Onbevoeg Gemaak deur Sonde!

David Wilkerson

Onbevoeg gemaak – watter skrikwekkende woorde! Dit beteken "ontneem van vermoë of krag om te presteer; ongeskik verklaar, onbekwaam gemaak, nutteloos, lamgelê, gediskwalifiseer."

Volgens God se woord, is sonde die grootste onbevoeg-maker. Dit beïnvloed bedienaars sowel as gemeentelede – dit beroof hulle van alle mag en bruikbaarheid, dit laat hulle droog en leeg en ontneem hulle van alle vermoë om die ewige doelwitte van Christus te vervul.

Toe die profeet Jesaja die koms van Christus en sy koninkryk voorspel het, het hy Christus se ware bedienaars ook beskryf. Deur dit te doen, het hy ons bediening in hierdie laaste dae gedefinieer. Hy het in wese gesê, “Ek wil hê dat julle weet wat die kentekens van die ware mense van God is – diegene wat sou bedien net voor die Vredevors terugkom om te heers!”

Jesaja het met hierdie woorde begin: “Kyk, ‘n koning sal regeer in geregtigheid...” (Jesaja 32:1). Toe het die profeet bygevoeg, “... [‘n man] sal wees soos ‘n toevlug teen die wind en ‘n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ‘n dor streek, soos die skaduwee van ‘n swaar rots in ‘n land wat versmag” (Jesaja 32:2).

Sommige Bybelkundiges glo dat die “man” wat Jesaja hier beskryf, enige gelowige is wat op Christus vertrou. Ek stem nie saam nie. Geen mens kan ooit al drie hierdie dinge wees nie – ‘n skuiling, ‘n versadiger van die dor siel, ‘n betroubare skaduwee of beskermer en ‘n “swaar rots.” Dit maak nie saak hoe heilig of diep toegewyd ‘n gelowige is nie, hy kan nie al drie dinge wees vir alle mense te alle tye nie.

Dit is vir my duidelik dat Jesaja hier van Christus praat. En Jesaja gaan voort om vir ons te vertel dat ‘n ware dienaar van God die algenoegsaamheid van Christus sal verkondig! Trouens, hierdie gelowige sonder homself af saam met Jesus en vertrou sy Here om sy siel ‘n goed besproeide tuin te maak. Hy leef met ‘n stille vertroue en sy gees is gerus en vol vrede. En hy getuig: “Ek het verlang om in sy skaduwee te sit, en sy vrugte is soet vir my verhemelte. Hy het my in die wynhuis in gebring, en sy vaandel oor my was die liefde” (Hooglied van Salomo 2:3-4).

Hierdie ware dienaar van God het geen “storm” wat in sy siel broei weens sonde nie. In teendeel, hy vertrou die Heilige Gees volkome om sy sonde dood te maak, sodat sy gees so vry soos ‘n voël is. Hy het geen vrese of bekommernisse nie, omdat alles uitgeklaar is tussen hom en sy Here. En nou is daar ‘n lied in sy hart – omdat Christus sy verlustiging is!

Verder weet hierdie dienaar dat niemand hom kan seermaak nie – omdat hy vashou aan die sekuriteit en vertroosting van God se belofte om die regverdige te verdedig. Geen wapen teen hom gesmee kan iets uitrig nie – omdat God opstaan teen elke tong wat teen hom uitvaar. God is sy verdediging in ‘n land wat versmag!

Jesaja lig twee dinge uit wat kentekens is van die regverdige dienaar. Eerstens, hy het onderskeiding – en tweedens, hy ken die stem van God duidelik: “Daar sal nie meer verblind wees die oë van die wat sien nie; en die ore van hulle wat hoor, sal luister” (Jesaja 32:3).

Ons sien ‘n voorbeeld hiervan in Jesus se eerste ontmoeting met Nataniël. Toe Christus Nataniël na Hom toe sien aankom het, het Hy uitgeroep: “Hier is waarlik ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie” (Johannes 1:48). Met ander woorde: “Kyk broeders – hier is ‘n man wat geen skynheilige is nie. Daar is geen bedrog in hom nie, geen immoraliteit nie. Hy is ‘n rein werktuig!”

Toe het Jesus na Nataniël gedraai en gesê, “...voorwaar, Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens” (Johannes 1:52). Die Griekse frase hier kom van ‘n stamwoord wat “herhalend” beteken. Met ander woorde, Jesus het in wese vir Nataniël gesê, “God gaan aanhoudende openbarings vir jou oopmaak. Hy sal die hemel herhaaldelik aan jou openbaar!”

