ONS LEWE IN GOD VIND

Gary Wilkerson

Ons hoor deesdae baie van die guns van God, en dit is ‘n goeie ding. Sonder die guns van die Here sou ons nie kon asemhaal, staan of ware lewe êrens vind nie. Ons liefdevolle, deernisvolle God wil ons seën met sy wonderbare guns.

Dit is jammer dat hierdie lering van God se guns deesdae deur sommige verdraai word. Hulle gebruik dit as ‘n middel om materiële, fisieke en emosionele seën van God te kry. Dit is tragies – omdat dit die Here verklein tot net nóg ‘n Amerikaanse kommoditeit. Hulle sê vir jou om ‘n bietjie kerkbywoning hier te belê, ‘n bietjie finansiële saad daar te saai en die mag van jou tong te gebruik om jou weg oop te bely na die lewe waarvan jy droom, en – bingo! – jy het guns.

Maar dit is nie God se manier nie. Hy gee baie meer om as dit. As ons alles kry waaroor ons droom, is dit nie guns nie, dit is begeerte. Ware guns word nie gevind in die seën self nie, dit word gevind in die Een wat die seën gee – ons liefdevolle hemelse Vader. Om Hom te soek, is die verlange wat woon in die wese van elke menslike hart. Ons is gemaak om ons lewe in Hom te vind.

God is jaloers, op ‘n regverdige wyse: Hy sal nie toelaat dat Hy gebruik word as ‘n middel om ons begeertes en eie gewin te vervul nie. Hy sal al die afgode wat ons opgerig het in ons harte vernietig sodat Hy alleen oorbly as ons grootste begeerte.

Dit beteken nie dat ons nie God se seën in ons lewens wil sien vloei nie. Uit sy liefdevolle genade en goedheid, verbly ons Vader Hom om goeie gawes aan sy kinders te gee. Sommige leiers verdraai Bybelse leerstellinge in die sogenaamde voorspoedsbeweging, maar dit beteken nie die idee van God se guns behoort weggegooi te word nie. Liewer, dit moet bevry word!

God hou daarvan om ons te seën want Hy is ontsaglik goed. Ek moedig jou aan om Hom bo alles te soek en te sien hoe Hy sy guns op jou uitstort. “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).