ONS GROOT BESKERMING

David Wilkerson

Wanneer jy te midde van die stryd is, sal Satan vurige beskuldigings teen jou stuur. Hy sal jou herinner aan al jou vorige sondes, elke duister oomblik en elke dwase ding wat jy ooit gedoen het. Dit is geen wonder dat Paulus sulke beskuldigings “vurige pyle” noem nie (sien Efésiërs 6:16). Die vertaling is “vlammende woede.” Baie heiliges ken die pyn van gemene en kwetsende woorde wat na hulle toe kom vanaf diegene rondom hulle. Sulke ondeurdagte beskuldigings is waarlik vurige pyle van vlammende woede.

Soms mag jy moontlik dink jy is die enigste een onder sulke ernstige aanvalle. In sulke tye voel ons alleen, geïsoleerd in ons lyding. Selfs hulle wat die meeste vir ons omgee, kan skynbaar nie verstaan waardeur ons gaan nie.

Die apostel Petrus herinner ons: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12-13).

Ten slotte, beveel Paulus: “Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus” (Efésiërs 6:16).

Wat presies is die skild van geloof? Dit is ‘n ondeurdringbare harnas wat opgebou word uit die beloftes van God en blink gepoets word met ons geloof. Hierdie skild is ons groot beskerming teen alle duiwelse, pynlike woorde wat teen ons gespreek word. Om dit op te hou teen die vyand se aanslae, is om elke stem van vrees en ongeloof te blus. Dit is ‘n verdediging wat met vertroue kan verklaar, “Duiwel, ek is nie onbekend met jou planne nie. Niks – nie ‘n verblindende pyn, nie wankelende finansies, nie ‘n chaotiese wêreld – kan my van die liefde van God skei nie.”