Geliefde, net so maak God hierdie verbond met elke bedienaar van die evangelie wie se lewe sonder bedrog is en geen verborge sonde of donker geheime het nie. So ‘n dienaar ontvang ‘n aanhoudende stroom van openbarings van Christus se heerlikheid. En hy tree op as God se orakel – terwyl hy voortdurend ‘n nuwe woord uit die hemel ontvang!

Ek staan dikwels verwonder oor die vars, gesalfde woorde wat ek deesdae hoor van ‘n aantal jong predikers. Ons ontvang talle bandopnames van preke regoor die hele land en soms sal ‘n bandopname so ‘n boodskap bevat. Wanneer ek hierdie soort suiwer visie van Christus hoor, skakel ek dikwels die bedienaar wat gepreek het en vra vir meer bandopnames.

As die man se bandopnames wys dat hy bestendig is in sy visie en boodskap – en ek onderskei dat die hemel herhaaldelik vir hom oopgaan – word ek dikwels gelei om hom uit te nooi om by Time Square Church te kom praat. Trouens, dit is hoe ons ons mede-pastoor, Carter Conlon gekry het.

Sulke dienaars is opreg en eerlik in hulle wandel met God en hulle lewens is oop boeke. Hulle is toegewyd aan hulle vroue en families. En hulle het nie eens ‘n sweempie van ambisie nie. In plaas daarvan, is hulle gelukkig om klein gemeentes te lei en baie ure van die dag alleen in gebed deur te bring.

Hierdie mans mors nie tyd op dwase speletjies of tydverdrywe nie. Hulle verwyl nie hulle tyd voor die TV, of swerf die internet of is verslaaf aan sport nie. Hulle voorkoms is vol van God se Gees. En openbarings van Christus vloei uit hulle soos riviere van lewe!

Ons kerk het ook goddelike ouderlinge op die personeel. Dikwels wanneer ek hierdie mans hoor onderrig gee, skud ek net my kop in ontsag en verwondering, “Waar het hierdie dienaars soveel ontsaglike openbarings van heerlikheid, krag en bekwaamheid in Christus gekry? Hulle het geen teologiese opleiding nie. Tog onderrig hulle suiwer, heilige strome openbaring!”

Soos Nataniël, is daar geen bedrog in hierdie dienaars nie, geen geheime gewoonte, geen sonde wat nie afgelê is nie. Daarom kan hulle God se stem hoor, sien en onderskei. Hulle word nie bedrieg nie – en daarom herken hulle baie duidelik hulle Here se hartklop!

Ek het vir jou Jesaja se beskrywing van goddelike laaste-dag bedienaars uitgelê. Laat ons nou beskou wat Jesaja oor die onbevoegde dienaar van God gesê het – die een wat homself nutteloos maak vir Christus se kudde, omdat hy ‘n boesemsonde herberg. So ‘n persoon word gekenmerk deur drie eienskappe:

Die onbevoegde dienaar se “geestelike oë” is verduister. Hoewel Jesaja in hierdie hoofstuk geprofeteer het oor die goeie dinge wat na bedienaars kom wanneer die Here hulle weer opwek, was die mense waarmee hy gepraat het steeds doof en blind vir die dinge van God.

Matthéüs sê vir ons, “Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” (Matthéüs 6:23). Die Skrif maak dit duidelik: Verborge sondes is “werke van duisternis.” En ons weet uit God se woord dat lig geen gemeenskap het met duisternis nie. Sy lig sal nie opereer in die donker kamers van sonde wat nie afgelê is nie.

Petrus sê vir ons Christus het “...gepreek...vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was...” (1 Petrus 3:19-20). Dit was ongehoorsaamheid wat hierdie siele in ‘n tronk van duisternis gewerp het. Net so, vandag, veroorsaak elke opsetlike daad van ongehoorsaamheid dat die lig van onderskeiding in ons verdonker. Met verloop van tyd word ons persepsie van waarheid verdraai en ons “oop hemel” word vaag.

Die Here ly geweldig wanneer verborge sonde groot duisternis bring oor ons siele. En niks bedroef Hom meer as wanneer ons sy waarskuwings en oortuiging van sonde weerstaan en verwerp nie. Beskou hierdie tragiese gevalle, soos beskryf is in twee briewe wat ons ontvang het:

* ‘n Christen vrou het geskryf, “My man het homself heeltemal oorgegee aan internetpornografie. En ek het hom vir egskeiding gedagvaar en hy gee nie eers om nie.

