ONS HELPER

Gary Wilkerson

Die Skrif sê die engele kyk af na ons en is verwonderd oor die gawe wat aan ons gegee is. Dink daaraan: Dit is een ding om fisieke genesing aan iemand te bied en dit is 'n heel ander saak om oorvloedige lewe vir hierdie wêreld en verlossing vir die ewigheid te bied. Jesus gee vir ons al die hulpbronne uit die hemel om hierdie Goeie Nuus te verkondig met waarheid en krag:

“En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Johannes 14:13-14).

Wanneer ons hierdie vers lees, dink ons aan die ontsagwekkende skaal van Jesus se wonderwerke. Maar Jesus praat van koninkryk aktiwiteite - verlossing, verandering, oorvloedige lewe. As Hy sê, “Wat julle ook al in my Naam vra,” sal ons versoek openbarend wees. Vra ons vir wonderwerke omdat ons dink dit sal God sigbaar verheerlik? Of vra ons vir koninkryk resultate maak nie saak hoe groot die skaal is nie?

GROTER WERKE

Volgens Jesus is daar slegs een kwalifikasie om die groter werke, waarvan Hy praat, te doen: “Wie in My glo — die werke wat Ek doen, sal hy ook doen” (Johannes 14:12, klem myne). Elke Christen glo, so dit beteken dat ons almal in staat is om die groter werke te doen waarvoor Jesus ons aangestel het om te doen.

'N REIN HART

Maar om daardie werke te doen, moet ons ‘n rein hart hê. Die daaropvolgende ding wat Jesus sê is, “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Johannes 14:15). Ons moet sy Woord gehoorsaam. En as ons harte gereinig is, sal daardie gehoorsaamheid nie teësinnig wees nie, maar dit sal ‘n daad van liefde wees, soos Christus sê.

Is dit vir jou moeilik om God se Woord te bewaar? Jesus se belofte aan jou is:

“En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster (Helper) gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid” (Johannes 14:16-17).

Let op die woord “Trooster” hier,  wat ook vertaal word as “Helper.” Jesus gee vir ons die hulp wat ons nodig het om Hom te gehoorsaam deur sy Heilige Gees.