ONS KAN NIE – MAAR HY KAN

Gary Wilkerson

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matthéüs 11:28).

Talle mense dink dat Jesus ‘n uitnodiging maak aan menigtes lydende mense in hierdie vers, maar dit is baie méér as ‘n uitnodiging. Hy sê vir ons – beveel ons, in werklikheid – om na Hom te kom, omdat Hy alleen die rus wat ons siele nodig het kan verskaf. 

Is dit ooit vir ons moontlik om op ons eie “na Hom te kom”? Volgens Jesus is dit nie: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Johannes 6:44). Waarom sou Christus ons iets beveel wat ons nie in staat is om te doen nie?

Hier leer Hy ons ‘n belangrike les, wat deurslaggewend is vir die Christelike lewe. Wanneer ons ‘n gebod gegee word, kan ons nie onsself opwen en sê, “Ek kan dit doen. Ek is nét die man vir U, Here!” nie. As ons dit sou doen, is ons in die moeilikheid voor ons begin. ‘n Gebod in die evangelies openbaar ons onvermoë. God doen dit met opset omdat Hy, terwyl Hy Sy wil aan ons openbaar, ook vir ons ons onvermoë wys om dit op ons eie te volbring.

Hoe wonderlik dat Jesus elke onmoontlike gebod opvolg met ‘n belofte. Nadat Hy sê, “Niemand kan na My toe kom as die Vader hom nie trek nie,” voeg Hy onmiddellik by, “en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (vers 44). God sal ons na Homself toe trek, maar Hy sal ons ook opwek in nuwe, opstandingslewe. Nuwe lewe kom slegs deur Hom.

“Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is” (Johannes 3:21, my beklemtoning). Ek hou van hoe die King James vertaling die laaste deel van die vers vertaal: “sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gesmee is.” 

God vorm die werk in ons. Sodra Hy ons onvermoë openbaar, openbaar Hy Sy vermoë en gewilligheid om dit alles te volbring.