ONAFGEHANDELDE SAKE

David Wilkerson

Die Bybel spreek ons pogings om Hom te behaag in ons vlees aan: “Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie” (Romeine 10:3). Om ons eie geregtigheid te probeer oprig, is eintlik ons vlees aan die werk!

Om God te probeer behaag met ons menslike krag, beroof ons van ons blydskap en vrede met Hom. Enige oorwinnings sal kortstondig wees en ons sal weer in die versoeking kom. Die vyand sal aanhou om ons te teister en ‘n gesprek met hom sal moontlik soos volg klink:

Satan fluister, “Wat van die sonde waaraan jy net gister toegegee het? Jy is skuldig!” 

“Nee,” antwoord jy, “Ek het reeds vergifnis daarvoor gevra. Dit is alles onder die bloed en ek het God gevra om my daardie sonde te laat haat om te keer dat ek dit weer doen.”

“Maar jy word steeds versoek.”

“Dit is waar, maar Jesus het vir my ‘n ontsnappingsroete gegee. Sy Woord sê ek sal in staat wees om die versoeking te kan weerstaan en Hy sal my verlos” (sien 1 Korinthiërs 10:13).

Satan hou aan, “Daar is steeds onafgehandelde sake in jou lewe.”

Wanneer die aanklaer “onafgehandelde sake” aanroer – een of ander stryd wat steeds in jou woed – kan jy antwoord met hierdie gedeelte in die Skrif: “Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel” (Kolossense 1:21-22).

Selfs wanneer ons Hom teleurstel, het God ons lief; Hy kom soek ons en versoen ons met Homself. Hy het ons lief, selfs as ons sukkel en deur Christus veroorsaak Hy dat ons vrede met Hom het.