“Ons was gelukkig getroud vir vyf-en-twintig jaar voor dit alles gebeur het. Ek kon nie verstaan waarom hy so baie tyd toegesluit in sy kamer met sy rekenaar deurgebring het nie. Toe ek eendag daar ingeloop het – was ek geskok oor die verskriklike onreinheid wat ek op die skerm gesien het.

“Hy het ‘n obsessie gekry. Sy persoonlikheid het verander en ‘n gemeenheid het oor hom gekom. Ek het geweet hy was verslaaf. Toe ek gedreig het om hom te verlaat, het hy ingestem om van die rekenaar ontslae te raak. Dit het egter net drie maande gehou. Toe het hy ‘n ander een huistoe gebring en gesê, ‘Ek kan dit nie help nie. Hierdie keer bly die rekenaar. Ek gaan doen wat ek wil.’”

Hierdie vrou het gesê sy het hom vir ‘n egskeiding gedagvaar omdat sy nie meer die man ken met wie sy getrou het nie. Hy wandel nou in duisternis – en voed sy siel op die drek van die hel!

* ‘n Pastoor se vrou het geskryf, “My man het eens saam met jou gewerk, Broer David. Hy was so ‘n goeie man, ‘n ware herder. Hy was lief daarvoor om mense te onderrig en hy het groot deernis gehad vir diegene wat in sonde vasgevang was. Hy het alkoholiste en verslaafdes bedien en mense van die strate af ingeneem. Hy was so goedhartig en bedagsaam.

“Maar toe het hy begin flankeer met pornografie. Binne maande het ek hom gesien verander na ‘n ander man. Hy het verslaaf geword en pornografiese video’s huistoe gebring. Eendag het hy vir my gesê hy sou my verlaat as ek dit nie saam met hom kyk nie. Ek het dit teësinnig gedoen. Maar na twee weke, het ek besef ek was besig om verlei te word deur die video’s. Ek het dit onmiddellik voor God bely.

“My man het egter dieper en dieper in ‘n somber duisternis verval. Twyfel oor God se getrouheid het sy gedagtes oorstroom en hy het ‘n afkeer gekry aan die bediening. Al sy vrug het opgedroog. Op daardie stadium, het hy sy sonde begin regverdig. Sy musieksmake het verander, sowel as sy keuse vir klere. Alles was in wanorde.”

Ek onthou hierdie pastoor as ‘n wonderlike dienaar van die Here. Maar vandag, nadat hy jarelank aan sy wellus oorgee het, het hy sy vrou geskei en met ‘n goddelose vrou getrou – en hy het diep betrokke geraak in die okkult. Tog regverdig hy dit alles! As ek nou aan hom dink, onthou ek Jesaja se waarskuwing: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter!” (Jesaja 5:20).

Die apostel Paulus maak ‘n verskriklike stelling wat hy rig aan diengene wat wandel in die “verdwaasdheid van hulle gemoed” (Efésiërs 4:17). Sulke mense regverdig hulle sonde en soek nie meer verlossing daarvan nie. Paulus sê van hulle: “Mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart” (Efésiërs 4:18).

Hoe het hulle so donker en verblind geword? Hulle is getref deur ‘n geregtelike blindheid, wat kom oor almal wat hulle oorgee aan sonde: “Wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe” (Efésiërs 4:19).

Daar is niks meer hartseer en bejammerenswaardig as ‘n bedienaar wat deur God verblind is nie – ‘n man wat bang is om sonde uit te wys, omdat hy aan sy eie vashou, wat goed kwaad noem en kwaad goed, wat blind is vir die tye en niks anders as ‘n permissiewe genade preek nie.

John Owen, die Puriteinse skrywer, beskryf die tragiese gevolge: “’n Man onder die krag van een of ander oorheersende begeerte is onder valse sekuriteit en onderskei nie die gevaarlike tye nie en hy voer nie sy plig as ‘n wagter uit nie.”

Jesaja het getrou vir Israel geprofeteer dat die “ore van hulle wat hoor” eendag geopen sou word. Maar dit is jammer dat sy hoorders hulle ore vir God se stem gesluit het. Hulle wou aan hul boesemsondes vashou!

“...omdat Ek geroep maar julle nie geantwoord het nie, maar gedoen het wat verkeerd is in my oë en verkies het wat My nie behaag nie. Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan.

“Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar júlle sal skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees. En julle sal jul naam vir my uitverkorenes as ‘n woord van verwensing laat agterbly, en die Here HERE sal jou ombring. Maar sy knegte sal Hy noem met ‘n ander naam” (Jesaja 65:12-15).

Hoe tragies is dit om te weier om die liefdevolle waarskuwings van die Heilige Gees te hoor. Wanneer ons ons ore toesluit vir God se gebod om ons sondes van die vlees dood te maak, is ons verdoem om elke soort hartseer en pyn te ervaar.

Verstaan asseblief – ek praat nie van ‘n dienskneg van God wat oorval is deur ‘n sonde wat hy haat nie. Ook praat ek nie van die gelowige wat homself nie sal toelaat om te rus totdat die Heilige Gees hom vrygemaak het nie. Ek stem hartlik saam met John Owen wat geskryf het, “Nooit in die geskiedenis die mens het God weggedraai van ‘n man wat deur sy sonde verras is nie, wat dag en nag uitgeroep het en wat geen vrede daarmee gemaak het nie."

Ek praat eerder van die gelowige wat geleer het om sy sonde lief te hê – wat sy kop in die skoot van Delila neergelê het. So ‘n persoon se gewete het dikvellig geword. En nou, wanneer hy probeer om God se woord te spreek, doen hy dit op ‘n bedrieglike wyse.

Ek ken baie predikers wat so is. Hulle het die altaar met hulle trane bedek, geroep en gekreun – maar hulle het voortgegaan om hulle vroue te verkul. God waarsku hulle, “Ek sal nie die trane van ‘n skynheilige aanvaar nie. Stop eers jou owerspelige verraad!” (sien Maleági 2:15).

Die dienaar wat voortgaan met sy sondige maniere sal inderdaad stemme hoor – maar nie een van hierdie stemme sal God s’n wees nie. In plaas daarvan, sal daardie persoon oorgegee word aan misleiding: “So sal ek ook hulle ongeluk verkies en wat hulle met skrik vervul, oor hulle laat kom; omdat Ek geroep het, maar niemand het geantwoord nie. Ek gespreek en hulle nie gehoor het nie; maar hulle het gedoen wat verkeerd is in my oë, en verkies wat My nie behaag nie” (Jesaja 66:4).

Wat ‘n verskriklike ding is dit as God nie meer spreek nie! Saul het homself in hierdie droewige, vreesaanjaende toestand bevind. Hier was ‘n eens begaafde, Gees-geleide man van God wat op die ou end totaal afgesny van God se stem geraak het. Die Skrif sê vir ons dat in Saul se laaste dae “...bevrees geword, en sy hart het baie gebewe. En Saul het die HERE geraadpleeg, maar die HERE het hom nie geantwoord nie – nie deur drome en nie deur...die profete nie” (1 Samuel 28:5-6).

Oor die jare, het ek evangeliste in my kantoor verwelkom wat eens magtiglik deur God gebruik is. Jy sou waarskynlik die meeste van hulle by die naam ken. Maar toe ek in hulle latere jare met hulle ontmoetings gehad het, was hulle gevalle manne – verteer deur begeertes wat hulle oorheers het!

Hierdie manne het uitdrukkingloos voor my gesit – leë doppe met die woord “Íkabod” op hulle voorhoofde geskryf: “Weggevoer is die eer van God!” Wat het met hulle gebeur? Hulle het hulle latere jare deurgebring op rusbanke voor die televisie – en daarom het hulle jarelank geen vars woord van God gekry nie. Hulle was nie in staat om selfs ‘n ou boodskap te preek nie. En hulle toe hulle hier by my was, kon hulle nie eens ‘n gebed doen nie.

Jeremia sê van sulke mense: “Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard om nie te luister nie en geen tugtiging aan te neem nie” (Jeremia 17:23). “...hulle hul nek verhard het om nie an my woorde te luister nie” (Jeremia 19:15).

Jesaja praat van Christus wat die hakkeltong genees (sien Jesaja 33:19). Die Hebreeuse woord vir “hakkel” in hierdie gedeelte beteken “’n foutiewe uitspraak.” Dit is die stem van onsekerheid en huiwering – en wat praat van ‘n woord sonder krag of klank van waarheid.

Luister na die profete se somber woorde oor hierdie onderwerp: “Want ‘n dwaas spreek dwaasheid en sy hart bring onheil voort, deur goddeloosheid te bedrywe en dwaling te spreek...” (Jesaja 32:6). Die Hebreeuse woord vir “dwaasheid” hier beteken “’n bose misdaad.” Dit kom van die woord “naba,” wat “domkop, dwaas” beteken.

