OMDAT ‘N YDELE MAN JESUS ONTMOET HET

Gary Wilkerson

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam...en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God...Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem” (1 Korinthiërs 1:26-31).

Paulus of Saulus, soos hy bekend was vóór sy bekering, het sekerlik baie gehad om oor te roem in die vlees. Hoogs intelligent, was hy ‘n natuurlike leier en het baie talente besit. Gebore in ‘n toegewyde Joodse familie, was hy, toe hy steeds betreklik jonk was, na Jerusalem gestuur om sy opleiding te ontvang by die skool van Gamaliël, een van die mees bekende rabbi’s in die geskiedenis (sien Handelinge 22:3). Hierdie skool was bekend daarvoor om aan sy studente ‘n gebalanseerde opleiding te verskaf, en het waarskynlik vir Paulus ‘n breë blootstelling aan klassieke literatuur, filosofie en etiek gegee.  

Maar Paulus was ‘n gewelddadige, ydele mens tot sy ontmoeting met Jesus. Hy het probeer om te vermag, wat hy beskou het as God se doel, deur menslike wysheid en mag, terwyl hy sy eie krag en begrip aangewend het. Toe hy die lewende Christus ontmoet en die openbaring van die waarheid ontvang het, het Jesus dit vir hom duidelik gemaak wie hy besig was om te vervolg. Na ‘n paar dae van blindheid en tyd om te besin oor wat vir hom gesê was, was Paulus gereed om die waarheid te leer ken oor hierdie Jesus wat hy in onkunde so gehaat het. Hy kon met groot vrymoedigheid sê, “Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Korinthiërs 2:2).

Trotse Saulus het nederige Paulus geword. Hy het met die liefde van Jesus Christus gepraat en ‘n wysheid wat nie sy eie was nie. Hy wou net hê mense moes Jesus ken. Dieselfde behoort waar te wees van ons vandag terwyl ons ons oë gevestig hou op Jesus en sy groot liefde vir diegene rondom ons.