ONS HOOP IN DIE NADERENDE STORM

David Wilkerson (1931-2011)

Niemand wil slegte nuus hoor nie en vandag is die kerk geen uitsondering nie; die Amerikaanse kerk lyk of hulle behep is met ‘n “goed-voel” boodskap. Hierdie gesindheid is algemeen in baie van die boeke en tydskrifte wat ons in Christelike boekwinkels kry. Dit is amper asof ons leiers sê, “Ontspan, God is ons Pappa en ons is sy kinders en ons is gemaak om onsself te geniet.”

‘n Storm kom nader en God wil hê sy kinders moet gereed wees. Dit sal kom soos ‘n dief in die nag en sal skielike paniek en ongeloof meebring. Jy mag dalk dink, “As rampspoed tref, laat dit kom! Ek is in God se hande, so Jesus sal my deurdra.”

Net voor sy dood en opstanding, het Jesus die vreeslikste storm gesien nader kom. Hy het gesien Jerusalem sou binnekort deur magtige leërs omsingel word, die tempel sou verwoes word, die stad sou tot op die grond afgebrand word en hulle hele gemeenskap sou in duie stort!

Jesus was die verpersoonliking van God se liefde en Hy het geween oor sy samelewing omdat Hy geweet het wat sou kom: “Want daar sal groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matthéüs 24:21-22).

As jy daaraan dink, was Jesus se tyd baie soos ons s’n: vrede, kalmte en voorspoed het geheers. Terwyl Jesus gewaarsku het dat ‘n storm aan die kom was, het Hy gedurig eensame plekke opgesoek om met sy Vader afgesonder te wees. Ten volle oortuig dat sy Vader altyd met Hom was, het Jesus geweet dat Hy in algehele beheer was!

Geliefde, as ons die naderende storm gaan beleef, dan moet ons gereed wees sodat niks ons gees sal ontstel nie. Ons kan dit slegs doen deur tyd in die Vader se teenwoordigheid deur te bring – om met Hom af te sonder totdat ons ten volle oortuig is dat Hy aan ons regterhand is.

In die teenwoordigheid van Jesus vind ons blydskap, hoop en rus – alles wat ons ooit sal nodig hê!