Jesaja sê in wese vir ons, “Slegs ‘n bose, dwase man probeer God se woord bring terwyl hy homself aan sy sonde oorgee. Sy woorde kom uit as uiterste dwaasheid!” So ‘n man fouteer deur “...dwaling te spreek oor die Here, deur die begeerte van die hongerige onvervuld te laat en die drank van die dorstige te laat ontbreek” (dieselfde vers). Sy eie dwaling mislei op die ou end ander!

Ek treur oor die honderde briewe wat ons kry van Christene regoor die nasie wat sê, “Ek kry ‘n knop in my maag as ek net dink aan kerk toe gaan. My prediker se preke is so oppervlakkig en onbevredigend. Niks wat ek hoor daag my uit of moedig my aan tot heiligheid nie.” Waarom is dit so? Dit is omdat die woord wat die prediker preek nie gesalfde waarheid is nie!

Ek is oortuig dat een spesifieke sonde, meer as alle ander, sulke blatante verdraaiing van die waarheid veroorsaak. Dit is die sonde van ongeloof. En hierdie sonde vier hoogty in baie bedieninge van dag.

God roep die sonde van ongeloof “teruggaan na Egipte”: “Wee hulle wat na Egipte aftrek om hulp...maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hullle soek nie die HERE nie! (Jesaja 31:1). “Wee die opstandige kinders...wat ‘n plan uitvoer, maar dit is nie uit My nie...wat gaan om na Egipte af te trek, en hulle raadpleeg my mond nie...” (Jesaja 30:1-2).

Jesaja was so stomgeslaan toe hy sien dat baie van Israel se leiers op hulle perde geklim en na Egipte gegallop het om raad oor nasionale beleid en sekuritiet te kry. Dit was dieselfde mans wat vir die profeet vertel het hulle het geen tyd gehad om die Here te soek of Hom te raadpleeg nie. Maar God het hulle aksies nie ligtelik opgeneem nie. Hy het dit alles rebellie genoem – en Hy het ellende oor hulle aangekondig!

Vandag het niks verander nie. Menigtes Christene deurkruis die land om seminare en konvensies by te woon met ‘n “Gaan na Egipte” mentaliteit. Hulle netwerk, maak planne, leen wêreldse metodes en verkry vlees-geïnspireerde raad. Kortliks, hulle is op die uitkyk vir enige nuwe ding wat hulle moontlik opgewonde kan maak.

Maar die biddende dienaar wat op heeltemal op God vertrou, het geen tyd vir Egiptiese konsepte nie. Die enigste plek waarna hy gaan is sy afgesonderde binnekamer. En dit is waar hy sy raad kry – op sy knieë!

Die Here het vir ons ‘n wonderlike voorbeeld gegee van sy krag om sy blinde en dowe dienaars weer op te wek en te genees. Die voorbeeld word gevind in die boek van Haggai.

Die Here het twee mans op ‘n sending gestuur om die bouvallige tempel in Jerusalem te herbou. Hierdie twee mans was Serubbábel en die hoëpriester, Josua – twee goddelike leiers wat die Here gehoorsaam het en sy werk uitgevoer het met ywer en getrouheid.

Maar eers moes hulle werk teen swaar teenstand. Groepe afvallige, afgodiese Jode en jaloerse Samaritane het die werk teëgestaan, en het alles probeer om dit te keer. Uiteindelik het hierdie groepe daarin geslaag dat Kores bevel gegee het teen die twee mans se sending. Daarna het Serubbábel en Josua moeg geword vir die stryd – om teëgestaan, belaster en misken te word. So, vir die volgende sestien jaar, het die werk van God nie voortgegaan nie.

Serubbábel en Josua het egter nooit ‘n mandaat van God gekry om op te hou nie. Die Bybel het geen rekord dat Kores hulle werklik verbied het om te bou nie. Daarom moes hulle werk glad nie eers vertraag gewees het nie. Trouens, God het steeds al die mag gehad wat nodig was om hulle te laat voortgaan.

Kores se waarskuwings het vir Serubbábel en Josua ‘n verskoning gegee om op te hou met hulle werk. En gou het hulle al hulle energie daarop toegespits op hulle eie persoonlike gemak. Hulle het net daaraan gedink om vir hulself te voorsien – huise, grond, families, loopbane. Dit is toe alle opofferende bediening opgehou het. Hulle het gedink hulle hoef nie meer ‘n kruis te dra om die las van die Here te dra nie.

