ONS DEERNISVOLLE GOD

David Wilkerson (1931-2011)

In sy donkerste uur, het Jeremia ‘n heerlike waarheid ontdek wat nuwe hoop en gerustheid in sy gedagtes gebring het. Trouens, hy het reeds hierdie waarheid geken, maar dit het nie sy siel aangeraak totdat hy op moedverloor se vlakte beland het nie. Hy het ontdek dat toe hy op sy laagste punt was – was God daar! “Onder” beteken nie om in ‘n diep afgrond neer te daal nie, dit beteken om dieper in God in te gaan. So, God word in der waarheid nie in een of ander ongestoorde hemel “daarbo”ontdek nie, maar in die skadu’s van droefheid en wanhoop.

Toe Jeremia op sy laagste punt was, het hy hom vasgeloop in God! Hy het hard geval op die getrouheid van ‘n deernisvolle Vader en geleidelik het hy baie diep waarhede besef.

Wanneer jy so bedroef is dat jy skaars nog ‘n dag kan deurstaan, sê God se Woord, “Dit is die goedertierenheid van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot” (Klaagliedere 3:22-23).

As die Here toelaat dat droefheid en smart jou lewe binnekom, sal Hy jou bo hou met oorvloedige deernis, barmhartigheid en liefde (3:32).

God ly wanneer jy ly; Hy is nie teen jou nie en probeer jou nie onder sy voet vermorsel wanneer jy terneergedruk is nie (3:33-34). Wanneer jy op jou laagste punt is, wend jou tot die Here en prys sy naam. “Laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel” (3:41). Dit is wanneer God na jou sal kom en fluister, “Wees nie bevrees nie!” (3:57). 

Jeremia het die boek van Klaagliedere geskryf uit ‘n gebroke hart oor die verwoesting van Jerusalem. Sy krag en hoop het verdwyn; hy was leeg en verneder. Maar hy het sy vertroue volkome in die Here se barmhartighede geplaas en hy kon getuig, “Daarom sal ek hoop” (3:21).

Daar is geen menslike toestand so donker en hopeloos dat God ons nie tegemoet sal kom en hoop gee nie.