere aangetrek en dit selfs op hulle diere gesit. Dit was een van die mees wydverspreide herlewings wat ooit in die Bybel opgeteken is.

Tog, te midde van al hierdie dinge, het Jona kwaad geword. Hy was werklik ernstig ontsteld omdat God Ninevé gespaar het eerder as om te juig omdat hulle vrygespreek was. Kortliks, Jona het nie God se goedertierenheid geniet nie.

Geliefde, as God se kinders, mag ons nie waag om dieselfde fout te maak nie. Ons moet God dank vir sy genadige goedertierenheid teenoor ons, sy kerk, en ons land.