In sulke tye, daag Satan altyd op en voorsien ‘n verdraaide teologie om ‘n gekompromitteerde lewenstyl te ondersteun. Die lering in sy geval was: “Dit is nog nie God se tyd nie. Die boodskap van Kores het dit duidelik gemaak. Die Here sal ons laat weet wanneer die tyd reg is om te bou. In die tussentyd, laat ons ons eie eiendomme opbou. Ons moet ons godsdiens geniet!”

Eenvoudig gestel, die mense van Israel – insluitend hierdie twee goddelike manne – was skuldig aan blatante ongeloof. Hulle het al hulle vertroue in God verloor om hulle te lei en hulle te ondersteun!

Ek sien dieselfde gees van ongeloof aan die werk vandag. Predikers het prontuit vir my gesê, “Ek tel die dae totdat ek aftree. Ek het genoeg gehad van mense! Ek wil nie meer met hulle dinge opgeskeep sit nie. Sodra my aftree datum aanbreek, is ek weg!”

Nee! Mag dit nooit die gesindheid van enige ware dienaar van God wees nie! Die Heilige Gees is ‘n lewendmakende Gees – en as jy in die Gees lewe en bedien, sal jy hoe ouer jy word en hoe langer jy bedien, sterker word in alles. Die werk van God behoort om meer opwindend te word met elke jaar wat verbygaan!

Serubbábel en Josua het toenemend doof en blind geword. Hulle het sonde-onbevoeg geword, onbevoegde dienaars wat net na hulle eie belange omgesien het. God was sonder twyfel bedroef en verontwaardig oor hulle. Maar Hy was nog nie klaar met hierdie mans nie!

Net so, geliefde, jy mag dalk pas by die beskrywing wat Jesaja gegee het van ‘n onbevoegde dienaar. Jy mag geteister word deur ‘n boesemsonde wat nie sy greep op jou lewe wil verloor nie. Maar God sien jou hart – en as jy selfs net ‘n sug van berou in jou oor het, kan God jou opwek en vir jou herstel alles wat die sprinkane opgevreet het. Hy is nie klaar met jou nie. Trouens, jou beste dae mag dalk nog voorlê.

Dank God vir die profeet Haggai. Hier was ‘n man van God wat in oorwinning geleef het – iemand wat die gedagtes van God gehad het, in genade gewandel het, en wat die hemel vir hom oop gehad het. Hy het op die toneel gekom en vir Serubbábel en Josua hierdie waarskuwing gegee: “Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê? So sê die HERE van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het” (Haggai 1:4-5).

Dit was ‘n oproep om op te hou om op self te fokus – nie net eie gemak nie, maar ook eie wanhopigheid. Haggai het in wese gesê, “Vergeet die verlede! Dit is tyd om op te staan uit jou traagheid. Ten spyte van al jou sonde, wil God hê jy moet sy werk opneem waar jy opgehou het. Tel nou die werksinstrumente op en kry jou vertroue in die Here terug. Gaan terug na jou geheime binnekamer van gebed – terug na om God te vertrou om jou uit jou sonde te verlos. Gou sal jy weer sy stem hoor!”

Die Skrif sê, “En die HERE het die gees van Serubbábel...en die gees van Josua...en die gees van die hele oorblyfsel van die volk opgewek. En toe het hulle gekom en die werk begin aan die huis van die HERE van die leërskare, hulle God” (Haggai 1:14). Toe het God vir hulle hierdie belofte gegee: “Merk tog op, van hierdie dag af terug...Van hierdie dag af sal Ek seën” (Haggai 2:18-19).

Serubbábel en Josua het weereens ingeloof en geregtigheid gewandel. En nou het die profeet vir hulle die beste woord van almal gebring: God wou die die struikelblok wat hulle byna vernietig het, vernietig! “Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot ‘n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!” (Sagaria 4:7).

Geliefde, dit is waaroor jou huidige beproewing gaan. God gaan jou hart weereens aanraak – en jy sal die voltooiing van jou roeping sien! Die Heilige Gees gaan alle vestings in jou lewe vernietig – nie deur krag nie, maar deur syne. Dan sal jy die pad wat God voor jou uitgelê het voltooi. En, soos Sagaria, doen jy dit terwyl jy roep, “Genade, genade! God was barmhartig en getrou teenoor my!”