ONS HOOP TERWYL ALLES BEWE

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus sê vir ons wat om te doen wanneer ons onheil in die wêreld begin raaksien: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:25-28).

Let op Christus sê, “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op.” Dit suggereer dinge gaan erger en meer intens word. Daarom is dit nou die tyd om ons harte in te stel – om tot die Here te nader – en ons geloof in sy Woord te anker.

Wat is die geloof waarop ons moet staan? Dit is dat die duiwel ons nie kan skade doen nie. Die mees chaotiese nuus kan ons nie skade doen nie. Alle demoon-geleide diktators sal weggewaai word soos kaf en ons sal Christus sien kom in sy heerlikheid. Dit is wat ons in staat stel om in goddelose tye te kan sê, “Lewe of dood, ek is die Here s’n. Hy is soewerein oor alles wat rondom ons gebeur.”

Te midde van hierdie wêreldwye “skudding van alles,” waarop is die Here se aandag gefokus? Is sy groot besorgheid die gebeure in die Midde Ooste of gerommel in ander dele van die wêreld? Nee! Die Bybel sê vir ons God se oë is gevestig op sy kinders. “Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag” (Psalm 33:18).

Ons Vader is bewus van elke beweging op die aarde, deur elke lewende wese, en tog is sy blik hoofsaaklik gerig op die welstand van sy kinders. Hy vestig sy oë op die behoeftes van elkeen van ons. “Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep” (Psalm 34:16).